Sy was mal oor foto’s neem en om saam met haar geliefdes vir die kamera te poseer. Kyk jy na ou kiekies van Chanel de Wet, val haar spontane glimlag en die aansteek­like lewenslus in haar mooi bruin oë jou dadelik op.

My selfvertroue was skielik weg. Ek wou nie meer op foto’s verskyn nie.

Maar drie jaar gelede, ná ’n operasie om ’n niekwaadaardige gewas agter haar regteroor te verwyder, het die aantreklike brunet se lewe soos handomkeer ver­ander. Dit het haar met ’n gesig gelaat wat aan die regterkant verlam is – en haar glimlag gesteel.

“My selfvertroue was skielik weg. Ek wou nie meer op foto’s verskyn nie,” vertel Chanel (22) oor dié donker tyd in haar jong lewe.

Maar vandag hier by haar ouerhuis in Kempton Park kan sy soos van ouds vol selfvertroue voor die kameralens verskyn – so stralend gelukkig soos iemand wat ’n glimlag vir Kersfees present gekry het.

Ek dink een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, is dat jy nie altyd alles dadelik kan kry wat jy wil hê nie en dat jy geduldig moet wees.

Die wonderwerk in die kleine was danksy ’n seldsame operasie bekend as gesigsheranimasie wat sy in September 2018 in Kaapstad ondergaan het. Tydens dié operasie word senuwees in die gesig aanmekaargeheg om gesigsverlamming teen te werk.

Daarna moes sy nog 11 maande lank bly wag en hoop om ’n beduidende verskil te sien, die eerste bemoedigende tekens dat sy weer – met goeie rede – sal kan glimlag.

Oor haar drie jaar lange stryd sê Chanel vandag: “Ek dink een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, is dat jy nie altyd alles dadelik kan kry wat jy wil hê nie en dat jy geduldig moet wees.”
 
’n Gewas het haar in 2012 die eerste keer onder die mes laat beland toe dit agter uit haar linkerbeen verwyder is. Omdat dit niekwaadaardig was, het die dokter haar gerusgestel dat sy haar nie daaroor hoef te bekommer nie.

Toe ’n knop vyf jaar later agter haar regteroor verskyn het, het Chanel (toe 20) eers gedink dis pampoentjies, maar dit is as ’n schwannoom gediagnoseer.

Schwan­nome is gewasse wat sporadies en op enige plek in die liggaam in die weefsel rondom die senuwees, bekend as die senuwee­skede, ontwikkel. Dit is dikwels, soos in Chanel se geval, nie-kwaadaardig en kan chirurgies of met bestraling verwyder word.

Dié keer was die gewas teenaan die speekselklier en dokters het gewaarsku dit sou ’n delikate prosedure verg om dit te verwyder.

Omdat die vorige operasie goed verloop het, het Chanel nie gedink iets sou met die tweede operasie skeefloop nie.

Maar toe sy in September 2017 uit die teater kom, het haar kêrel van die afgelope sewe jaar, Lovyne Rentzke (24), ­dadelik gesien iets is fout.

“Die regterkant van haar gesig het gehang. Sy kon glad nie glimlag nie,” onthou hy.

Lovyne sê hy het gereeld spontaan foto’s van sy me
Lovyne sê hy het gereeld spontaan foto’s van sy meisie geneem en haar vertel hoe mooi sy is. Foto verskaf

Haar regterooglid is ook aangetas en sy kon nie dié oog toemaak nie. “Dit het heeltyd getraan en ek moes elke aand my oog toeplak om te kon slaap,” sê Chanel.

“Ons het gedink dit sal mettertyd regkom, maar dit het nie,” vertel haar pa, Jaco (43), eienaar van ’n onderneming wat stoomketels vervaardig.

Ná drie maande het haar ouers besef hulle sal moet hulp kry. ’n Neurochirurg het toe die senuwees in haar gesig getoets, maar hy kon geen reaksie aan die regterkant kry nie.

Wanneer ons in ’n re­staurant gesit het, het ek die regter­kant van my gesig op my hand laat rus sodat dit lyk of my gesig nie hang nie.

“Hy het vir ons gesê die senuwees aan die regterkant van Chanel se gesig is morsaf,” vertel haar ma, Chantal (42). Dit is vermoedelik tydens die tweede operasie beskadig.

