Madithebe en Justice Raube, die trotse ouers van d
Madithebe en Justice Raube, die trotse ouers van die Klerksdorp-vierling. Foto: Bump to Baby Photography

“Hulle beskerm ons eintlik van die virus,” vertel ma Madithebe Raube, wat op 20 Maart aan die vierling die lewe geskenk het, aan Huisgenoot. “Omdat hulle ons so besig hou by die huis, kan ons nie uitgaan nie.”

Vriende en familie kon ook weens die gevaar wat die verspreiding van die virus inhou, nie so gereeld kom inloer as wat hulle sou wou nie. Maar ten spyte van die uitdagings meen die Raubes hulle is geseën, vier keer oor, in hierdie uitdagende tye.

“Ek het nou net al vier in die bed gekry en kan gou die vrae beantwoord,” laat die 31-jarige Maditheme om 00:32 in die oggend per stemboodskap aan Huisgenoot weet. Sy klink baie moeg.

Sy en haar man, Justice, maak beurte om na hulle te kyk, maar meestal moet albei maar gelyk hand bysit.

“As hulle almal saam huil, dan is dit tyd vir doeke ruil of kos,” het die ouerpaar nou al in die drie maande sedert hul geboorte geleer. Sy werk in gemeenskapsontwikkeling en Justice is ’n IT-ondersteuningsbeampte.

Die vierling is van links na regs eers die identie
Die vierling is van links na regs eers die identiese tweeling Releneilwe en Keona; dan boetie Omogolo en kleinsus Leatlegile. Foto: Bump to Baby Photography

Caren Faul van Bump to Baby Photography wat die skattige foto’s van die vierstuks geneem het, vertel later aan Huisgenoot: “Terwyl ons die foto geneem het waar die babatjies op die bedjies lê, het iets gebeur wat vir ons baie spesiaal was – die pappa het begin huil.

“Dit was vir hom ’n groot oomblik.”

“Dis vir my maklik om hulle uit te ken, want hulle lyk nie dieselfde nie,” vertel Madithebe van Klerksdorp, benewens die vierling ook die ma van Leano (8) en Lelentle (2).

“Hul persoonlikhede verskil ook hemelsbreed,” voeg sy by.

As die Noordwes-vierling slaap is dit hemel op aar
As die Noordwes-vierling slaap is dit hemel op aarde, maar as hulle gelyk begin huil . . . Foto: Baby to Bump Photography

“Die seuntjie hou baie van huil. Maar as hy slaap, dan slaap hy,” verklap sy oor ouboet Omogolo.

Leatlegile is laaste gebore. “Sy is baie dierbaar,” vertel die mamma. “Sy huil net wanneer sy honger is of haar doek omgeruil moet word.”

Die identiese tweelingdogtertjies, Releneilwe en Keona, huil ook dieselfde. “Dit klink soos katjies,” vertel sy.

Een van die vierling se voetjies. Foto: Bump to Ba
Een van die vierling se voetjies. Foto: Bump to Baby Photography

In haar en haar man se families is daar heelwat tweelinge, en teen einde Oktober verlede jaar het hulle uitgevind daar is vier babas op pad.

“Ons het video’s op YouTube begin kyk om onsself voor te berei en te kyk wat die basiese dinge is wat ons gaan kort.

Die vierling is van links na regs eers die identie
Die vierling is van links na regs eers die identiese tweeling. Releneilwe en Keona; dan boetie Omogolo en kleinsus Leatlegile. Foto: Bump to Baby Photography

“Soos byvoorbeeld wanneer al vier gelyk huil, help dit om die ander in babaswaaie te sit terwyl ons met die hul boetie of sussies besig is.”

Caren Faul en haar sussie en assistent Suzelle (li
Caren Faul en haar sussie en assistent Suzelle (links) van Bump to Baby Photography op Klerksdorp in Noordwes, wat die babas afgeneem het. Foto: Bump to Baby Photography

“Ons vriende en families is uit hul vel van opgewondenheid oor die vier. Hulle laat ons spesiaal voel; ons voel soos beroemde glanspersoonlikhede op die dorp!”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe