’n Maand en ’n dag ná dié klein vegtertjie in ’n ongeluk erge brandwonde aan sy regterarm, gesig en lyfie opgedoen het, is hy uit die Garden City-hospitaal in Johannesburg ontslaan.

“Ek het gister weer met die dokter gesels. Ons gaan môre die laaste paar steke uithaal,” vertel Chanie aan Huisgenoot. “Ek het vir die dokter gesê hy sukkel nog ’n bietjie om te loop, so as dit nie binne ’n week beter is nie, dan gaan hy na ’n neurofisioterapeut toe moet gaan vir behandeling.”

’n Mens kan die blydskap in haar stem hoor. “Hy is baie bly om weer by die huis te wees en hy is baie gemakliker hier as in die hospitaal,” verduidelik sy. Die tweetjies karwei nou by ’n nabye winkelsentrum rond soos ons gesels. “Ons is nou by die winkels net sodat hy ’n bietjie kan uitkom en vars lug kry, maar hy love die huis.”

Loganv
Foto: Verskaf.

Chanie glo nie dat Logan, wat ’n gr. RR-leerder by die Laerskool Saamspan is, nog hierdie jaar weer by sy klassie gaan aansluit nie, en sy wil vir hom opvoedkundige speelgoed koop om hom te stimuleer. 

Logan verstaan nie heeltemal waaroor al die bohaai gaan nie aangesien hy vir drie weke by die hospitaal in ’n geïnduseerde koma gehou is. 

Logan kon ná drie weke uit sy koma wakker gemaak word, en Chanie sê die gevoel was onbeskryflik toe hy vir die eerste keer in die hospitaal sy ogies oopmaak.

“Ek voel hoendervel soos ek nou hier loop; dit is ongelooflik,” sê sy. “Ek kan dit vir niemand beskryf hoe dit gevoel het om hom net weer te kon vashou nie.

Logan
Logan se maatjies het vir hom ’n partytjie gereël toe hy onlangs vinnig daar ingeloer het. Foto: Verskaf.
Logan
Foto: Verskaf.

“Volgens hom was hy net vir ’n paar dae in die hospitaal, want hy was heeltyd onder verdowing gewees. So hy verstaan nie hoekom ons almal so opgewonde is nie,” vertel Chanie toe hulle Sondagmiddag 15 September huiswaarts ry.

Tydens die maand het hulle by haar man, Chris, se suster in Midstream, Johannesburg, gebly sodat hulle by Logan kon wees.

“Ons het hom so opgewonde gemaak om huis toe te kom, maar hy het nie mooi verstaan hoekom nie,” sê Chanie.

By die huis kon die Barnard-gesin eindelik een van die raaisels oplos wat hulle al vir ’n maand lank steur: Hoe het Logan gebrand wanneer die kannetjie petrol wat vir die grassnyer bedoel is, nie naby die braaivleisvuur was nie?

“Ons het reggemaak vir ons middagbraai,” onthou Chanie. Sy het by die swembad gesit, terwyl Logan en ousus Mira (12) gehardloop en gespeel het. Chris, ’n inligtingstegnologie-spesialis het by die tafel gesit en op sy rekenaar gewerk.

“Toe voel ek ewe skielik hitte en hoor hoe my kind skree,” sê Chanie. Sy het dadelik gesien Logan is besig om te brand en het die petrol geruik. Sy en Chris het dadelik vir Logan in die swembad gehou en daarna met hom na die naaste hospitaal gejaag. Hy is later per helikopter na die Garden City-hospitaal oorgeskuif.

Op pad hospitaal toe het hy heeltyd gehuil en gesê dat sy lyfie baie seer is. “Ek het vir hom getroos en gesê: ‘Toemaar, dis ’n ongeluk. Dis oukei, die dokter gaan jou beter maak,’ ” onthou Chanie.

Logan
Foto: Verskaf.

’n Maand later kon hulle tuis vir Logan vra wat gebeur het. “Ons vra toe vir hom hoe het hy die petrol by die vuur gekry, want dit was vir ons baie snaaks dat die kannetjie steeds op sy plek in die garage was toe hy gebrand het,” sê sy. “Hy sê toe hy het ’n bakkie in die huis gaan haal en dit oor die vuur gaan gooi.”

Vir ousus Mira was dit net so traumatiese voorval. “Sy is besig om ’n sielkundige te sien, maar sy is nou oukei. Sy kon hom glad nie in die hospitaal besoek nie; dit was vir haar baie erg,” sê Chanie. Hulle het haar af en toe van Logan se hospitaalbed per video-oproep gebel.

Logan
Logan en sy pa, Chris. Foto: Verskaf.

Wanneer Logan ’n bietjie verder op die herstelpad gevorder het, sal hy ook die sielkundige gaan sien, vertel sy ma. 

“Ons was oorweldig. Ons het verwag dat ons vriendekring en familie ons sal ondersteun, maar die nuus het so vinnig versprei; ons kon nie bybly met alma se gebede en boodskappe vir Logan nie,” sê Chanie.

“Elke dag het daar honderde boodskappe deurgekom, wat ons glad nie verwag het nie. Dit het regtig ons oorweldig en ons geloof ’n duisend maal versterk.”