“Ek was nie kwaad vir die fout wat die dokters gemaak het nie,” sê Chanel. “Maar ek was kwaad oor die verwagting wat hulle geskep het. Dokters het heeltyd vir my gesê dit sal regkom; ek moet net geduldig wees. Hulle het hoop geskep wat nie daar was nie.”

Vir die eens spontane en lewenslustige meisie was dit ’n bitter pil om met ’n deels verlamde gesig saam te leef. Sy het ál meer in haar dop ingekruip.

“Ek wou nie meer uitgaan en saam met vriende kuier nie. Wanneer ons in ’n re­staurant gesit het, het ek die regter­kant van my gesig op my hand laat rus sodat dit lyk of my gesig nie hang nie,” onthou sy.

“In winkels het ek heeltyd die gevoel gekry almal kyk vir my. Dit was aaklig.”

Chanel het ook kamerasku geword.

“Ons het haar altyd die shutterbug genoem,” vertel Lovyne. “Sy wou van almal en als foto’s neem. Dit het skielik gestop. Wanneer sy op foto’s verskyn het, het sy probeer om haar gesig na regs te draai sodat die kamera net die linkerkant van haar gesig afneem.”

Deur dit alles het hy haar bygestaan en haar moed probeer inpraat.

“Ek het spontaan foto’s van haar geneem en haar vertel hoe mooi sy is. Partykeer het dit gehelp. Ander kere nie,” sê Lovyne, wat werk in die tegniese afdeling by die De Wets se onderneming waar Chanel ’n krediteureklerk is. Sy werk ook deeltyds as ’n grimeerkunstenaar.

Chanel en haar kêrel, Lovyne Rentzke, voor die ope
Chanel en haar kêrel, Lovyne Rentzke, voor die operasie wat tot die verlamming gelei het. Foto verskaf

Haar ouers het navorsing begin doen oor hoe hulle hul dogter kan help en het op gesigsheranimasie afgekom. Dié prosedure word veral uitgevoer op pasiënte met gesigsverlamming weens ’n breingewas of beroerte.

“Dit word ook glimlagchirurgie genoem,” vertel Jaco.

“Eers het dit gelyk of dit net oorsee gedoen word, maar ons het toe later ’n plastiese chirurg in die Kaap opgespoor wat bereid was om dit uit te voer. Ons was vasbeslote om ons kind se selfvertroue en glimlag terug te kry.”

Al was die dokters volgens Jaco “skepties of dit gaan werk”, het Chanel en haar ouers gevoel sy het niks om te verloor nie.

Ná die operasie in September 2018 kon sy steeds nie van oor tot oor glimlag nie.

“Ek was baie ongeduldig,” erken Chanel, al het die dokters gewaarsku die herstelproses kan tussen ses en 12 maande duur. Hulle het ook gesê sy sou moontlik 50% van haar gesig se normale werking terugkry.

Ek kon weer glimlag en my regteroog en die spiere rondom dit het weer begin funksioneer.

Elf lang, spanningsvolle maande later kon sy eindelik die verskil begin sien waarop sy so vurig gehoop het.

“Skielik het my gesig nie meer so gehang nie. Ek kon weer glimlag en my regteroog en die spiere rondom dit het weer begin funksioneer.

“Ek dink amper ek het meer as 50% van my gesig se funksies terug,” voeg sy nou by en glimlag beskeie.

Chanel vertel haar liefde vir ­foto’s het drie jaar gelede verdwyn, maar nou is haar selfvertroue terug. Foto: Onkgopotse Koloti
Chanel vertel haar liefde vir ­foto’s het drie jaa
Chanel vertel haar liefde vir ­foto’s het drie jaar gelede verdwyn, maar nou is haar selfvertroue terug. Foto: Onkgopotse Koloti

Toe die gesin in die feestyd vir ’n week lange eilandvakansie Mauritius toe is, het Chanel nie geskroom om op die wit strande vir ’n kiekie te glimlag nie.

“Dit is lekker om weer mense in die oë te kan kyk en nie skaam te kry nie,” sê sy.

Wat is haar toekomsplanne?

Een van die dae gaan sy met haar splinter­nuwe glimlag in ’n wit rok na die kansel toe stap tot waar ’n jong man wat haar reeds deur dik en dun bygestaan het vir haar sal wag.

“Lovyne het reeds my ouers se toestemming gevra. Ek wag nou net dat hy op sy knie afsak en die vraag vra.”

En dan blink daardie mooi bruin oë, en daarmee saam sprei ’n sagte glimlag oor haar mooi jong gesig.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.