Zoe Uithaler (10) en ’n maatjie, albei van Kimberley in die Noord-Kaap, het op ’n A-raam-swaai gespeel toe dit omval en veroorsaak dat Zoe val en haar kop stamp.

Haar ouma Yvonne Botha, wat Zoe grootmaak vandat sy ’n baba is, het aanvanklik gedink dit sou net ’n kneusplek op die kop wees en dat Zoe ná ’n paar trane weer sou voortspeel.

Maar toe sy bloed uit die dogtertjie se neus en mond sien vloei, het sy geweet sy moet ’n ambulans ontbied.

“Ek het hulle gesê dis dringend en hulle moet gou kom,” het Yvonne aan Independent Online vertel. 

Die familie woon by die woonkompleks van die korrektiewe dienste in Kimberley, en volgens Yvonne is daar twee swaaistelle in die speelarea, maar net een daarvan is in die grond vas gesement. 

“Die een waarop Zoe geswaai het, was nie in die grond gesement nie en het bo-op die grond gestaan.”

Die nuus oor Zoe was veral ontstellend vir Prudence Mampe (43), haar gr. 5-onderwyser by die Laerskool Flamingo.

“Ek was gebroke. Ek kon dit nie hanteer toe hulle Maandag die nuus aan my oordra nie,” het Prudence gesê.

Zoe het op pad na die hospitaal toevalle begin kry en haar bewussyn verloor. Sy is in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Gariep opgeneem waar sy aan ’n ventilator gekoppel is. 

Volgens haar ouma het hulle ’n gat in haar skedel geboor om die vloeistof te dreineer en van die druk op haar brein te verlig.

“Ek het haar die volgende dag besoek en wat my gelukkig maak, is dat sy by haar bewussyn was,” sê Prudence. “Maar om haar daar te sien lê, het my hart gebreek.”

Prudence sê hoewel die dogtertjie nie reageer het nie, het sy beweeg.

“Sy het haar kop geskud en haar voete beweeg. Ek het die verpleegster gevra hoekom sy dit doen, en sy het gesê dis omdat Zoe bly is om my te sien. Toe ek dit hoor, het dit my gerusgestel.” 

Dit kan nog ’n ruk duur voor Zoe terugkeer skool toe, maar haar genesing is belangriker as enigiets anders, sê Prudence.

“Sy was altyd ’n baie stil meisie in die klas en haar klasmaats is lief vir haar. Ons het gehuil toe ons die storie in die koerant sien. Een van hulle het my kom vra of Zoe gaan sterf. Ek het gesê: Nee wat, Zoe gaan oukei wees’.”

Hoewel dit ’n tragiese voorval is, berus die verantwoordelikheid by die ouers, het Kenneth Mthombeni, die adjunk-streekskommissaris van korrektiewe dienste, oor die swaai gesê.

Ekstra bron: IOL.co.za