Ná ’n week tuis is die meeste van vanjaar se matrieks weer terug by die skool. En dinge is steeds nie naastenby normaal nie. Niemand frons meer as iemand met ’n masker rondstap nie. Onderwysers met gesigskerms en leerlinge wat ver van mekaar af staan, is nou iets waaraan die meeste leerders gewoond geraak het. 

Huisgenoot het by nog ’n paar matrieks gaan uitvind hoe dit met hulle gaan en watter uitdagings hulle tot dusver moes oorkom. 

AJ Coetzee, Hoërskool Zastron

AJ Coetzee
AJ Coetzee

“Hierdie jaar hou vir ons matrieks baie uitdagings in,” sê AJ Coetzee, ’n leerling aan die Hoërskool Zastron in die Vrystaat wat op ’n plaas naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap woon. 

AJ is gewoonlik in die koshuis, maar met die aanvanklike inperking wat in Maart begin het, moes hy by die huis met sy skoolwerk aangaan. Iets wat nie noodwendig maklik was nie. “Dit was ’n groot uitdaging om weke lank skoolwerk by die huis te doen, en dít boonop sonder selfoonopvangs, Wi-Fi, internet en nie ’n telefoon by die huis nie. Ek moes vinnig ’n plan maak om elke dag my huiswerk te kry sodat ek op datum kon bly en nie agter raak nie. Ek moes elke dag ver ry om ’n sein te soek sodat my huiswerk kon deurkom op WhatsApp. Dit het baie selfdissipline geverg, veral toe my pa en ma terug werk toe is en ek self moes onthou om te ry; ma was nie daar om my te herinner nie,” vertel AJ.

“Gelukkig het ek wonderlike onderwysers wat verstaan en wat uit hul pad gegaan het om ons te help met video's en om inligting te stuur. Sonder hulle sou ek uit die bus geval het.”

AJ verlang veral na die sport waaraan hy graag deelgeneem het. “Voor die pandemie het ek atletiek gedoen en rugby gespeel. Dit het ons baie besig gehou aangesien ons eerstespan soveel ideale gehad het vir hierdie laaste rugbyseisoen. Ek sou darem baie graag wou weet vandag speel ek my laaste rugbywedstryd van my lewe. En met die pandemie het ek dit reeds gespeel sonder dat ek dit geweet het, nou is dit vir altyd verby,” sê AJ. 

Hy is ook soos die res van die matrieks weer terug by die skool. “Noudat ons matrieks terug is by die skool en ek in die koshuis is, is dit baie vervelig daar, want ons mag nie rugby oefen nie. En as daar nie rugbyoefening was nie, het ons altyd tag rugby gespeel asook pool by die koshuis, maar nou mag ons nie meer nie,” vertel hy van die veranderinge. 

“Ek is baie lief vir motorfietsry, om motorfietse reg te maak, saam met my pa te boer in sy aftyd en saam met my pa en beste pel te gaan jag. Ek en my beste pel, Chris Theron, het die afgelope vyf jaar elke Junie-vakansie saam gekuier en gaan jag, maar hierdie jaar kon ons dit nie doen nie. Dit was baie sleg was. Dit sou ons laaste jagseisoen gewees het voor ons die grootmenswêreld betree.”

AJ is nog nie doodseker wat sy toekomsplanne inhou en wat presies hy ná skool wil doen nie. “Die belangrikste is nou om eers my matriekjaar te voltooi,” sê hy en voeg by: “Ons matriekklas van 2020 loop baie laastes van ons skoolloopbaan mis, soos rugbywedstryde, saam kuier, prysuitdelings, sportafsluitings en miskien ook nog matriekafskeid en 40 days om net ’n paar te noem. Ons sal nooit hiervan herinneringe of foto's hê nie, maar ons het vanjaar baie waardevolle lewenslesse geleer wat ander jare se matrieks nie so vroeg in hul lewe al geleer het nie. Ten spyte van al die uitdagings, teleurstellings en baie onsekerheid is ek positief oor die toekoms, en ek sien daarna uit om met skool klaar te maak.”

