Maar sommige kenners maan ook vroegtydig skuldoorlaaide verbruikers moet deeglik besin voor hulle hulself op Swart Vrydag dieper in die verknorsing dompel deur 'n klomp geld wat hulle eintlik nie het nie aan luukses te verkwis.

Kleinhandelaars se spesiale aanbiedings is dan so aanloklik dat verbruikers alle versigtigheid oorboord kan gooi en hul hele feestyd-begroting op enkele duur items, soos hoëtegnologie-TV’s of huishoudelike apparate, uitgee, maan Neil Roets, hoof van Debt Rescue, een van Suid-Afrika se grootste skuldberadingsmaatskappye.

"Baie kleinhandelaars en aanlyn winkels het aanbiedings vir 24 November beloof wat selfs dié van ons in die grootste finansiële nood in die versoeking sal stel," sê Neil.

Sy bondige raad aan diegene is: "Moenie . . ." Moet jou dus bloot nie laat meesleur as jou geldsake nie orde is nie.

"Die afgelope paar jaar het ons telkens Black Friday se impak gesien wanneer verbruikers ons genader het om uit hul finansiële gemors weens roekelose besteding te probeer kom.

"Handelaars wat self weens die ekonomiese afswaai onder druk verkeer, het met 'n klomp slim idees vorendag gekom om verbruikers te oorreed om hul sak te skud . . . dis hoe die idee van Black Friday onstaan het."

Dit het 'n rukkie geduur voor dié ingevoerde konsep in Suid-Afrika posgevat het, "maar toe dit eers vastrapplek kry, het dit behoorlik vlam gevat . . . en baie handelaars reken nou op dié dag en die Kersvakansie vir 'n beduidende deel van hul jaarlikse verkope".

Talle verbruikers voel ook hulle trek nou al so lank die gordel stywer dat hulle 'n blaaskans verdien, en dat Swat Vrydag die ideale geleentheid is om hulself 'n bietjie te bederf, verduidelik Neil.

Ekonomiese herstel? Watwou . . .

"Maar 'n mens sien nog lank nie lig aan die einde van die tonnel nie. Ons, en talle voorste ekonome, glo Suid-Afrika is nog ver van ekonomiese herstel.

"Kortom, ek glo toestande sal nog eers heelwat taaier raak, voor dit begin verbeter. Dis bepaald nie nou die tyd om roekeloos op te tree nie. Trouens, dis belangriker as ooit tevore om geldelike dissipline aan die dag te lê, en watter geld jy ook al teen die einde van die maand oorhet, weg te sit.

"Koop net wat regtig nodig is. Al voel ons almal ons het dringend 'n blaaskans nodig aan die einde van 'n baie rowwe jaar, moet ons dié vakansie binne ons begroting bly. Moenie hoop as jy in Desember nie meer geld oorhet vir skoolgeld ensovoorts dat daardie geld net wonderbaarlik beskikbaar gaan raak wanneer die skole in Januarie heropen nie."

Neil meld dat reeds die helfte van Suid-Afrikaners drie of meer maande agterstallig is met skuldterugbetaling. En volgens die jongste Nasionale Kredietreguleerder-statistieke trek gesamentlike SA verbruikerskuld nou al by sowat R1,71 triljoen.

Debt Rescue/Facebook

"Ons is in die middel van 'n uiters moeilike ekonomiese siklus waar pryse die hoogte inskiet terwyl salarisse en lone dikwels staties bly.

Januarie, die langste, langste maand . . .

Dit voel vir baie verbruikers na 'n nimmer eindigende maand omdat hulle uiteraard in Desember heelwat vroeër as gewoonlik betaal word. Dié wat gelukkig genoeg is om een te ontvang, put ook valse gemoedsrus uit hul 13de tjek.

"Ons sien gewoonlik ook in Januarie 'n skielike toestroming van angstige, raadop verbruikers aan wie se deur skuldinvorderaars al begin klop het." Gelukkig bied skuldhersiening hoop deurdat dit mense byvoorbeeld toelaat om skuld in kleiner paaiemente oor 'n langer tydperk terug te betaal, sê Neil.