Nege jaar gelede het haar lieflingdogter soos mis voor die son verdwyn.

Die smart van haar enigste dogter se verdwyning op Sondag 21 Februarie 2010 het Mpho Moshoeshoe (53), ’n onderwysspesialis van Kimberley, oor die jare heen in die maalkolk van depressie en verslawing laat beland.

Snags het sy doelloos en slapeloos voor die televisie gesit. Die slaappille wat sy gedrink het, was al wat sy gevoel het, wat haar aan die gang gehou het. Al was ’n man eindelik agter tralies vir haar kind se ontvoering, het sy bly glo haar dogter, Rehana Kwena Moshoeshoe (15), leef nog.

Die vermiste Rehana Moshoeshoe. Foto: Verskaf
Die vermiste Rehana Moshoeshoe. Foto: Verskaf
Die vermiste Rehana Moshoeshoe. Foto: Verskaf
Die vermiste Rehana Moshoeshoe. Foto: Verskaf

Toe kom die oproep twee maande gelede: Iemand het ’n hawelose vrou in die Pretoriase middestad ontmoet wat nés die vermiste Rehana lyk.

Dit het die vrou opgeval hoe welsprekend die jong vrou is toe sy haar ontmoet en het die verbintenis gemaak toe sy ’n plakkaat van die vermiste Rehana, wat ná al die jare weer versprei is, raaksien.  

Die hawelose Candice Modisenyana wie se DNS nou me
Die hawelose Candice Modisenyana wie se DNS nou met die vermiste Rehana Moshoeshoe vergelyk word. Foto: Verskaf
Rehana Moshoeshoe. (Photo: Facebook)

Mpho weet nie hoe die vrou wat die verbintenis gemaak het, op een van Rehana se ou skoolvriendinne gekom het nie, maar toe dié Mpho vertel, het sy nie op haar laat wag nie.  

Kort voor lank het sy in Augustus vanjaar voor die vrou, Candice Modisenyana (22), wat op straat beter as Karabo bekend is, gestaan.

“Die ooreenkomste was oorweldigend, amper alles: die oë, die hoë voorkop. Ek kon nie ophou vir haar kyk nie. Ek wou ook nie opgewonde raak nie. Ek het haar gevra: ‘Ken jy my? Van waar kom jy?’”

Destyds is die 38-jarige Frans Olifant in Lichtenburg aangekeer. Daar was oproepe en teksboodskappe tussen sy en Rehana se foon wat hy nie kon verduidelik nie. Hy is skuldig bevind en tot 36 jaar tronkstraf gevonnis vir Rehana se ontvoering en ook ander misdrywe insluitend verkragting, brandstigting en diefstal verbind.

Rehana se lyk is nooit gevind nie en Mpho het hom later jare in die gevangenis besoek, maar steeds het die waarheid ontwyk.

Die jong vrou hier voor haar nes haar langverlore dogter lyk, maar sy het gou besef sy klink nie soos haar Rehana nie. Karabo se stem was dieper, haar agtergrond verwyderd van die Noord-Kaap.

 “Nee, sy het my nie herken nie. Sy het vertel sy is van Klerksdorp, sy is aangeneem ...”

Mpho het Karabo se hande in hare geneem: haar klein hande identies aan die van haar Rehana ...

Maar sy en ook Rehana se broer, Hussein (28), is terug huis toe: sonder hul Rehana.

Hussein vertel: “Ek het soveel hoop gehad toe ons gery het. Ek het geglo wanneer ons terugry, is Rehana saam met ons. Maar ons het Rehana verloor, gevind en weer verloor.”

Mpho en Hussein Moshoeshoe, die vermiste Rehana se
Mpho en Hussein Moshoeshoe, die vermiste Rehana se ma en broer. Foto: Facebook
Mpho Moshoeshoe, Rehana se ma.
Mpho Moshoeshoe, Rehana se ma.
Mpho Moshoeshoe, die vermiste Rehana se ma Foto: F
Mpho Moshoeshoe, die vermiste Rehana se ma Foto: Facebook

Terug by die huis het Mpho weer en weer na Karabo se foto gekyk. Twee weke later het daar ook ’n video van Karabo opgeduik.

In Mei vanjaar het die joernaalprogram Kwêla die haweloses hier besoek en vertel die jong vrou – Candice self – in vlot Afrikaans sy het as aangenome kind saam met wit mense grootgeword, maar toe het die egpaar geskei. Dit het daartoe gelei dat sy eindelik sonder heenkome op straat beland het.

Foto's van hoe Candice na bewering as tiener gelyk het, is ook aan hulle verskaf wat verder die hoop laat vervaag het.

Hoewel hulle twyfel dat dit waarlik Rehana is, het Mpho steeds ’n greintjie hoop dat dit sy kan wees. Al wat werklik die vlammetjie sal blus, is die uitslag van die polisie se DNS-toetse waarop hulle dalk weke of selfs maande gaan moet wag.

 “Ek probeer kalm bly. Ek wil nie weer in ’n depressie verval nie. Ek is gereed vir alles en enigiets, maak nie saak wat die uitkoms is nie,” vertel sy.

Rehana was die oggend van haar verdwyning by die huis uit om dorp toe te gaan. Sy wou graag iets gaan koop om na die sangeres Lira se konsert daardie opvolgende week aan te trek. Maar die familie het haar nooit weer gesien nie.

“Ek wil net my dogter terughê. Dit maak nie saak waar sy is of wat gebeur het nie. Ons sal haar weer op die pad kry. Soms wanneer ek bid, sê ek vir God: ‘Dis te donker. Laat daar net weer lig wees.’”

Daar is nie ’n dag wat hulle nie vir Rehana mis nie. “Sy was ’n borrelende persoon, sy was goed en gemaklik met mense... Baie soos Karabo.”