Elmari Bezuidenhout, Hoërskool Staatspresident Swart, Brandfort

Elmari Bezuidenhout
Elmari Bezuidenhout

Elmari woon op ’n plaas net buite Brandfort in die Vrystaat. Hoewel haar dae tydens die aanvanklike inperking met skoolwerk gevul is, koester sy die tyd wat sy saam met haar gesin kon deurbring. “Ek en my twee susters is ons hele skoolloopbaan in die koshuis, en om vir so 'n lang tyd by die huis te wees, het geleenthede geskep vir ons gesin om ons bande te versterk. Ons het saam gelag, saam gehuil en saam elke uitdaging aangepak,” vertel sy. 

Elmari is ’n boekwurm wat graag “dik Engelse boeke” verslind wanneer sy kans kry.

Sy mis die vryheid om fisieke kontak met mense te hê en om mense se glimlagte te kon sien. “Niemand van ons het op die laaste dag van die eerste kwartaal gedink dat dit die laaste drukkies en selfs high fives vir 'n lang tyd sou wees nie. Min het ons geweet dat ons glimlagte onder maskers weggesteek sal word."

Elmari wil graag ná skool medies studeer. “Hoewel die pandemie die wêreld mal gemaak het, bly ek vasklou aan my droom en werk ek harder as ooit daarvoor. Ek sal graag ook wil spesialiseer in narkose en so my droom uitleef. My toekomsplanne plaas ek egter in God se hande en bid elke dag dat ek volgens Sy planne sal leef, maar ek wil graag my studie voltooi en suksesvol wees in my en my ouers se oë.”

Luke Burger, Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch

Luke Burger
Luke Burger

Die rugbyseisoen het nog nie eens behoorlik begin nie, toe word dit afgestel. Luke, die hoofseun van die Paul Roos Gimnasium, sou vanjaar weer vir die eerste rugbyspan uitgedraf het, en dié buite-senter is ook vanjaar kaptein van die span. Boonop het hy gehoop om vir oulaas deel te neem aan die Cravenweek-rugbytoernooi wat vanjaar in Port Elizabeth gehou sou word.

“Ons het voor die inperking ’n rugbydag op Nuweland gehad waar ons 20 minute aan ’n kant gespeel het. Ek het ’n game of twee gespeel en dit was dit. Dit sou baie lekker gewees het om ook vanjaar in ons finale interskole-wedstryde te kon speel,” sê Luke wat volgende jaar ’n B.com.-graad aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer terwyl hy vir die universiteit en die Westelike Provinsie rugby gaan speel.

Hy meen egter hy is dankbaar dat hy verlede jaar hierdie geleenthede kon hê. “Ek voel baie jammer vir die ouens wat al hierdie dinge vanjaar vir die eerste keer sou ervaar,” sê hy. Luke meen hy het aanvanklik nie gedink die pandemie gaan sulke verreikende gevolge hê nie. “Toe ons nie geweet het wanneer ons sal kan teruggaan skool toe nie, het dit my onrustig gemaak. Maar ek kon gelukkig goed byhou met my skoolwerk,” sê hy.

Luke meen die eerste week terug by die skool was ’n vreemde ervaring met temperatuurmetings, maskers, en die konstante ontsmettingsprosedures. “Ons periodes is nou ’n uur en ’n half lank en ons het net vier periodes per dag,” sê hy. 

Tania Coetzee, tuisonderrig, Noord-Kaap

Tanie Coetzee
Tania Coetzee

Weens die verlammende droogte in die Noord-Kaap, doen Tania Coetzee al sedert 2018 tuisonderrig. Sy woon saam met haar ouers op ’n plaas naby Garies. 

“Die lewe by die huis is vir my lekker, maar die onsekerheid werk nogal op ’n mens se senuwees. Maar dan dink ek weer dat die klas van 2020 nooit vergeet sal word nie. Dit moedig my aan om my beste te gee,” vertel sy.

“Ek hou baie van geskiedenis en hierdie jaar gaan vir seker in die geskiedenisboeke opgeskryf word.”

Die pandemie en die inperking het wel nie Tania se skedule met skoolwerk verander nie. “Ek gaan aan soos gewoonlik. Omdat ek so geseënd is om op ’n plaas te woon, hou ek daarvan om die skoonheid van die natuur en die diere op die plaas op foto's vas te vang. Ek skryf ook graag in my vrye tyd en lees baie,” vertel sy. 

