“Ons het dadelik ons huisdokter gebel toe ons begin siek voel, want ons was beslis bekommerd dat ons die coronavirussiekte onder lede kon hê,” vertel Peter aan Huisgenoot.

Peter (63) en sy vrou, Candace (53), het onlangs haar peetkind se troue in Switserland bygewoon en dadelik besef iets is fout toe hulle op Vrydag 13 Maart uit Europa terugkeer.

“Ons het daardie Vrydagaand al siek gevoel, en dinge het net slegter gegaan die Saterdagoggend,” begin Peter, die DA-raadslid vir wyk 10 in Knysna. “Dit was gewone griepsimptome soos hoë koors en seer lywe,” voeg hy by.

Peter vertel dat hulle op die vliegtuig en by die lughawe in Suid-Afrika twee temperatuurtoetse geslaag het. Hulle het daarna eers begin siek voel en toe hul huisdokter geskakel.

Aanvanklike toetse is deur hul dié dokter gedoen, en daarna is hulle na die Ampath-laboratoriums in Knysna om verdere toetse te doen.

“Ons het nog nie sedert ons terug is uit Europa die huis verlaat nie, behalwe toe ons daardie Saterdagoggend dokter toe en die Maandag na die laboratorium toe is,” vertel Peter.

Hy en sy vrou het laat Dinsdagmiddag die oproep ontvang met die nuus dat hulle COVID-19 het.

“Ons was eintlik ’n klein bietjie verlig,” sê Peter. “Ons kon klaar nie meer siek voel as wat ons daardie naweek gevoel het nie en ten minste het ons nou klarigheid gehad. Dit is beter om te weet as om nie te weet nie.”

Hoewel Peter en sy vrou tans beter voel, het hy onlangs sleg begin hoes.

“Ons voel beter, maar ons is steeds ’n bietjie bekommerd. Die dokters het gesê dat jy ná die 10de dag moontlik weer kan begin slegter voel,” sê Peter met sy stem wat sy onsekerheid verklap.

Omdat hulle nie die huis wil verlaat nie, het vriende en lede van die gemeenskap ingespring om hulle te help.

“Mense los vir ons pakkies met kos en ander benodighede voor ons hek. Ons kry werklik wonderlike ondersteuning in hierdie tyd,” vertel Peter.

Een van die moeilikste dele van die self-isolasie is dat hul 12-jarige dogter ook in dieselfde huis bly.

“Ons doen baie moeite om apart te bly van haar af en haar aan die teenoorgestelde kant van die huis te laat bly as waar ons is,” verduidelik Peter.

Sover Peter en Candace weet, het niemand anders by die troue in Switserland die siekte gekry nie en doen hulle alles in hul vermoëns om dit nie verder te versprei nie en gesond te raak.

Peter het een raadsvergadering Donderdag misgeloop weens die siekte, maar alle verdere vergaderings is onbepaald uitgestel.

“Ek glo in my persoonlike hoedanigheid dit is beter om voorkomend op te tree,” verduidelik Peter.

“Ek wil ander Suid-Afrikaners aanraai om verantwoordelik op te tree. Moenie vlieg of in openbare spasies wees as dit nie nodig is nie. Selfisolasie is belangrik, want al kan jy moontlik gesond bly, is daar mense wat in meer kwesbare situasies is wat dalk nie so gelukkig gaan wees nie,” verduidelik hy.