Om te dink ’n ongeluk het alles waaroor hy as jong man gedroom het oornag van hom gestroop.

Dis hartverskeurend, sê Rynand Joubert, pa van die 21-jarige Ruan wat in Julie 2017 in ’n motorfietsongeluk kwaai breinbeserings opgedoen het.

Die gebeure van daardie afgryslike dag speel nog dikwels in sy geheue af: Die noodoproep van ’n vriend wat sê Ruan het erg seergekry en haal nie meer asem nie; sy eie verslaenheid toe hy sy seun se amper lewelose liggaam in die Mediclinic Gariep-hospitaal in Kimberley sien.

Dan spook die dokters se verdoemende diagnose ook nog by hom. Ruan sal nooit volkome van sy breinbeserings herstel nie, het medici gesê.

Maar hoop verloor? Daarvan was geen sprake nie.

“Ons het van die begin af geweier om te glo daar is geen kans op beterskap nie,” vertel Rynand Dinsdag telefonies aan Huisgenoot.

“En ons is dankbaar ons het nie moed opgegee nie. Ja, hy is aan ’n rolstoel gekluister en ja, hy kan niks vir homself doen nie. Maar daar is soveel tekens van hoop: Hy kan al amper weer self begin kou, hy kan al sy duim effens lig om te wys hy is oukei, effens glimlag en hy ontwikkel weer van voor ’n regte wil van sy eie; daarom moet jy hom nie vra om te lag nie; hy sal so maak wanneer hy wil,” sê Rynand.

Rynand Joubert
Van links is pa Rynand, Ruan, Adri en ma Liesel. Foto: Verskaf

Ruan is vroeër vandeesmaand, ná 10 maande in die Bayswater-versorgingsoord in Bloemfontein, na Rynand en sy vrou, Liesel, se huis in Kimberley geneem waar hy nou 24 uur sorg ontvang deur dieselfde verpleegpersoneel van die oord, en ook sy gesin.

Hy is steeds in ’n nakoma: ’n toestand waar hy reaksie toon en daar ’n flikkering van beweging is, maar geen belofte vir volkome herstel inhou nie.

“Ons het gevoel dis tyd dat hy huis toe kom,” sê Rynand. Hy en Liesel het voorheen elke naweek van Kimberley na Bloemfontein gery om vir Ruan te gaan kuier. Hul dogter, Adri, ’n onderwysstudent aan die Universiteit van die Vrystaat, het nog elke dag vir haar broer gaan kuier.

“Dit beteken vir ons soveel meer om hom terug in sy eie omgewing te hê waar hy heeltyd deur ons omring is – en hy ons nie net elke naweek sien nie. Hy het versorging nodig, maar hy is nie aan masjiene gekoppel of so nie, en dit vergemaklik ons taak.

“Boonop dink ek dis belangrik vir sy herstelpad dat ons nou meer intiem met hom kan kommunikeer as voorheen. Ons gaan stap elke dag ná werk saam met hom en skuif sy rolstoel tot voor die televisie sodat hy saam met sy pa kan rugby kyk, of saam met ons die nuus of ’n sepie kan kyk.”

Dit is asof Rynand se stem kraak: “Ek vra myself gereeld: Wat as hy kan verstaan wat om hom aangaan? Hoe erg moet dit nie vir hom wees om heeltyd aan ’n bed gekluister te wees nie. Ons kan dit nie toelaat nie.”

’n Motorfietsongeluk het die 19-jarige Ruan Joubert se lewe soos handomkeer verander. By hom is sy pa, Rynland. Sy familie is nie bereid om tou op te gooi nie. Foto: Huisgenoot/Dino Codevilla

Dokters se prognose oor Ruan, dat hy moontlik nie volkome sal herstel nie, het nog nie verander nie. Dit is ook onduidelik of Ruan wel kan sien, selfs al maak hy sy oë nou op skrefies oop, maar die gesin wag nog op die uitslag van onlangse toetse.

Rynand en ’n klein groep vriende beplan op 21 Maart ’n staptog om geld in te samel om ’n voertuig aan te koop waarin hulle Ruan in ’n rolstoel kan vervoer.

Die staptog begin by die ongelukstoneel op die plaas Die Vlakte net buite Boshoff op die Bloemfonteinpad en eindig by die gesin se huis in Kimberley.

Ná die staptog word nog ’n 5 km-roete in Kimberley beplan.

“Dis vir ons moeilik om saam met ’n groot groep mense op die hoofweg te stap omdat dit gevaarlik kan raak. Daarom gaan ek en ’n paar pelle stap, maar dan hoop ons mense sluit by ons aan wanneer ons ons huis in Kimberley bereik.”