Huisgenoot het al twee keer tevore oor die blouoogmeisietjie van Pretoria berig. 

Elnye se linkerbeen was 9 cm korter as die regter een. Haar been wat korter was is vroeg vanjaar net onder die knie geamputeer. Die oulike meisie het vroeër aan Huisgenoot gesê sy wil eendag ballet doen en swem. 

Exstrale van Elnye Potgieter se beentjie voor hy geamputeer is net net onder die knie. Ollier se siekte het gemaak dat haar bene skeef groei. Foto: Verskaf

“Elnye het ’n baie sterk persoonlikheid, maar dit gaan moeilik. Dit is haar tweede prostese, maar dit maak haar baie seer. Ek en my man, Eddie, het ons aluminium-onderneming verloor, dus het ons nie meer 'n mediese fonds nie,” sê haar ma, Elmarie Potgieter. 

In Augustus het Elnye haar eerste prostese gekry, maar hulle moes ’n nuwe een laat maak. Die prostese het hulle R30 000 gekos en nou moet verstellings aan die een gemaak word. “Die ou een het haar 'n slegte postuur gegee en haar rugstring kan skeef begin groei as gevolg daarvan. Maar sy dra die nuwe een min omdat dit haar te seer maak,” sê Elmarie. 

Dié prostese het prentjies op van Elsa, haar gunstelingkarakter uit die fliek Frozen. “Sy sal elke nou en dan vra waar is Elsa. Dis wat sy haar voetjie noem wat geamputeer is,” vertel Elmarie.

Die Potgieters het ‘Elsa’ in hul tuin begrawe. “As sy vir Elsa vra, sê ek maar net ‘onthou ons het Elsa begrawe, want sy was siek.’ ” 

Elnye is trots op haar prostese met die Frozen-karakters op maar die prostese maak haar seer. Foto: Verskaf

Elmarie sê hulle hoop om van hul koste te kan dek. “My man het gelukkig nou weer werk gekry en ek begin in Januarie by ’n tydelike werk. Dis net ’n halfdagpos, maar dit is iets,” sê die ma van drie. 

Sy vertel hulle hoop dat Elnye eendag sonder pyn kan rondhardloop, nes enige ander kind.