Die eenjarige JD is Dinsdagaand vir die eerste keer uit die waakeenheid van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad na ’n hoësorgsaal oorgeplaas en hy het reeds met intensiewe fisioterapie begin.


Jessica Lange (28), JD se ma, het Woensdagoggend vertel JD geniet glad nie die terapie nie en is ook nog onder verdowing. “Ek hoop dat hulle hom nou gou heeltemal van die morfien kan afkry. Ons wag op die dokter om ons te kom inlig oor die pad vorentoe wat sy rehabilitasie betref.”

Huisgenoot het vroeër berig die fratsvoorval het op Maandag 2 Maart by JD se nuwe dagsorgsentrum gebeur op die dag dat Jessica ook ’n nuwe werk sou begin.

Sy het hom skaars afgelaai toe die skool haar bel en sê JD het in die swembad beland. Die skool se personeel het self met hom na die nabygeleë Life West Coast-hospitaal gejaag, waar hy wonderbaarlik bygebring is. Hy is dieselfde dag na die hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jessica het Woensdagoggend vertel sy het Dinsdagnag vir die eerste keer langs haar kind in sy kamer geslaap. Sy kon dit nie doen toe hy in die waakeenheid was nie.

“Hy het baie slym op sy longe; hulle suig dit uit met ’n pypie,” vertel sy moeg. Maar dié ma byt elke oomblik vas en vertrou dat haar blouoogseuntjie volkome sal herstel.

JD Lange
Jessica Lange by haar seuntjie, JD, wat amper verdrink het. Foto: Verskaf
Klein JD Lange voor die ongeluk. Foto: Verskaf
Klein JD Lange voor die ongeluk. Foto: Verskaf
Klein JD Lange saam met sy ma Jessica. Foto: Versk
Klein JD Lange saam met sy ma, Jessica. Foto: Verskaf

“Die Here het hom so ver gebring; ek glo Hy gaan hom nou net verder vat. Toe JD uit die waaksaal is en ek vir hulle dankie sê vir alles wat hulle vir hom gedoen het, toe sê die dokter hulle moet vir my dankie sê.

“Elke keer dat hulle onseker was of JD dit gaan maak, het ek gesê ek is seker hy gaan. Toe gesê is hy het dalk breinskade, het ek gesê ek is seker hy het nie. Toe gesê is JD gaan dalk nie uit hierdie hospitaal kan loop nie, het ek gesê hy gaan hier uithardloop. Dit is net hoe sterk my geloof is.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.