Polisieduikers by die kanaal in Carewstraat waar R
Polisieduikers by die kanaal in Carewstraat waar Rudicia gegly het. Foto: SAPS

Rudicia Gelant (9) het Sondagoggend by haar ouma gaan kuier.

Op pad soontoe het sy aan die speel geraak saam met ’n groep kinders naby die kanaal in Carewstraat.

Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê Rudicia het omstreeks 10:30 gegly, in die kanaal geval en onder die water verdwyn.

“ ’n Ander meisie het probeer om Rudicia te red, maar sy het toe ook gegly en in die water geval. Omstanders het gesien wat gebeur het en kon daarin slaag om die ander meisie te red, maar nie vir Rudicia nie.”

Lede van die polisie in Dysselsdorp, die Suid-Kaapse polisie se duikeenheid, rampbestuur en Oudtshoorn-wetstoepassing het onverpoos na Rudicia gesoek. Haar liggaam is die aand 19:45 gevind, het Spies bevestig. Die plaaslike media berig Rudicia se liggaam is gevind sowat 10 km van waar sy in die kanaal geval het. 

Volgens Spies is die polisie nog besig met hul ondersoek na die voorval. 

Die polisie het Sondag die lyk van Rudicia Gelant
Die polisie het Sondag die lyk van Rudicia Gelant uit dié kanaal in Dysselsdorp gehaal. Foto: SAPS

Alicia Marnewick, Rudicia se tannie aan vaderskant, sê dis nog baie seer vir Rudicia se pa, Ricardo, en die res van die familie sukkel om die nuus te verwerk. 

Rudicia se ma, Sarah, is ’n paar jaar gelede oorlede. Sy het by Sarah se ouers gewoon ten tyde van die ongeluk. Sy was op pad na haar ander ouma, Maria, toe die ongeluk gebeur het.

“Rudicia was ’n liefdevolle, slim kind wat altyd presteer het op skool,” onthou Alicia. Sy was ’n leerder aan die Dysselsdorp Primêre Skool. 

Rudicia was ’n leerder aan Dysselsdorp Primêre Sko
Rudicia was ’n leerder aan Dysselsdorp Primêre Skool. Foto: Facebook

“Ricardo is baie stil op die oomblik. Hy lyk steeds geskok, en die trauma moet nog verwerk word,” sê Alicia. 

Daar word reeds beplan aan ’n begrafnisdiens vir Rudicia. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe