Rebecca Cartellone (24) het Kerstyd vir haar pa ’n DNS-toetsstel van Ancestory.com gegee. Hiermee kon haar pa, Joseph, sy familieboom opspoor. 

Maar nadat hy die DNS-toetse weggestuur het, het hul gesin se lewe soos handomkeer verander toe die skokuitslae kom: Rebecca is nie sy biologiese dogter nie.

'n Tweede vaderskapstoets het ook bevestig Joseph is nie haar pa nie.

Hy en sy vrou, Jennifer, het hul dogter in 1994 deur in vitro-bevrugting verwek. Die paartjie van Delaware, Ohio, in Amerika, het met vrugbaarheid gesukkel. 

Nou dagvaar hulle die vrugbaarheidskliniek omdat 'n ander man se sperm gebruik is om die embrio te bevrug. Dié man is glo 'n dokter van dié kliniek. 

Maar die gesin se prokureurs sê een van vyf mans kan die biologiese pa van Rebecca wees, waarvan die dokter een is. 


"Dié kliniek moet verantwoordelik gehou word en die gevolge van hul dade voel," sê Joseph. "Ons is bereid om enigiets te doen om te verseker dat dit nie met enigiemand anders gebeur nie."

Hy het op 'n nuuskonferensie aan joernaliste gesê: “Dit is uiters moeilik vir my gesin.” 

Hy sê dit is veral moeilik vir hul dogter, Rebecca. “Sy beleef aansienlike emosionele spanning en verwarring oor haar eie identiteit. 

“Ek sou nooit kon dink dat 'n Kersgeskenk van 'n DNS-toetsstel so 'n vertrapping van ons vertroue sou ontbloot nie.” 

Bronne: Mirror, Goodmorningamerica