“Dit is maar 'n kwessie van jy moet vrede maak met wat gebeur het. Jy kan nie jou verlede verander nie, maar jou huidige omstandighede kan jou toekoms bepaal. Dít is hoe ek dit sien . . .”

Só sê die hoopvolle Koben Hofmeyr (16) van Louis Trichardt wat verlede jaar sy nek tydens 'n skolerugbywedstryd gebreek het. Koben se lewe het soos handomkeer verander toe hy op 19 Mei as kaptein van die o/16-span vir die Hoërskool Louis Trichardt, in Limpopo, op die rugbyveld uitgedraf en ná 'n losskrum bly lê het.

Binne 'n oogwink het hy alle sensoriese beweging verloor.

Koben Hofmeyr
Koben is in Junie 2019 oorgeplaas na 'n rehabilitasiesentrum waar hy verder aangesterk het. Foto: Facebook.

Dié fratsongeluk het egter nie veroorsaak dat Koben se nuwejaarsdrome kleiner word nie.

Koben het reeds verskeie operasies ondergaan en terwyl hy verlede jaar by 'n rehabilitasiesentrum in Pretoria moes aansterk, ook intense fisioterapie ontvang. Hy het kort voor Kersfees gesê hy wil in 2019 'n paar treë op sy eie gee, sónder om aan iemand se hand vas te hou vir balans.

En dit was met groot blydskap dat dié tiener op 2 Januarie 'n video op sosiale media kon deel waar hy sy eerste treë gee. “Ons STAP in 2019 in! [Dit is] waarlik 'n geseënde nuwejaar,” lui die inskrywing.

Die ongeluk het hom ook nie gekeer om tydens die Desembervakansie op waterwurms te gly of om saam met familie in die branders te baljaar nie.

Volgens Koben se pa, Trompie Hofmeyr, is Koben streng oor sy doelwitte en is hy vasbeslote om vanjaar onafhanklik te wees van sy rolstoel, krukke en enige ander middels wat hom help om te loop. “Ek hou daarvan om groot mikpunte te stel,” het Koben verlede maand gesê. “Met geloof, hoop, vasberadenheid en motivering kan jy enigiets doen.”

Volgens Trompie is Koben se gemoed ná die Desembervakansie baie goed. “Dit was vir ons 'n baie emosionele Desember,” vertel hy. “En daar was groot oomblikke soos toe Koben sy eerste treë alleen kon gee. Ons het dadelik vir die Here dankie gesê. Dit is net genade.”

Trompie beskryf sy seun ook as iemand wat baie netjies op homself is en vaste beginsels het. Daarom het hy groot planne vir die jaar en beplan onder meer om op akademie en ander sportsoorte te fokus.

“Die moreel in die huis is baie positief,” sê Trompie. “Ons hanteer nie vir Koben anders as ons ander kinders nie. Al wat regtig verander het, is ons geloof – dit het baie sterker geword.”