Die blondekop­kleuter Liam Nortjé (3) van Harrism
Ná sowat ’n jaar en ’n half is daar bevestig dat die DNS van die oorskot wat gevind is, wel dié van Liam Nortjé is. Foto: Verskaf.

Dis Donderdag amptelik aan hulle bevestig dat die oorskot van sy lykie, wat enkele ure na sy pa se vonnis in Desember 2019, by ’n treinspoor buite die Oos-Vrystaatse dorp van Harrismith ontdek is, wel syne is.

“Die ergste was om heeltyd te wonder, so ons is bly ons kan nou ’n bietjie closure kry,” was Liam se ouer suster, Wynette (22), Vrydag aan Huisgenoot. Haar klein boetie was haar ewebeeld en sy het baie gehelp om na hom om te sien terwyl hy ’n baba was en terwyl hy grootgeword het.

Liam Nortjé
Foto: Verskaf.

Met ’n majestuese bergreeks en die wolke in ’n blou lugruim in die agtergrond, het Liam se naaste familie in Maart vanjaar die dag wat sy sesde verjaardag sou wees, met helderkleurige ballonne gevier.

Maar hulle het ook dié foto gebruik om almal te laat weet dat hulle nou afsluiting kan kry. By die foto skryf die familie: ‘Rus in vrede, klein Liampie,’ met die emoji van ’n engeltjie daarby. “Jy is nou veilig tuis.”

Liam was twee jaar oud toe hy in November 2017 by sy pa, Nantes Nortjé gaan kuier het en nooit weer huis toe gekom het nie. Sy ma, Cheinelle Brooks, wat vervreem van Nantes was, het hom toe by die polisie as vermis aangemeld.

Die vermiste Liam Nortjé.
Liam Nortjé. Foto: Verskaf.

Sonder antwoorde oor waar hy homself bevind, het hulle hom altyd gesoek. Nantes is twee jaar later op Vrydag 13 Desember 2019 in die Vrystaatse hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf vir sy jongste kind se moord gevonnis. In die opspraakwekkende saak kon adv. Amanda Bester, die aanklaer, Liam se moord en ontvoering sonder twyfel bewys, al is sy lyk nooit gevind nie.

Toe, in ’n skokwending maak iemand die ontdekking van sy oorskot, slegs ure ná die vonnis.

Die beendere, wat aan ’n blonde kind behoort het, was knus toegedraai in twee duvets en is by ’n treinspoor deur ’n stapper ontdek. Dit was duidelik só geplaas dat iemand dit maklik sou kon sien. 

Cheinelle het dadelik die klein Spiderman-sandale by die oorskot herken. DNS-toetse moes egter eers gedoen word om dit amptelik te bepaal.

 Nantes Nortjé.
Nantes Nortjé. Foto: Verskaf.

En steeds was daar dus die gryntjie hoop: Wat ás dit nie Liam se oorskot is nie . . .

Nantes is daardie Julie 2020 egter met al die antwoorde oor wat werklik met sy seuntjie gebeur het, graf toe. Hy het raaiselagtig in die Pelonomi-staatshospitaal in Bloemfontein gesterf. Hy was in ’n Bloemfonteinse gevangenis toe hy eensklaps “siek geword” en hospitaal toe gehaas is.

Liam Nortjé, hier saam met sy ma, Cheinelle.
Liam Nortjé, hier saam met sy ma, Cheinelle. Foto: Verskaf.

Volgens ’n betroubare bron na aan die saak sal daar nooit werklik antwoorde wees oor presies wat die dag van Liam se dood met hom gebeur het nie.

Maar toe die DNS-uitslag Donderdag kom, was daar wel afsluiting vir sy geliefdes.

Die familie eindig die skrywe: “Mag Pappa Jesus Sy hande om jou vou. Ons sal altyd lief bly vir jou.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.