Hoe is dit moontlik dat een familie al soveel tragedie moes verduur?

Dekades ná die sluipmoorde op pres. John F. Kennedy (JFK) en sy broer Robert word die ­Kennedys steeds as Amerikaanse adel beskou, maar hul invloed, rykdom en roem kon dié familie nie teen onvoorstelbare hartseer beskerm nie.

Alte dikwels moes die wêreld toekyk hoe nóg ’n geliefde deur die familiegroep gegroet word met beierende kerkklokke as die klankbaan van die familiesage. En met elke begrafnis word opnuut gefluister: Dis die Kennedy-vloek.

Die jongste tragedie was die onlangse dood van die 22-jarige Saoirse Kennedy Hill. Saoirse was die enigste kind van Courtney Kennedy Hill (62) en haar eksman, Paul Hill (65).

Klein Saoirse saam met ma Courtney (links) en ouma
Klein Saoirse saam met ma Courtney (links) en ouma Ethel op ’n strand naby hul familielandgoed. Foto: Instagram (@robertfkennedy)
’n Jong Saoirse saam met haar pa, Paul Hill, een v
’n Jong Saoirse saam met haar pa, Paul Hill, een van die sogenaamde Guildford Four. Foto: Instagram (@robertfkennedy)

Sy was die kleindogter van Robert F. Kennedy, Courtney se pa, en sy vrou, ?Ethel.

Baie vrae is nog onbeantwoord nadat Saoirse se lewelose liggaam op 1 Augustus op die luukse Kennedy-landgoed in Cape Cod, Massachusetts, aangetref is. Daar word gegis dat sy moontlik weens ’n oordosis dwelms dood is.

Die uitgestrekte landgoed was al die toneel van talle familiedramas, en die hegte Kennedy-kliek steier behoorlik ná die jongste slag.

Veral omdat Saoirse, wat kommunikasie aan die Morrissey ­College of Arts and Sciences in Boston studeer het, enkele dae voor haar dood nog blakend gesond en sorgeloos voorgekom het. Dit was immers somer in Cape Cod en sy was met vakansie.

Die skokdood van Saoirse Kennedy Hill, wat dood op
Die skokdood van Saoirse Kennedy Hill, wat dood op die ­familie se landgoed in Cape Cod aangetref is, laat baie opnuut wonder: Hang daar werklik ’n vloek oor die koppe van die Kennedy-kliek? Foto: Instagram (@robertfkennedy)

Op ’n foto wat deur haar oom Robert F. Kennedy jr. (65) , ’n omgewingsaktivis en prokureur, op Instagram gedeel is, maak sy gereed om van ’n boot naby die familiewoning in die water te duik.

Maar agter dié prentjie van geluk skuil heelwat pyn.

In 2016 het Saoirse in ’n artikel in die skoolkoerant van Deerfield Academy hart oopgemaak oor haar stryd met depressie. Sy het geskryf sy het vroeg in haar tienerjare begin sukkel met ’n “diepe hartseer wat soos ’n swaar klip op my bors voel”.

’n Familiegeheim het haar depressie boonop vererger.

“Ek het heeltemal kop verloor nadat iemand wat ek geken en liefgehad het seksuele grense met my oortree het,” het sy geskryf. “Alles het te veel geword en ek het my eie lewe probeer neem.”

Sy het nie die seksoortreder se naam genoem nie, maar volgens Jerry Oppenheimer, wat al talle biografieë oor die Kennedys geskryf het, was dit ’n “volwassene met bande met die familie”.

Deur die jare het die pyn van haar ontbering ál erger geword. Ná haar dood het dit aan die lig gekom Saoirse se ma wou haar enkele maande voor haar dood na ’n kliniek vir chroniese depressielyers vir behandeling stuur.

Maar familielede hou vol Saoirse was tydens haar laaste vakansie gelukkig.

Die Kennedy-­matriarg, Ethel, was verpletterd op d
Die Kennedy-­matriarg, Ethel, was verpletterd op die begrafnis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar oom Robert het in ’n huldeblyk op haar begrafnis vertel Saoirse het op haar laaste lewensdag eers saam met haar ouma geëet en toe saam met ’n vriend uitgegaan. Daarna het sy wakker gebly om die sonsopkoms oor die see te sien voor sy gaan slaap het.

“Dit was ’n perfekte aand, en soos altyd het sy dit in die sosiale media gedeel,” het hy gesê. Volgens hom was sy ook opgewonde omdat sy die volgende dag Los Angeles toe sou vlieg.

Maar laatmiddag is Saoirse in haar slaapkamer aangetref en na ’n hospitaal geneem waar sy dood verklaar is. Die oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie.

Die familie ontken dat sy ooit dwelms gebruik het, maar volgens gerugte het sy, hetsy doelbewus of per abuis, ’n oordosis voorgeskrewe medikasie geneem.

Die Kennedys hoop die uitslae van toksikologietoetse sal antwoorde bied. “Ons harte is stukkend oor die verlies van ons geliefde Saoirse,” het hulle in ’n verklaring gesê.

