Jessica Lange (28), klein JD se ma van Saldanhabaai, vertel sedert haar eenjarige seuntjie Maandag op sy eerste dag by ’n nuwe dagsorgsentrum in ’n swembad beland het, slaap sy op ’n stoel buite in die gang van die Rooi Kruis-kinderhospitaal se hoësorgeenheid.

“Ek is elke dag en nag hier. Daar is kwartiere vir die moeders buite die hospitaal, maar ek kan nie sover van my kind af wees nie.”

JD Lange toe hy kleiner was.Foto: Facebook

Huisgenoot het vroeër berig Jessica het JD Maandag by sy nuwe dagsorg in Saldanhabaai afgelaai en na haar nuwe werk gery, toe iemand van die skool haar minder as ’n uur later bel om te laat weet JD het in die swembad beland.

Personeellede van die skool het self met JD na die nabye privaat Life West Coast-hospitaal in Vredenburg gejaag nadat personeel eers noodhulp op hom probeer toepas het. Hy is dieselfde dag na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas.

Jessica vertel die dokters het nou begin om hom uit sy mediese geïnduseerde koma te bring. Hy is weens swelling op die brein vir die eerste drie dae onder sterk verdowing gehou.

“JD is steeds op morfien, maar hulle het dit vanoggend reeds baie verlaag, die medisyne wat hom in ’n diep slaap hou, is heeltemal gestop. Ek wag vir daardie oomblik wat hy wakker word en ‘Mamma’ sê. Net dit. Ek bid nou net vir volle genesing. Die hele land bid vir hom. Hy het nog sy hele lewe voor hom,” het dié enkelma Donderdag gesê.

In ’n roerende video kan mens reeds sien JD reageer op musiek.

Langs Jessica, was ook haar pa, JP Lange (55), wat haar deurentyd bystaan.

“Dis oupa se oogappel in daai bedjie, daai! Hy het Maandagoggend nog langs my wakker geword. Hy is Johann Darryl – JD – en ek is Johannes Petrus – JP. Ek is positief hy gaan heeltemal regkom. Ek het nou by sy bedjie gaan staan en vir hom gesê: ‘Kom, word wakker laat ons in die sand kan gaan speel.’

Jessica bedank haar niggie, Jean-Mari Muller, en vriendin, Chané Nel, wat sedert Huisgenoot se berig, spesiaal die Facebook-groep JD Lange and Updates geskep het om mense op hoogte te hou.