JC Roos (26), ’n dieseltegnikus, wat aan Mercedes-Benz-motors werk, moes Woensdag ’n ure lange operasie in die Milpark-hospitaal in Johannesburg ondergaan om die bene in sy gesig te heg. 

“Sy kakebeen is morsaf, byna al sy tande is uit. Sy wangbene is vergruis en sy oogbene het oopgebars. Die been bo sy bolip is weg. Dit gaan nou alles vandag (Woensdag) met staalplate herbou word. Die dokter sê die operasie gaan langer as vyf uur duur,” het Claudia aan Huisgenoot vertel. 

Claudia en hul 13 maande oue baba, Alliana, was Vrydagoggend omstreeks halfvier saam in die dubbelkajuitbakkie. Hulle was op pad om vir haar ma in Welkom te gaan kuier toe die stuk beton hul voorruit verpletter. Hulle was nie ver uit Rustenburg nie, op die R566 naby die Hartbeespoortdam-afrit naby ’n brug toe dit gebeur het.

Claudia vertel ’n gewapende rower het op hulle toegesak en geld geëis toe die voertuig tot stilstand gekom het. Sy het om haar dogter se lewe gesmeek. Genadiglik het dié man toe net omgedraai en weggestap. 

Die toneel waar JC Roos getref is. Foto: Facebook
Die binnekant van die bakkie nadat JC Roos getref is. Foto: Facebook
Die toneel waar JC Roos getref is. Foto: Facebook
So lyk die kajuit nou. Foto: Facebook
Die betonblok wat JC Roos op die toneel getref het
Die betonblok wat JC Roos deur die voorruit getref het. Foto: Facebook

Claudia het vroeër aan Huisgenoot gesê sy bid net haar man sal oorleef om hul kindjie te sien grootword. Sy is optimisties dat hy dit sal maak.

“Dis ’n vreeslike ding wat met ons gebeur het, maar ek is rustig. Ek weet my man gaan hierdeur kom, maar ek moet erken dit was erg om te hoor hoe JC beseer is. Ek het begin bewe en hartkloppings gekry,” vertel Claudia.  

“Ek gaan môre (Donderdag) weer na JC toe, maar dis moeilik. My dogtertjie het my ook nou nodig. Sy weet iets is nie lekker nie,” sê sy. 

Claudia en Alliana woon nou tydelik in Krugersdorp by familie, sowat 20 km van die hospitaal waar JC behandel word. 

JC en Claudia Roos Foto: Facebook
Claudia en JC Roos

“Ek weet daar is ’n lang herstelpad wat voorlê, maar ek kan dit nie verduidelik nie. Ek is rustig. God kyk na ons en JC sal herstel,” sê sy.