Dosyne niggies, neefs en ander familielede het in Cape Cod saamgetrek vir ’n Rooms-Katolieke lykwaak.

Maria Shriver (links) steun haar niggie en Saoirse
Maria Shriver (links) steun haar niggie en Saoirse se ma, Courtney Kennedy, op die begrafnis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Onder hulle was die vermoorde president se dogter Caroline Kennedy (61) en sy niggie Maria Shriver (63), eksvrou van die akteur Arnold Schwarzenegger (72).

Op die privaat begrafnis in die Our Lady of Victory-kerk in Cape Cod was Saoirse se pa, Paul, een van die kisdraers.

’n Gebroke Paul op sy dogter se privaat begrafnis
’n Gebroke Paul op sy dogter se privaat begrafnis by die Our Lady of Victory-kerk in Cape Cod. Hy was een van die kisdraers. Foto: Gallo Images/Getty Images

Paul is beroemd uit eie reg. Hy is een van die sogenaamde Guildford Four wat in 1974 verkeerdelik deur ’n Britse hof tronk toe gestuur is weens ’n bomaanval deur die Ierse Republikeinse Leër.

Die vierstuks was 15 jaar agter tralies voor hul onskuld bewys en hulle vrygelaat is.

Hul stryd om geregtigheid is verewig in die fliek In the Name of the Father (1993), met Daniel Day-Lewis in die hoofrol.

Paul is in die 1990’s met Courtney ge­­troud, maar hulle is in 2006 uitmekaar. Saoirse, wie se naam “vryheid” in Iers beteken, het daarna haar tyd tussen Amerika en Ierland verdeel.

“Saoirse was die liefde van my lewe,” het Paul gesê. “Ek het haar tot die dood toe liefgehad.”

Maar sy emosies het hom oorval en hy kon nie verder praat nie; Robert het oorgeneem: “Sy was ’n suster of dogter vir honderde Kennedys, Shrivers en Lawfords. Ons almal het haar as ons eie beskou,” het hy gesê.

En met verwysing na die sogenaamde Kennedy-vloek was sy woorde: “As enig­een ooit gewonder het of God die Kennedys liefhet, dan is die bewys daarvan dat hy Saoirse aan ons gegee het.” 

DIE KENNEDYS SE FAMILIEWONING

Die landgoed is aan die kus van die gesogte Cape C
Die landgoed is aan die kus van die gesogte Cape Cod-gebied, die speelplek van rykes en beroemdes, en naby die dorpie Hyannis Port in Massachusetts. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die landgoed is aan die kus van die gesogte Cape Cod-gebied, die speelplek van rykes en beroemdes, en naby die dorpie Hyannis Port in Massachusetts.

Die oorspronklike eienaar was Joseph P. Kennedy sr. en vandag bestaan dit uit drie huise. Dit word gereeld deur die familie as hul somertuiste ingespan en was JFK se basis tydens sy presidentsveldtog in 1960.

Vandag woon sy skoonsuster Ethel (91) daar. JFK en Robert se broer Edward het in die hoofhuis gebly tot sy dood in 2009 weens natuurlike oorsake. Ook Edward was ’n senator van die Demokratiese Party.

Daar is nou planne om die hoofhuis in ’n museum en konferensiesentrum te omskep.

DIE KENNEDY-VLOEK

Saoirse is nie al Kennedy wat jonk gesterf het nie.

In 1963, tydens ’n besoek aan Dallas, Texas, is pres. John F. Kennedy (toe 46) doodgeskiet.

In 1968 is JFK se broer en Saoirse se oupa Robert F. Kennedy (toe 42) tydens sy eie presidentsveldtog deur ’n sluipmoordenaar in Los Angeles doodgeskiet.

Hul broer Joseph P. Kennedy jr. (toe 29) is in die Tweede Wêreldoorlog dood en hul suster Kathleen Cavendish (toe 28) in 1948 in ’n vliegtuigongeluk.


Kathleen Cavendish (28). Foto: Gallo Images/Getty
Kathleen Cavendish (28). Foto: Gallo Images/Getty Images

David Kennedy (toe 28), een van Robert en Ethel se 11 kinders, is in 1984 dood in ’n hotelkamer in Florida aangetref ná ’n oordosis kokaïen, pynstillers en kalmeermiddels.

David Kennedy (28). Foto: Gallo Images/Getty Image
David Kennedy (28). Foto: Gallo Images/Getty Images

John F. Kennedy jr., die president se seun, is in 1999 dood toe sy vliegtuig neergestort het. Sy vrou, Carolyn, en haar suster Lauren is ook in die ongeluk dood.

BRONNE: PEOPLE.COM, DAILYMAIL.CO.UK, CNN.COM, SUN.CO.UK
Kry hier hulp
  • Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG): 0800-567-567
  • Lifeline vir trauma-berading en ondersteuning: 0861-322-322
  • Familie- en huweliksberading deur FAMSA: 011-975-7106/7
  • POWA vir die beskerming van vroueregte: 011-642-4345/6
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.