Dit klink amper te goed om te glo: Pres. Jacob Zuma se dae as leier van die ANC is getel.

Teen Kerstyd behoort ons omstrede president se leierskap van die regerende party iets van die verlede te wees. Kort voor druktyd was dit nog onseker wie op die ANC-leierskonferensie in Gauteng as sy opvolger aangewys sou word.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa was die voorloper om die nuwe ANC-leier te word, maar met Nkosazana Dlamini-Zuma se uitgeslape eksman, JZ, in haar hoek kon sy nie as moontlike opvolger uitgeskakel word nie.

Zuma kan tot in 2019 president bly, maar sy invloed sal waarskynlik nou toenemend begin taan.

In hul nuwe boek, Enemy of the People: How Jacob Zuma Stole South Africa and How the People Fought Back, gee die joernaliste Adriaan Basson en Pieter du Toit, onderskeidelik redakteur van News24 en van Huffington Post in Suid-Afrika, ’n oorsig van Zuma se verwoestingstog sedert hy aan die bewind gekom het.

Zuma het ons samelewing en ekonomie geweldige skade berokken sedert sy inhuldiging as staatspresident in Mei 2009, skryf Adriaan en Pieter. Hy het ons staatsinstellings stelselmatig ondermyn, die oppergesag van die reg en die gees van demokrasie verontagsaam en ’n netwerk begunstigdes en kultuur van strafloosheid gevestig.

Die doel? Grootskaalse plundering van ons openbare hulpbronne.

Dís die nalatenskap van die staatshoof wat Suid- Afrika so roekeloos bestuur het en dís hoe hy onthou sal word, soos uiteengesit in Enemy of the People.

Cyril Ramaphosa sal pres. Jacob Zuma waarskynlik opvolg as ANC-leier.

AAN DIE BEGIN

In Desember 2007 word die polities geslepe Zuma in Polokwane ANC-leier.

Sy strategie was om hom valslik voor te doen as ’n slagoffer van ’n sameswering deur die destydse pres. Thabo Mbeki. Tydens die uitspraak in die korrupsieverhoor van sy vriend Schabir Shaik is Zuma se swakhede blootgelê: sy vatbaarheid vir manipulasie en onvermoë om met geld te werk en baie kinders te onderhou.

Maar Zuma se sogenaamde “koalisie van gewondes” het nietemin volgehou aantygings van korrupsie en verkragting teen hom was Mbeki se handewerk.

Regter Chris Nicholson het in September 2008 die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se korrupsieklagte teen Zuma rakende sy verhouding met Shaik verwerp op grond van beweerde politieke inmengery in die vervolgingsproses.

Nicholson se beslissing is begin 2009 op appèl omgekeer. Maar toe het Zuma reeds gewen. Weke ná die Nicholson-uitspraak het die ANC Mbeki as staatspresident herroep. Ná die algemene verkiesing in 2009 word Zuma staatshoof.

Sy allesoorheersende ingesteldheid sou op homself en sy begeertes wees, veral om latere vervolging weens korrupsie te vermy.

ONDERWERP DIE ANC-ALLIANSIE

Die politieke koalisie agter Zuma se Polokwane-triomf het uiteenlopende belange en ideologieë gehad.

Hul eenheid was kortstondig. Zuma het nooit ’n duidelike ANC- en landsvisie gehad nie. Die oud-Cosatu-leier Zwelinzima Vavi was die eerste een wat van Zuma sou wegbreek.

“Ons stuur af op ’n roofstaat waar ’n magtige, korrupte elite van politieke hiënas toenemend die staat misbruik om ryk te word,” het hy in Augustus 2010 gesê. Julius Malema (nou EFF-leier) se verhouding met Zuma het ook versuur.

In Februarie 2012 is hy as ANC-jeugleier uitgeskop.

Zuma het hom met groot ywer daarop toegespits om sy party te onderwerp en teenstanders te isoleer.

HERKIES

In Desember 2012 op die Mangaung-konferensie in Bloemfontein verslaan Zuma Kgalema Motlanthe oortuigend en word tot ANC-president herkies.

Dis enkele weke ná onthullings dat die staat meer as R240 miljoen vir opgraderingswerk aan sy privaat woning by Nkandla betaal het. Driekwart van die Bloemfonteinse afgevaardigdes het vir Zuma gestem.

Sy beheer oor die regerende party was feitlik volkome. Zuma wás nou die ANC.

NKANDLA

In Maart 2014 het die destydse openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, in ’n verslag bevind Zuma het onregmatig baat gevind by miljoene rande se verbeterings aan sy KwaZulu-Natalse woonkompleks.

Sy het aanbeveel dat hy ’n deel daarvan terugbetaal. Hy het duidelik geweet miljoene se belastinggeld is bestee aan ’n beeskraal, lugreëling, swembad en nog privaat geriewe. Tog het hy dit bly ontken.

In Maart 2016 het die konstitusionele hof bevind Zuma het die Grondwet geminag deur Madonsela se aanbevelings te ignoreer dat hy die geld terugbetaal.

Nkosazana Dlamini-Zuma . Foto: Gallo Images/ Getty Images

STAATSKAPING

Zuma se bewind is gekenmerk deur “tenderpreneurs” en ’n netwerk familie, vriende en sakevennote (soos die Gupta-broers) met onbehoorlike invloed in die werking van staatsdepartemente.

