Jessica Lange (28), die 19 maande oue JD se ma, was so opgewonde oor die nuwe vooruitsig toe dokters Dinsdag sê hy kan huis toe gaan, dat sy op en af gespring het van blydskap, vertel sy tante.

“Hoor hier, toe die dokters sê JD kan eindelik huis toe gaan, was Jessica uit haar vel gewees. Deur die dak. Ek moes haar vra: ‘Is jy oukei?!’ ” vertel Jean-Mari Muller, Jessica se niggie.

Klein JD, hier by sy ma, Jessica en oupa, Johan, w
Klein JD, hier by sy ma, Jessica en oupa, Johan, word eindelik na byna 60 dae in die hospitaal ontslaan. Foto: Facebook

JD was byna 60 dae in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad nadat hy op Maandag 2 Maart by sy nuwe dagsorgsentrum in Saldanhabaai in die swembad beland het.

Hy is op die toneel bygebring en  deur personeel na die plaaslike hospitaal gehaas, van waar hy dieselfde aand na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas is.

JD was dae lank in ’n koma en is eers ná meer as twee weke uit die intensiewesorgeenheid na ’n ander saal oorgeplaas. Van daar was dit ’n wipwarit met sy gesondheid. Nadat Jessica geleer het hoe om sy tragea, waardeur hy voortaan moet asemhaal, en sy buisvoeding self te hanteer, het die dokters besluit dat hy kan huis toe gaan.

Jessica, JD se ma, wat die laaste twee maande dag en nag in die hospitaal moes slyt, het ’n roerende boodskap op sy blad, JD Lange Prayer and Updates, geskryf: “Ons was so in die wolke dat ons vergeet het om die groot oomblik op kamera af te neem! Al wat ek kan meedeel, is dat beide oupa en JD snot en trane gehuil het toe hulle mekaar weer ná die vyf weke lockdown sien. Dis ’n liefde so groot. Ek was nie eens by nie, maar kan dit net imagine, en dan wil my trane ook vloei. Ek besef vanaand weereens hoe groot God se liefde vir ons is. Ek sien die liefde. Ek besef ook hoe geseënd ons is met almal wat betrokke is by JD se pad na herstel.”

Huisgenoot het vroeër berig hy het erge breinskade opgedoen, wat veroorsaak dat hy nie meer kan sit, staan, loop of self eet nie. Sy sig is ook aangetas.

Volgens Jean-Mari toon JD egter reeds baie vordering. “JD se sig het reeds herstel. Sy mamma kon die dag sien iets is anders en het die dokters geroep. Hulle het vasgestel sy sig is terug! Hy kry daagliks oefening. Hy volg sy mamma orals met sy ogies. Hy begin ook nou mooi smile.”

Jean-Mari sê Jessica en JD gaan voorlopig by haar ouers, Johan en Kowie, in Saldanhabaai bly.

“Ek dink as jy ’n pasgebore babatjie huis toe bring, is daar meer van ’n handleiding as ’n kindjie soos JD. Ek dink Jessica was so opgewonde as wat sy was, bang vir die rit van die hospitaal terug huis toe. Skielik is daar geen verpleegsters meer om haar te wys en te help nie. Sy moes noodhulp leer om hom self te help as iets verkeerd loop . . . ”

Jessica sal vir die volgende jaar glad nie kan werk nie, en weldoeners oor die land heen gryp in om die familie te help.

“Ek dink al wat ons kan doen is om op te kyk na die Here vir krag. Ons gaan baie hulp nodig hê met JD se herstelproses.”