Anargie. Brullende regsgesindes wat die Amerikaanse Kongresgebou binnestorm om ’n verkiesing in die naam van Donald Trump met geweld te probeer kaap. Dit het die berugte gesig van die laaste dae van sy presidentskap geword.

En skaars twee weke later, op die einste trappe van die Capitol waar Trump se ondersteuners die polisie oorweldig het, vind die vreemdste presidensiële inhuldiging ooit einde vandeesmaand plaas.

Gewoonlik is dit ’n vertoon van nasionale eenheid en versoening wanneer Demokrate en Republikeine tydelik die strydbyl begrawe om die werkings van die Amerikaanse demokrasie te vier.

Maar kort voor Huisgenoot se druktyd het Trump laat weet hy sou nie Joe Biden se inhuldiging as nuwe president bywoon nie. Biden se reaksie? Dis beter dat jy wegbly . . .

Die Demokrate, politieke ontleders en selfs sommige geharde Trump-bondgenote beskryf sy militante ondersteuners se ­beleg van die Kongresgebou as “terrorisme” en sê Trump is verantwoordelik vir die skokkende gebeure wat die dood van vyf mense veroorsaak het.

Hy hou immers vol die verkiesing is van hom gesteel en het sy ondersteuners opgerui om na die Kongresgebou te gaan . . .

Maar selfs stoere Republikeine sê nou hy het te ver gegaan.

Facebook, Twitter en Instagram het hom van hul platforms verbied om “die stook van nog geweld” te verhoed.

Uit baie oorde word nou geëis dat hy aanspreeklik gehou word vir die skokkende gebeure. In die laaste dae voor Biden se inhuldiging was die Demokrate vasbeslote om Trump ’n geskiedkundige tweede keer in ’n staat van beskuldiging te stel. Ontleders sê Trump se “leuens” in sy toesprake en twiets die afgelope vier jaar was die kruitvat.

Lank voor die laaste stemme in die verkiesing getel is, het Trump begin gal braak dat hy van sy “wegholoorwinning beroof is”.

“Ons sal nooit moed opgee nie. Ons sal nooit toegee nie. Ons sal die diefstal stuit,” het hy twee uur voor die beleg van die Kongresgebou gesê, waar die senaat besig was met die proses om die verkiesingsuitslag te sertifiseer.

En toe steek hy die lont van die kruitvat aan: “Go down to the Capitol. Go wild.”

Sou die Demokrate wel daarin slaag om Trump ’n tweede keer in ’n staat van beskuldiging te stel, kan sy verhoor voortduur lank nadat Biden amptelik as die nuwe “Captain America” oorgeneem het.

En hierdie keer sal Trump te staan kom voor ’n kongres waar die Demokrate ná dese die huis van verteenwoordigers én die senaat oorheers.

“Make America great again” was Trump se verkiesingsbelofte vier jaar gelede. Pleks daarvan laat hy ’n land met wonde wat lank sal neem om te genees.

Hier is Trump se vier jaar in foto’s

6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images
6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images

“You’re fired,” was meer as 70 miljoen kiesers se boodskap aan Donald Trump met die onlangse presidentsverkiesing in Amerika.


6 Januarie 2021. Voor die Withuis vertel Trump, veilig agter ’n skerm van koeël­bestande glas, ’n saamtrek van sy ondersteuners vir die soveelste keer dat hy die slagoffer van verkiesingsbedrog was.

6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images
6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images


Twee uur nadat Trump sy ondersteuners aangemoedig het met “Stop the steal”, bars die duiwel los by die Amerikaanse Kongres­gebou, net ’n paar straatblokke weg.

“Stop the steal”. Foto: Gallo Images/Getty Images
“Stop the steal”. Foto: Gallo Images/Getty Images


Wolke traanrook en -gas dwarrel op die trap na die Kongresgebou waar die polisie vergeefs probeer om die golf oproeriges te stuit.

6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images
6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images


Polisielede van die Kongres se seku­riteitsmag is gou deur die oormag oproeriges oorweldig en kon hulle nie keer om deur te breek tot binne nie. Militante, soos die man met die bison­horings op sy kop en ’n spies in die hand, poseer vir selfies en verniel die gebou.

