Die eenjarige JD Lange se operasie in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad om voortaan met ’n tragea te kan asemhaal, was ’n sukses.

Jean-Mari Muller, JD se tante, vertel sy ma, Jessica (28), sal nou eersdaags leer om self na dié sintetiese asemhalingstoestel om te sien sodat JD daarmee kan huis toe gaan.

“Hulle het JD Dinsdagoggend vir sy operasie ingeneem. Sy ma het letterlik op naalde geloop van spanning. Sy oupa (JP) was ’n wrak. ’n Mens kon die verligting in hul oë sien toe JD daar uitkom en hulle hoor alles het goed afgeloop,” vertel sy.

Sy vertel onder die omstandighede gaan dit reeds baie beter met hul blondekop vegtertjie wat drie weke gelede by sy nuwe dagsorgsentum in Saldanhabaai in die swembad beland het.

JD het in dié voorval verdrink, maar is weer deur dokters bygebring nadat die skool se personeel met hom na die nabye Life West Coast-hospitaal gejaag het. Hy is dieselfde dag – Maandag 2 Maart – na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas.

“Jessica is as’t ware nog al hierdie tyd in lockdown. Sy is pal langs JD se bed. Ek kan sien sy is vodde. Maar sy en JD het gisteraand ’n goeie nagrus ingekry. JD het ná die operasie lank geslaap. Toe hy daar ontwaak, was sy ogies heeltemal wakker. En sy oë volg sy ma waar ook al sy heen beweeg!”

Jean-Mari meen dis die eerste keer sedert sy terugslag verlede week Donderdag dat JD weer by sy volle bewussyn is.

Huisgenoot het vroeër berig hy het skielik die terugslag beleef nadat hy uit die intensiewe- na die hoësorgeenheid oorgeplaas is. Hy het skielik ophaal asemhaal.

Hy is toe vir ’n CT-skandering wat dokters se grootste vrese bevestig het: JD hét ernstige breinskade opgedoen, al het die eerste skanderings getoon dat dit nie die geval is nie.

Dit het getoon die senuwees wat sy asemhaling- en slukfunksie reguleer, is inderdaad beskadig. Dokters het toe gemaan JD sal nie weer op sy eie sonder hulp kan asemhaal nie; hy sal ook nooit weer kan sit, staan of loop nie.

Jean-Mari vertel ’n lang herstelpad lê nou voor en dat die toekoms nou baie onseker lyk.

Klein JD Lange ontvang nou fisioterapie in die Roo
Klein JD Lange ontvang nou fisioterapie in die Rooikruis-kinderhospitaal. Foto: Facebook
JD Lange
Jessica Lange by haar seuntjie, JD, wat amper verdrink het. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Noudat JD die tragea het, gaan hy vandeesweek eers in intensiewesorg moet bly. Hy gaan hopelik volgende week na ’n ander saal oorgeplaas word. Hier sal sy ma dan leer om hom self met die tragea te versorg en hoe om die meganisme, soos die filters, skoon te maak.

“Wat dit alles nog gaan behels wanneer hy huis toe gaan – watter masjiene en toestelle saam moet gaan – weet ons nog nie. Ons weet nog nie eens waar ‘huis’ vir hulle gaan wees nie! Die dokters het reeds gesê Jessica sal minstens vir die volgende jaar nie kan werk nie.” Jessica het juis op die dag van die ongeluk ’n nuwe werk as verkoopsdame begin.