Pieter Wilders het op die Vaaldam vermis geraak.
Pieter Wilders is 'n verkoopsman van Kempton Park. Hy het Saterdagaand op die Vaaldam vermis geraak. Foto: Facebook

Pieter Wilders (30), ’n verkoopsman van Kempton Park en kranige visserman het Saterdagaand op die waters van die Vaaldam verdwyn.    

“Ons het geen idee wat gebeur het nie,” vertel sy ouma, Alet Joubert, van Oranjeville. “Daar was geen wind nie. Niks. Dit was seweuur in die aand.”

Pieter en sy verloofde, Ronel Vermeulen, het Saterdagmiddag by Alet gaan kuier. Hy en Alet se man, James Moore, en sy stiefbroer, Attie Lombard, sou die nag langs die dam deurbring om babers te vang. Attie en James het met die visstokke op die droë grond gebly en Pieter het met 'n boot die vislyne in die rigting van die brug in die dam geneem. 

Niemand het gesien of gehoor wat gebeur het nie, maar ewe skielik was Pieter nie meer in die boot nie. James het vir Ronel gebel en gesê om dadelik die polisie te ontbied omdat hulle geweet het Pieter is in die moeilikheid.

“Ek het eers glad nie verstaan wat aangaan nie. Die polisie het dadelik gekom en die soektog het begin.” 

Pieter en sy verloofde, Ronel Vermeulen.
Pieter en sy verloofde, Ronel Vermeulen. Foto: Facebook

Pieter se pa, Pieter Wilders sr., wat op Ermelo woon, het intussen by die soektog aangesluit. Sy ma, Linda, is in 2001 oorlede en hy het 'n broer, Johan Wilders (27). 

Teen 12-uur Maandag was daar nog geen teken van Pieter nie. 

Alet was die middag voor die tragedie saam met haar kleinseun en sy verloofde langs die viswaters.

“Hy het nog op die boot gesit en lag en vir my gesê ‘My oumatjie, kom saam met my.’ Ek het huis toe gery om vir hulle te gaan kos maak wat hulle in die nag kan eet.

"Dit is toe dat James my bel.”

Pieter het sy ouma, Alet Joubert, speels saamgenoo
Pieter het sy ouma, Alet Joubert, speels saamgenooi op die boot voor hy uitgevaar het. Foto: Facebook

Hulle het reeds die boot ongedeerd opgespoor met ’n bak vol viskos op.

“Ons dink nie hy het dit gemaak nie,” sê Alet saggies. “Die water is baie diep daar, en daar is maalkolke. Hy het ook ’n wader (broekpak met stewels wat vasgewerk is) aangehad.

“Ek is baie na aan daardie kleinseun van my. Hy het so baie by my kom kuier. Ek is dankbaar vir almal wat help soek.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe