"Pappa, nee!" was die laaste woorde wat Watts se vierjarige dogtertjie vir hom gesê het. En terwyl sy verbete om haar jong lewetjie geveg het, het die man wat haar moes beskerm haar versmoor en in 'n olietenk gegooi.

Net soos hy voor haar met haar jonger sussie gedoen het.

“Ek hoor dit elke dag, wanneer Bella met my praat, wanneer sy sê: ‘Pappa, nee!’”

In November verlede jaar het Watts (33), van die Amerikaanse deelstaat Colorado, skuldig gepleit aan die moord op sy swanger vrou, Shan'ann (34), en hul kinders, Bella (4) en Celeste (3) wie se troetelnaam Cece was. Hy het hulle op die oggend van 13 Augustus koelbloedig vermoor.

Bella

Celeste

Die nuus van haar swangerskap was 'n groot verrassing. Op 11 Junie 2018 het sy die oulike video gedeel met die woorde "Oeps, ons het dit weer gedoen" op haar T-hemp. Watts lag toe hy die kloutjie by die oor bring en sê dis "awesome".

Dié foto is op 1 Julie 2018 deur Shan'ann gedeel. Wie sou kon raai dat die twee slapende kinders net meer as 'n maand later, op 13 Augustus 2018, deur hul pa vermoor sou word?

Watts het aanvanklik die kinders se dood op Shan'ann blameer. Maar 'n leuenverklikkertoets het hom gebreek.

"Dit was aaklig," het hy gesê en dit beskryf as 'n proses waardeur sy brein soos jellie begin voel het.

Hy het sy skokkende bekentenis oor die moorde die oggend van 13 Augustus gemaak in ’n vyf uur lange onderhoud op 18 Februarie met wetstoepassers. Hy het ook oopgemaak oor sy gemoed in die weke en maande in aanloop tot sy bekentenis en daaropvolgende skuldigbevinding. 

Die opnames van die onderhoud is eers verlede week Donderdag bekend gemaak.

Tydens sy bekentenis het Watts vir die polisie gesê dit het hom 45 minute geneem om met Shan'ann se lyk agter in sy bakkie na ’n afgeleë olieveld te ry terwyl sy dogters, wat toe nog geleef het, op die agterplek aan mekaar sit en vasklou het.

“Tydens die rit het die meisies af en toe ingesluimer, mekaar vasgehou, en in mekaar se skoot gelê,” lui die sentrale buro van ondersoek (CBI) se verslag oor Watts se bekentenis.

Watts het vir speurders gesê hy het tydens die rit nie helder gedink nie.

“As ek gedink het, sou dit nie gebeur het nie. Of selfs enige sweempie van wat ek vir daardie meisies of wat ek vir my vrou voel, dan sou niks hiervan gebeur het nie. So, ek het nie gedink nie.”

Seks, 'n rusie en moord

Watts en sy vrou het volgens hom rusie gemaak die oggend van die moorde, enkele ure nadat hulle intiem verkeer het. Die rusie het oor Watts se affair gegaan. Hy het haar verkul met 'n kollega, Nichol Kessinger, en 'n betraande Shan'ann het glo vir hom gesê hy sal nie weer sy kinders sien nie.

Toe verwurg hy haar.

Bella het die slaapkamer binnegekom en wou weet wat aangaan terwyl hy besig was om sy vrou se lyk in 'n laken toe te draai.

"Mamma voel nie baie lekker nie," was sy verduideliking. Bella het begin huil.

Watts het gesukkel om haar lyk by die trappe af te dra, toe sleep hy haar. En hy vermoed dit was die geluide wat die lewelose Shan'Ann se voete op die trappe gemaak het, wat klein Cece wakker gemaak het.

Voor hy sy vrou se lyk in ’n vlak graf begrawe het, het Watts sy jongste dogter, Cece, op die agtersitplek van sy bakkie met haar blou Yankees-kombersie versmoor.

Na hy van haar lykie ontslae geraak het, het hy teruggekeer om Bella te versmoor, wat toe in ’n sagte stem vra: “Gaan dieselfde met my gebeur as met Cece?” voor sy haar laaste woorde geuiter het: “Pappa, nee!”

Watts sê hy treur elke dag oor sy vrou en kinders en het selfs foto’s van hulle in sy tronksel.

Watts dien vyf lewenslange vonnisse in die Dodge korrektiewe instelling in Waupun, Wisconsin, uit nadat hy om sekuriteitsredes van 'n tronk in Colorado oorgeplaas is. Hy is glo ook in die Colorado-tronk deur medegevangenes gekoggel terwyl hulle hom van raad bedien het oor hoe hy sy eie lewe kan neem.

Bronne: sunshinecoastdaily.com.au, crimerocket.com, cnn.com