Al sowat 'n dekade stroom Pretorianers elke jaar na die Jakaranda Kinderhuis om hulle aan die skouspel van derduisende Kersliggies te verwonder. 

Oud en jonk "oe" en "aa". Maar dit gaan hier ook om meer as net kinderlike verwondering, want die Liggiefees is ook 'n belangrike geleentheid om die kinderhuis se geldkoffers te styf. Met die inkomste uit die Liggiefees word kos, skoonmaakgoed en selfs persoonlike toiletware vir die Jakaranda-kinders gekoop. 

Maar in hierdie pandemiejaar, wanneer 'n tikkie Kersvreugde nodiger is as ooit tevore, sal die liggies in Talitha Kumistraat, Derdepoort, nie aangeskakel word nie, en gevolglik lyk die toekoms duister.

“Normaalweg word die geleentheid die hele Desember aangebied. Maar met die pandemie, en omdat die wettige goedkeuring vir so 'n openbare geleentheid nie ontvang is nie, moes 2020 se Liggiefees gekanselleer word,” vertel Karin Berriman, woordvoerder van die Jakaranda Kinderhuis. 

Volgens Karin het die kinderhuis deurlopend geldinsamelingsprogramme, maar dit dek nie hul daaglikse bedryfskoste nie. 

“Dit (2020) was 'n traumatiese tyd vir almal, maar ons vra mense om ons asseblief te help om ons 223 kinders te kan versorg,” sê sy.  

Charlene Grobler, hoof van die Jakaranda Kinderhuis, voeg by: “Die kinders sien altyd daarna uit om die ligte aan te sit; dit bring vir hulle vreugde, vertroosting en 'n gevoel van veiligheid. Nou moet ons die ligte wegsit en op 'n onseker toekoms begin voorberei."

Die Liggiefees het in die verlede tot 60 000 besoekers per jaar gelok.

Die Liggiefees is jaarliks die hoogtepunt op die f
Die Liggiefees is jaarliks die hoogtepunt op die feestydkalender vir die Jakaranda Kinderhuis. Foto: Gallo Images / Foto24 / Liza van Deventer
  • Gaan na Jakaranda Kinderhuis of bel hul bemarkingsafdeling by 012-800-4700 of vir Karin by 073-844-9266 vir nog inligting.