Hy sou nou ’n eerstejaarstudent gewees het – ’n lang blondekopman met ’n belowende toekoms in die bemarkingswêreld en drome om as gholfspeler naam te maak.

Maar nou sit Ruan Joubert (20) op ’n sonnige winterdag in ’n rolstoel in ’n sorgsentrum in Bloemfontein, en sy ma, Liesel (43), voer hom jellie.

Vyf maande gelede het sy dokters verklaar hy sal nooit volkome van sy breinbeserings herstel nie nadat ’n motorfietsongeluk in Julie verlede jaar byna sy lewe geëis het.

Maar sy ouers, Liesel en Rynland (47), en sy ousus, Adrie (23), weier om te aanvaar daar is nie hoop op beterskap nie.

“Daar is elke keer vordering wanneer ons hom sien,” vertel Liesel, ’n konsultant by ’n sentrum vir verstandelik gestremde mense.

Sy en haar man, ’n opleidingskoördineerder van die polisie in die Noord-Kaap, ry elke naweek uit hul tuisstad, Kimberley, om hul seun te sien.

Adrie is ’n onderwysstudent aan die Universiteit van die Vrystaat en besoek haar broer elke dag. “Ek voer hom altyd jellie wanneer ons kom kuier, en ek het verlede naweek gesien hy hou nie van die Cream Soda-geur nie.

“Hy trek sy gesig wanneer hy dit proe!” vertel Liesel en glimlag moedig.

Op sy manier kommunikeer Ruan met hulle, hou die Jouberts vol. Hy sal byvoorbeeld sy ma se hand ’n effense drukkie gee wanneer sy vra hy moet, vertel Liesel.

Of wanneer Adrie vir hom sê: “Knip jou oë as jy saamstem,” doen hy dit.

Maar sy traumachirurg, dr. André Loubser van die Mediclinic Bloemfontein, weet nie of dit meer as net refleksreaksies is nie.

Hy sê Ruan sal nooit weer ’n normale lewe kan lei nie omdat hy ernstige breinskade opgedoen het. Tog erken hy Ruan toon vordering.  

Ruan se kamer in die Berea-oord, waar hy 24 uur per dag versorg word, staan vol foto’s van hom en sy gesin in die jare voor die ongeluk.

As 18-jarige matrikulant aan Grey-kollege in Bloemfontein was hy 1,86 m lank, fris gebou en sportief. Hy het rugby, krieket en tennis gespeel en in gholf uitgeblink.

Ruan wou eers ’n prokureur word, maar omdat hy liewer tussen mense wou wees as agter ’n lessenaar, het hy op ’n loopbaan in bemarking besluit.

“Ruan het voluit geleef,” sê sy pa, Rynland. Foto: Verskaf

Hy was ’n ekstrovert met ’n groot vriendekring, gewild onder die meisies en altyd gereed om saam met sy pa te gaan jag, vertel sy gesin.

Dit was in die wintervakansie verlede jaar dat Ruan se lewe verander het. Hy, pa Rynland en Adrie se kêrel, Frikkie Markgraaff (28), was ’n week op ’n wildplaas op Boshoff naby Kimberley waar hulle gejag en vleis bewerk het.

Rynland is die dag voor die ongeluk terug huis toe, en Ruan en Frikkie sou eers die volgende oggend vertrek.

Donderdagaand het Ruan nog ’n selfievideo geneem van waar hy op ’n 185 cc-motorfiets op die plaas rondry – met een hand op die stuur en die selfoon in die ander.

Hy het dié video vir sy vriende en pa gestuur.

Ruan het dié foto drie dae voor die ongeluk geneem. Foto: Verskaf

Die volgende oggend, Vrydag 7 Julie, het Ruan vroeg opgestaan om die son te sien opkom. Toe klim hy weer op ’n motorfiets, hierdie keer ’n groter een, ’n 500 cc, en gaan ry ’n end.

Frikkie was in die huis besig om op te pak toe hy ’n plaaswerker hoor gil. Sowat 250 m van die plaashuis af, tussen ’n skuur en beeskrale, het Ruan beheer oor die motorfiets verloor en teen die kraalmuur gebots, vertel Rynland.

Die regterkant van sy voorkop het die klippe getref, sonder ’n valhelm om hom te beskerm.

Toe Frikkie vir Rynland bel, het hy kalm geklink, en Rynland het gesê hy moet Ruan net dokter toe vat.

Eers toe Frikkie sê Ruan haal nie asem en het nie ’n hartklop nie, het die paniek ingeskop. Hulle het ’n ambulans ontbied, maar Frikkie wou nie langer wag nie en het Ruan in die bakkie gelaai en na die Mediclinic Gariep in Kimberley gejaag.

