“Ja, hulle moes hom gisteraand weer ’n bietjie morfien gee, want as hy wakker word wil hy al sy pype uittrek. Ek dink nie hy weet waar hy is nie, hy is baie verward,” het Jean-Mari Muller, klein JD Lange (1) se tante, Maandag aan Huisgenoot gesê.

In die video wat sy op die groep JD Lange Prayers and Updates geplaas het, kan ’n mens klein JD se goeie vordering sien.

JD is sedert verlede Maandag in die hospitaal nadat hy by sy nuwe dagsorg in Saldanhabaai in die swembad beland het. Huisgenoot het toe berig, sy ma, Jessica (28) wat met ’n nuwe werk begin het, het hom skaars ’n uur tevore afgelaai en na haar nuwe werk gry, toe iemand van die skool haar bel.

Personeellede van die skool het self met JD na die nabye private Life West Coast-hospitaal in Vredenburg gejaag nadat personeel eers hier noodhulp op hom probeer toepas het. Hy is dieselfde dag na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

“JD het nie byna verdrink nie. Hy hét verdrink. Hy was klinies dood. Dit het die dokters 30 minute geneem om hom weer by te bring . . . Hulle het hard baklei, hulle weet die meeste kinders wat oorgekom het, wat JD oorgekom het word net nie weer wakker nie . . .”

Hulle was opgewonde toe die skanderings Vrydag wys daar is geen breinskade nie, maar hulle bly versigtig optimisties.

“Al het die skandering gewys JD het nie breinskade nie, waarsku die dokters dit is wel nog te vroeg om te sê. Hy is nog nie buite gevaar nie. Hy kan ná ses maande nog probleme ontwikkel.”

Sy vertel sy ma wat pal langs sy bed is, trek steeds swaar.

“Sy is ’n emosionele wrak. Ek weet wanneer sy by hom is probeer sy vrolik wees, maar sodra sy daar uitstap dan loop die trane. Sy sukkel om haar kind so te sien.”

Jean-Mari vertel hulle bly egter positief en fokus op die goeie tekens.

“JD druk sy mamma en oupa se vinger. Gisteraand het hy ook myne styf gedruk, daar is baie krag in daai bulletjie. Hy maak sy ogies oop en hy wil die pype uittrek . . .”

JD saam met een van sy tantes. Foto: Verskaf
JD saam met een van sy tantes. Foto: Verskaf
Klein JD Lange (middel) voor die ongeluk saam met
Klein JD Lange (middel) voor die ongeluk saam met familie. Foto: Verskaf
Klein JD Lange saam met sy ma Jessica. Foto: Versk
Klein JD Lange saam met sy ma, Jessica. Foto: Verskaf

Al waarvoor hulle nou wag is dat JD op sy eie kan asemhaal en “Mamma” sê, soos Jessica wens.

“Sy gaan daai dag deur die dak spring. Ons weet dit kom nou naby . . .”