Koben Hofmeyr (16), die belowende jong rugbyspeler en kaptein van die Hoërskool Louis Trichardt in Limpopo se o.16-rugbyspan het op Saterdag 19 Mei 'n ernstige nekbesering opgedoen tydens ’n wedstryd teen die Hoërskool Warmbad in Bela-Bela. Hy is vroeër vandag na die Mediclinic Muelmed-hospitaal se rehabilitasiesentrum in Pretoria oorgeplaas.

“Ek was uit my vel uit toe ek die nuus hoor,” sê Koben se pa, Trompie Hofmeyr, aan Huisgenoot.

Koben se sesjarige boetie, Benko, was net so bly sy ouboet hoef nie meer in die hospitaal te bly nie en het saam met hom in die ambulans van die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria na die rehabilitasiesentrum gery.

Koben Hofmeyr (16) is vroeër vandag na die Mediclinic Meulmed-hospitaal se rehabilitasiesentrum in Pretoria oorgeplaas. Foto verskaf

Koben se C4- en C5-nekwerwels is tydens die wedstryd beseer en sy C6-nekwerwel is ontwrig nadat hy ’n ander speler geduik het.

Hy het intussen twee nekoperasies ondergaan. Die bloedklont wat hy gehad het, is darem weg. “Hy is nog van die bors af ondertoe verlam, maar hy maak daagliks goeie vordering,” sê Trompie.

Koben kan sy wysvinger, duim en middelvinger aan sy regterhand beweeg en sy linkerhand oopmaak.


“Ons bly positief, maar dit is ook ’n moeilike pad,” sê Trompie.

“Koben was gisteraand baie moeg en moedeloos. Hy het vir my gesê hy wil die ou Koben terug hê,” sê Trompie.


Maar al is daar “baie hartseer agter die skerms” hou die gesin aan “glo en vertrou”.

“Al wat ek het, is hoop,” sê Trompie.