Rynland, Adrie en Liesel is inderhaas soontoe.

“Daardie dag is die mat onder ons uitgeruk,” vertel Rynland van die oomblik toe hy sy seun agterop Frikkie se bakkie sien lê. ’n Plaaswerker was besig om op sy bors te druk om hom aan die lewe te probeer hou.

“Ek onthou die baie bloed en hoe hy geruk en geroggel het,” vertel Adrie van die skokoomblik toe sy haar broer in die ongevalleafdeling sien.

“Ek het die susters gesmeek om die bloed skoon te maak omdat ek geweet het Ruan sou nie daarvan hou nie. Hy was altyd so netjies.”

Hy is gestabiliseer en per ambulans na die Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas.

André, wat as traumachirurg in Bloemfontein aan diens was, ken toevallig al vir Ruan vandat hy 11 was.

‘Die verandering wat ek sien, is ongelooflik. Hy toon emosie; hy voer opdragte uit’

“Toe hy Ruan sien, vra hy my: ‘Is dit my witkop?’ ” vertel Liesel aangedaan. In ’n operasie die volgende oggend is die bloeding op Ruan se brein gedreineer en die swelling het begin sak.

André, wat hom saam met dr. Wynand van Jaarsveld, ’n neurochirurg, behandel het, sê dis moeilik om te bepaal presies wanneer ’n pasiënt uit ’n koma ontwaak.

Ruan het ná vyf maande beweging begin toon, self begin asemhaal en daar was oogbewegings.

Toe moes die Jouberts die skoknuus begin verwerk: Hy is in ’n sogenaamde nákoma (sien kassie) en sal nooit volkome van sy breinskade herstel nie.

Ruan het ’n “major breinbesering’’ opgedoen, verduidelik André. Sy breinstamreflekse werk steeds, maar die hoër breinfunksies wat nodig is vir onder meer kommunikasie, besluitneming en beplanning ontbreek.

Dis onwaarskynlik dat hy weer dieselfde lewe as voor sy ongeluk sal kan lei, maar daar is hoop op nog vordering, soos om op sy eie te eet, meen André.

Ná vyf maande is Ruan van die Mediclinic se hoësorgeenheid oorgeplaas na die Berea-sorgsentrum, waar agt susters – of “engele” soos Liesel en Adrie hulle noem – hom dag en nag versorg.

Sy ouers en suster bly hoop dat Ruan soos hulle hom voor die ongeluk geken het – vol lewenslus en ewe tuis op die sportveld as in die Bosveld – weer na hulle sal terugkeer.

Ruan se ousus, Adrie, en ouers, Liesel en Rynland, by hom in die sorg­sentrum in Bloemfontein waar hy 24 uur per dag versorg word. Foto: Huisgenoot/Dino Codevilla

Toe Adrie 16 was, is kolonkanker by haar gediagnoseer, maar sy het dit oorwin en glo wonderwerke is moontlik.

Sy glo vas haar broer gaan “oukei” wees. “Die verandering wat ek sien, is ongelooflik,’’ sê sy. “Hy toon emosie; hy voer opdragte uit.

Dis stadig, maar dis daar.” Hulle vertel hulle sal nooit hoop verloor dat Ruan weer homself sal wees nie.

“Dis taai om langs jou seun se bed te staan en positief te bly terwyl jy weet daar is niks wat jy uit eie krag vir hom kan doen nie,” erken Rynland, “maar ons hoop is op God.”

En selfs al moet hulle dit dan nou vir die res van hul lewe doen, sal hulle hul weg weekliks na hul seun vind, want miskien word daardie sprankies hoop eendag weer ’n lig en lewensvuur. 

KOMA OF NAKOMA?

Pasiënte in ’n koma kan nie hul oë oopmaak, praat of hul ledemate beweeg nie.

Net hul hart klop en hulle haal asem, verduidelik die traumachirurg dr. André Loubser.

Dokters gebruik ’n spesiale komateuse skaal waar ’n telling van agt en laer beteken ’n pasiënt is in ’n koma.

Wanneer ’n pasiënt uit ’n koma begin ontwaak, is die telling hoër as agt.

Hulle kan dan weer hul oë oopmaak en hul ledemate beweeg.

Wanneer hulle soos Ruan Joubert reaksie toon en daar ’n flikkering van beweging is, staan dit as ’n nakoma bekend.

Dit beteken egter nie hulle sal noodwendig volkome herstel nie.