Sy het gehoop om ná skool te gaan au pair. “Maar weens my mediese toestand is dit nie moontlik nie,” vertel Tania, wat epilepsie het. Dit maak haar soms moedeloos, want sy meen dié toestand pootjie soms haar drome. “Ek droom daarvan om nie meer epilepsie te hê nie, want dit hou my terug. Maar ek hou moed en bly aan glo dat ek gesond sal word. Party dae is net ’n bietjie slegter as ander.

Sy gaan volgende jaar ’n gap-jaar neem. Tog wil sy graag eendag oorsee gaan werk en reis, sy droom daarvan om Amerika te gaan verken.

Kayla Borman, Hoërskool Stoffberg, Brakpan

Kayla Borman
Kayla Borman

Kayla Borman, hoofdogter van Hoërskool Stoffberg in Brakpan, meen die tyd tuis was vir haar nodig sodat sy kon rustig raak en besef waaroor die lewe eintlik gaan. 

“My lewe was baie besig voor die pandemie, ek was deel van die eerste hokkiespan, deel van ons skool se revue en ook 'n dirigent,” vertel sy oor haar bedrywige program. Tog mis sy dit om tyd saam met haar vriende deur te bring en die lekker skoolaktiwiteite.

 In haar vrye tyd sing sy graag en skryf gedigte. “Ek beplan om volgende jaar onderwys te studeer en ook teologie deeltyds te studeer,” vertel Kayla.

“My droom is om eendag my eie koffiewinkel te kan besit.”

Zoë Röhrs, St Dominic’s College, Welkom

Zoë Röhrs
Zoë Röhrs

“Van my gewone lewe voor die pandemie mis ek dit die meeste om kerk toe te gaan, om sport te kan bywoon, die muurbaltoernooie, asook my pligte as hoofmeisie,” vertel Zoë Röhrs van Welkom.“Ek het nooit besef my buitemuurse aktiwiteite sal in 'n oogwink wegval nie. Die hokkie, swem en muurbal is deel van my ontvlugting,” vertel sy verder. Sy was veral teleurgesteld toe die skool se matriekafskeid nie kon voortgaan nie, weens die nasionale inperking wat in Maart ingestel is.

Sy wil graag ná skool in ’n mediese of farmaseutiese rigting studeer, maar sy is nog nie doodseker nie. “Om mense te help is my passie,” vertel Zoë, wat ook baie gelowig is. “My droom is werklik om die wêreld ’n beter plek te maak, een stap op ’n slag. Deur die Here se woord te versprei, weet ek dat ek ’n positiewe invloed op soveel mense se lewens kan maak.”

Sy meen die matriekklas van 2020 sal vir altyd bekend wees vir hul uithouvermoë, en sy hoop dít sal hulle help om die land in ’n beter rigting te stuur. 

Almie Kotzé, Hoërskool Piketberg

Almie Kotzé
Almie Kotzé

Dertien jaar lank was die Hoërskool Piketberg Almie Kotzé se lewe. Sy was in die koshuis, want haar ouers woon eintlik naby Aurora in die Sandveld. 

“Dit is ’n baie klein dorpie in die middel van Piketberg en Velddrif teen die Weskus. Ons bly op ’n plaas so 8 km buite Aurora,” verduidelik Almie sommer gou. “Ek het begin by Hoërskool Piketberg toe ek gr. R was en maak dié jaar klaar,” sê sy. 

Haar skooljaar was aanvanklik baie bedrywig aangesien sy op verskeie komitees dien, hoofmeisie van haar koshuis is en deel is van die skool se leerlingraad. 

Almie mis die skool se sosiale sokkieaande. “Ek mis ook die Saterdae wat ons op die pawiljoen sit en skree vir die wit en blou wat uitdraf of die witrokkies wat met trots op die baan hul harte uitspeel. Ek mis ook pouses by die snoepie waar ’n stokkielekker die ding gedoen het as jy lus was vir iets omdat jy net 'n R2 by jou het,” vertel sy. 

“Omdat ek bitter lief is daarvoor om rondom mense te wees het die afsondering op die plaas nogal erg geraak, maar ek het besef ek het dit ook nodig. So baie soos ek van skool hou en so baie soos ek dit sal mis, so erg was dit vir my om terug te gaan skool toe, want die lewe op die plaas het belangrik geword vir my gesondheid. Op die plaas is tyd nie ’n faktor nie, en nog minder stres – nie dat ek al ooit gestres het oor skool nie, maar daar is nie sperdatums nie en ook nie toetse nie,” sê sy.