6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images
6 Januarie 2021. Foto: Gallo Images/Getty Images


Trump het homself geen guns bewys met sy gedrag teenoor Rusland se pres. Wladimir Poetin nie.

Donald Trump en Wladimir Poetin in Finland, 2018.
Donald Trump en Wladimir Poetin in Finland, 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hier, in Finland in 2018, lyk hy skoon betower deur die Kremlin-baas. Dit het opnuut bespiegelings oor Russiese inmenging in die presidentsverkiesings van 2016 laat opvlam.


Melania Trump lyk, soos dikwels tydens openbare ver­skynings saam met haar man, bra afsydig teenoor hom.

Donald en Melanie Trump. Foto: Gallo Images/Getty
Donald en Melanie Trump. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit het kommentators en die media laat bespiegel dat hul huwelik nie gelukkig is nie.

Ná Trump se laaste voorverkiesingsdebat teen Joe Biden in Oktober het sy haar man se hand weggestamp toe hy hare wou vashou.


Die Republikeins beheerde senaat het verlede jaar verhoed dat Trump in ’n staat van beskuldiging gestel word.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Nou loop hy die gevaar van nuwe aanklagte oor aanhitsing tot geweld voor ’n Demokraties beheerde senaat.


Met sy inhuldiging as president in 2017 het hy beloof om Amerika eerste te stel. Maar sy kritici sê alles wat hy gedoen het, was in sy eie belang.

Donald Trump tydens sy inhuldiging as president, 2
Donald Trump tydens sy inhuldiging as president, 2017. Foto: Gallo Images/Getty Images


Tydens sy presidentskap het Trump sy kritici gereeld geleentheid gegee om hom te spot oor sy koddige haarstyl – soos met hierdie windverwaaide oomblik in Maryland in 2018.

Donald Trump in Maryland in 2018. Foto: AP Images
Donald Trump in Maryland in 2018. Foto: AP Images



Hy het graag aggressiewe lyftaal en handdrukke gebruik om ander wêreldleiers te wys hy’s baas.

Donald Trump en Emmanuel Macron in 2017. Foto: Gal
Donald Trump en Emmanuel Macron in 2017. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar met hierdie geleentheid in 2017 was Frankryk se pres. Emmanuel Macron self vasbeslote om die oorhand te kry.


Pandemie? Watter pandemie?

Donald Trump in Tulsa, Oklahoma, tydens 'n verkies
Donald Trump in Tulsa, Oklahoma, tydens 'n verkiesingstoespraak in 2020. Foto: AP Images

Ten spyte van die gevaar van coronavirus-infeksies het Trump in 2020 daarop aangedring om landwyd verkie­singsaamtrekke toe te spreek.

Maar hy het ’n nare verrassing gekry toe hy in Tulsa, Oklahoma, deur rye leë sitplekke gekonfronteer is.


In opdrag van Trump jaag die polisie vreedsame Black Lives Matter-­betogers met geweld uiteen sodat die president oor die straat kan stap om Bybel in die hand te poseer buite die St. John-kerk naby die Withuis.

Bybel in die hand poseer Donald Trump buite die St
Bybel in die hand poseer Donald Trump buite die St. John-kerk naby die Withuis. Foto: Gallo Images/Getty Images



Tydens sy ampsbesoek aan die Windsor-kasteel in Londen in 2018 het hy koningin Elizabeth op hom laat wag.

Donald Trump en koningin Elizabeth II in Londen, 2
Donald Trump en koningin Elizabeth II in Londen, 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images

En toe hulle saam die paleiswag inspekteer, het hy alle protokol geïgnoreer deur voor die vorstin te stap.


Mar-a-Lago, Florida. Amerika se beroemdste gholfspeler het hom nie deur landsake en ’n verkiesing van die baan laat weghou nie.

Donald Trump het glo tydens sy presidentskap meer
Donald Trump het glo tydens sy presidentskap meer as 300 potjies gholf gespeel. Foto: AP Images

Hy het glo tydens sy presidentskap meer as 300 potjies gholf gespeel.

Hier slaan hy af op een van sy eie bane in die deelstaat Virginië terwyl dit gons dat Biden die volgende president sal wees. Dit was nie sy laaste potjie gholf nie, maar sy dae as president was toe al getel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe