“Hy is ’n klein vegtertjie. Hy is van die ventilator afgehaal en kry nog suurstof deur ’n pypie, maar hy moet die meeste van die werk self doen,” sê Jean-Mari Muller, JD Lange se tante.

JD is sedert 2 Maart in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad nadat hy by sy dagsorg in Saldanhabaai in die swembad beland het.

Huisgenoot het berig sy ma Jessica (28), het met ’n nuwe werk begin en hom sowat ’n uur voor die voorval by die dagsorg afgelaai.

Sy het na haar werk gery toe iemand van die dagsorg haar bel.

Foto's verskaf
Foto's verskaf

Personeellede het self met JD na die privaat Life West Coast-hospitaal in Vredenburg gejaag. Hy is dieselfde dag na die Rooi Kruis-kinderhospitaal oorgeplaas.

Sedertdien was JD op ’n asemhalingsmasjien.

“Dokters kan nog nie met sekerheid sê of hy breinskade het nie. Dit gaan als afhang van hoe hy reageer op die fisioterapie. Dokters monitor hom elke dag.”

JD is Donderdag van die asemhalingsmasjien afgehaal.

Volgens Jean-Mari was Jessica in ekstase om hom vas te hou.

“Sy het my vanoggend opgewonde gebel om te sê sy gaan hom vandag vir die eerste keer vashou. Haar mammahart was baie bly gewees.” 

Sy sê daar is nog geen aanduiding van hoe lank JD nog in die hospitaal gaan wees nie.

“Hy is steeds in die hoësorgeenheid, en jy kan sien hy is vreesbevange as hy wakker word. Dokters sê hulle dink hy herleef die ongeluk oor en oor. Hy kry hierdie vreeslike uitdrukking op sy gesig en dan begin die trane loop.”

Dokters het ook sy morfieninname verhoog om hom rustig te hou.

“Ons vat elke dag soos hy kom. Dit is ’n reusestap tot herstel, en ons weet en glo hy gaan ten volle herstel en een dag die hele wêreld vol hardloop.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.