Hy het handlangers aangestel in sleutelampte in die polisie, Valke, staatsveiligheidsagentskap, NVG, Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en tesourie en staatsondernemings soos die Suid- Afrikaanse Lugdiens (SAL), Eskom en Transnet.

Sy manipulasie van staatsmasjinerie het hom feitlik onaantasbaar en sy familie baie ryk gemaak. Sy inmenging het Zuma natuurlik ook sy menigte skandale help oorleef. Deel van sy nalatenskap is die vernietiging van instellings en individue wat korrupsie en rampokkery sou kon bekamp het.

TOT SIENS, NENE

Einde 2015 het Zuma ’n bekwame minister van finansies, Nhlanhla Nene, afgedank sodat hy en sy meelopers tot die nasionale tesourie toegang kon kry.

Die president het daardie September die Gupta-meeloper Mosebenzi Zwane as mynweseminister aangestel. Die maand daarna het die Guptas Mcebisi Jonas, toe adjunkminister van finansies, R600 miljoen aangebied om hul minister van finansies te word.

Hy het geweier.

Op 9 Desember het Lungisa Fuzile, direkteur-generaal van die tesourie, dié teksboodskap van Nene ontvang: “Die byl het geval.” Zuma het hom met die onbekende agterbanker en Gupta-man Des van Rooyen vervang. (Nene het met die SAL-voorsitter, Dudu Myeni, ’n Zuma-vriendin, swaarde gekruis en Zuma se Russiese kernkragplan gefnuik waaruit die Guptas en sy seun Duduzane ook mettertyd geld sou kon verdien.)

TOT SIENS, GORDHAN

Ná Nene se verwydering is voorspel die land se geldeenheid sou tuimel tot R20 vir ’n Amerikaanse dollar en ons staatseffekte en aandele sou ’n halftriljoen rand in waarde verloor.

Enkele dae ná die Van Rooyen-skokaanstelling kry Fuzile toe ’n oproep van die president: “Dit het nie gewerk nie. Julle kry PG (Gordhan) terug.” Maar net ’n week voor Gordhan se 2016-begrotingstoespraak kry hy ’n brief van die Valke-baas, Berning Ntlemeza (die Zuma-lojalis is intussen ontslaan), waarin antwoorde geëis word oor Gordhan se betrokkenheid by ’n sogenaamde SAID- koverte eenheid. (Dit was ’n wettige eenheid om groot belastingontduikers vas te vat en het die wêreld warm gemaak vir Zuma se seun Edward.)

Teen Oktober 2016 ontvang Gordhan ’n dagvaarding van die NVG oor klagte rakende sy pensioenooreenkoms met die SAID-topamptenaar Ivan Pillay.

“Die dae dat senior staatsamptenare nie aanspreeklik gehou word nie, is verby,” het die NVG-hoof, Shaun Abrahams (’n Zuma-man), gesê nadat hy geappelleer het teen ’n hooggeregshofbeslissing dat die korrupsieklagte teen Zuma heringestel word.

Weke later moes ’n swetende Abrahams aankondig die klagte teen Gordhan is laat vaar. Dié het verlede jaar in ’n verklaring ’n beroep gedoen op “alle Suid-Afrikaners om die tesourie te beskerm”.

Nogtans het Zuma hom in Maart met Malusi Gigaba vervang. Dié Gupta-vriend het as oudminister van openbare ondernemings met sy herstrukturering van staatsondernemingsdireksies die grondslag help lê vir staatskaping.

KARRING AAN DIE INKOMSTEDIENS

Die SAID was taamlik onlangs nog bekend vir sy voortreflike werk. Maar die belastinggaarder het probleme veroorsaak vir baie van Zuma se mense. Einde 2014 het Zuma sy vertroueling Tom Moyane (voorheen baas van korrektiewe dienste) as SAID-kommissaris aangestel. En teen begin verlede jaar het die diens reeds 55 senior amptenare verloor.

VERSWAK DIE ANC

Die ANC het in verlede jaar se plaaslike verkiesing groot steun verloor. Daar was net een rede, meen Enemy of the People se skrywers: Zuma. Met die regerende party se populêre steun wat tot 53,9% gekrimp het (vergeleke met 62,15% in 2014 se algemene verkiesing) was 2016 se verkiesing ’n ramp vir die ANC.

Suid-Afrika veg terug

Adriaan Basson en Pieter du Toit sien tog ligpunte: Pres. Jacob Zuma was ’n katalisator vir die mobilisering van die burgerlike samelewing en die vorming van ’n nuwe Suid-Afrikaanse konsensus oor korrupsie en die oppergesag van die reg.

Nuwe nieregeringsorganisasies het ontstaan, drukgroepe en dinkskrums het hulle tot die howe begin wend en gewone Suid-Afrikaners het teen Zuma betoog.

’n Nuwe soort openbare amptenaar, verbind tot die regstaat, het na vore begin tree. So ook fluitjieblasers wat in demokratiese ideale bly glo. (Daarvan getuig byvoorbeeld vanjaar se GuptaLeaks-e-posse, wat aanduidings oor staatskaping aan die lig gebring het.)

  • ’n Verkorte, geredigeerde uittreksel uit Enemy of the People: How Jacob Zuma Stole South Africa and How the People Fought Back deur Adriaan Basson en Pieter du Toit (Jonathan Ball Publishers, R179). Beskikbaar teen dié prys by loot.co.za. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.