Lynda du Plooy
Keegan du Plooy, van Kempton Park aan die Johannesburgse Oos-Rand, word al sedert Julie verlede jaar vermis. Foto: Verskaf

Sy is gek van kommer oor waar haar seun homself bevind, sê ’n ma van Kempton Park aan die Johannesburgse Oos-Rand wie se seun byna een jaar gelede spoorloos verdwyn het.

Dit breek haar om te dink dat haar seun alleen en waarskynlik sonder heenkome die koue winternagte moet trotseer, sê Lynda du Plooy (50).

Sy het haar seun, Keegan (26), die laaste keer in Februarie verlede jaar gesien toe hy by haar huis in Kempton Park gekuier het. 

“Hy sou gewoonlik so vier of vyf dae ’n week kom kuier, maar toe hy skielik vir dae lank nie opdaag nie, het ek onraad gemerk,” onthou Lynda vandag oor Keegan se aanvanklike verdwyning.

Sy is na ’n plaaslike polisiestasie in die Oos-Rand waar sy ingelig is dat Keegan in Februarie in die noorde van Pretoria in hegtenis geneem is vir winkeldiefstal. Volgens beamptes was hy in aanhouding in polisieselle in Sinoville.

Lynda du Plooy
Lynda du Plooy. Sy sê sy is doodbekommerd oor haar seun en sal nie ophou om na hom te soek nie. Foto: Verskaf

“Ek is na die polisiestasie in Sinoville, maar hier het hulle my ingelig dat hy in aanhouding gaan bly tot hy in die hof voorgekom het. In daardie stadium is hy na die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria verskuif,” sê sy.

Dit was egter net die begin van Lynda se nagmerrie. Want toe landswye inperkingsregulasies weens die covid-19-pandemie aangekondig is, het hierdie inperkings ook die howe geraak. Keegan moes noodgedwonge in aanhouding bly tot hy in ’n hof kon verskyn, beweer Lynda. 

“Die vroegste hofdatum is toe in Julie gestel. Maar toe Julie kom en gaan en ek steeds niks gehoor het nie, is ek terug na die gevangenis. Hier het hulle my ingelig dat Keegan reeds verskyn het en dat hy vrygelaat is,” vertel sy.

Aanvanklik was daar op verdere navraag baie onsekerheid oor presies wanneer Keegan vrygelaat is.

“Die polisie het eers vir my gesê hy is ’n vonnis opgelê – dit het my hart amper laat gaan staan. Maar later het ons gehoor die amptelike polisierekords sê hy is al op 23 Julie vrygelaat. Tog is sy persoonlike besittings steeds in besit van die polisie.

“Niemand weet waarheen hy is of hoekom hy niemand gekontak het nie.” 

Lynda du Plooy
Lynda het Keegan meer as ’n jaar laas gesien, maar volgens die polisie se amptelike rekords word hy sedert 23 Julie 2020 vermis. Foto: Verskaf

Al moontlikheid wat vir haar sin maak, verduidelik Lynda, is dat Keegan geestelik onwel is en nie gevind wil word nie.

Sy sê haar seun ly aan bipolêre gemoedsteuring, maar sou waarskynlik baie deurmekaar wees omdat hulle in die laaste maande nie toegang tot sy medikasie gehad het nie.

Lynda is in beheer van sy medikasie, verduidelik sy.

“Ek weet nie eens of my seun weet wie hy is nie . . . My grootste bekommernis is dat hy verskriklik deurmekaar is en aan niemand kan verduidelik waar hy vandaan kom of waar hy moet wees nie. Ek kry nagmerries oor die blote gedagte dat hy dalk op straat is.”

In die laaste maande het Lynda álles moontlik gedoen om na haar seun te soek. Sy het pamflette versprei en haar tot sosiale media gewend in die hoop dat iemand weet waar hy hom bevind.

Die familie het selfs ’n privaat ondersoeker aangestel, maar vergeefs. Dis asof daar geen teken van hom is nie.

“Ek is absoluut raadop en gebroke,” sê Lynda emosioneel. “Ek wil glo dat my kind oukei is en dat hy weer sal huis toe kom. Maar hoe kan ek? Dis al een jaar sedert hy vermis is.” 

Lynda du Plooy
Een van vele plakkate wat versprei is in die hoop dat iemand met inligting oor Keegan se verdwyning vorendag sal kom. Foto: Verskaf

Die teisterende vrae hou nie op nie. “Ek moet eerlik wees en sê Keegan was nooit ’n maklike seun nie. Deels oor die gemoedstoornis, maar dinge was nie altyd maklik nie. Ek is bekommerd dat hy dalk met dwelms betrokke kan raak – miskien sien hy geen ander opsie om te probeer leef deur die koue winteraande nie.” 

Tog het sy nog nie moed verloor nie – selfs nie al is dit al byna een jaar sedert sy verdwyning nie.

“Enige ma sal dieselfde sê: Ek wil net my kind veilig en by die huis hê. Dis al wat ek vra. Want as daar nie binnekort antwoorde oor sy verdwyning kom nie, weet ek eenvoudig nie hoe ek sal aangaan nie.” 

’n Saak vir vermiste persone is verlede jaar by die polisie in Sinoville, Pretoria, aanhangig gemaak. ’n Navraag om kommentaar is na die provinsiale polisie in Gauteng gestuur, en sal bygevoeg word sodra Huisgenoot dit ontvang.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe