Die opgewondenheid nadat die peuter JD Lange van Saldanhabaai twee weke gelede ná 58 dae uit die hospitaal ontslaan is, was van korte duur.

JD moes op Moedersdag, Sondag, weer per ambulans na die Rooi Kruis-kinderhospitaal gebring word nadat hy simptome van hoë koors en braking ondervind het.

Johan Lange (56), JD se oupa, by wie hy en sy ma, Jessica (28), woon, het bevestig JD en sy ma is tans vir veiligheid in isolasie in die hospitaal geplaas.

Hoewel JD behandel word asof hy die coronavirussiekte COVID-19 onder lede kan hê, het hy sover negatief getoets, het sy oupa bevestig.

Verdere toetse word nou uitgevoer om te bepaal wat fout is. Intussen moet JD en sy ma in afsondering op antwoorde wag.

“JD het Saterdagnag seker so 22:00 se koers erg begin siek word. Sy koors was baie hoog gewees en hy het deur die nag bly braak. Hy kon nie sy kos óf medisyne inhou nie. Teen die oggend het sake glad nie goed gelyk nie en het ons ’n ambulans ontbied.”

Toe Huisgenoot Jessica bel, kon sy glad nie daaroor praat nie.

“Ek dink Jessica voel baie ontmoedig op die oomblik omdat niemand vir haar kan sê wat fout is met JD nie. Ek dink die tragea in sy keel pla hom baie,” sê haar pa.

Johan vertel sedert JD ontslaan is, het dit andersins baie goed met hom gegaan en kon hulle die vordering in sy toestand sien.

Huisgenoot het in Maart berig hoe JD en sy familie se lewens handomkeer verander het toe hy op Maandag 2 Maart by sy nuwe dagsorg in die swembad beland het.

Hy was klinies dood, maar is deur noodpersoneel bygebring nadat die skool se personeel met hom na die plaaslike hospitaal gehaas het.

Sedertdien is dit bevestig JD het erge breinskade opgedoen en moet nou deur ’n tragea asemhaal en buisvoeding deur sy maag kry.

“Die tyd in die hospitaal was vir Jessica baie sleg. Sy het geweet hulle sal nie altyd so kan lewe nie. . . Dit was fantasties om JD weer terug by die huis te hê.”

Hy lag: “Het jy gesien hoe het ek die ander dag met hom langs die see gaan stap?”

Die familie plaas gereeld nuus oor JD op sy ondersteuningsblad JD Lange Prayers and Updates op Facebook.

Met die nuwe inperkingsreëls op Vlak 4 kon Johan tussen 6 uur en 9 uur die oggend langs die see met sy kleinseun gaan stap.

Die plesier is sigbaar op klein JD se gesig.

“Dis baie swaar vir hom met die tragea. Sy oupa weet dit, maar vandat hy by die huis is was daar al baie meer vordering. Hy beweeg sy armpies en bene baie meer. Ons probeer hom net so ver moontlik gemaklik hou.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.