Twee vermeende rowers wat ’n suiwelproduktewinkel in die stad Maceio in Brasilië wou beroof, het nie gedink hulle gaan hul moses teëkom nie, en dit nogal oor ’n Apple iPhone.

Die twee mans het hulself op Saterdagaand 24 April soos rommelversamelaars vermom toe hulle die rooftog in die buurt Clima Bom wou uitvoer.

Hulle het die winkel doodluisters binnegegaan, hul wapens uitgehaal en aangekondig hulle voer ’n rooftog uit.

Praat van 'n noue ontkoming! Foto: Policia Civil d
Praat van 'n noue ontkoming! Foto: Policia Civil de Alagoas/Newsflash/magazinefeatures.co.za

Die volgende oomblik het die skote geklap. 

Die winkeleienaar het instinktief sy selfoon voor een van die vermeende rowers se vuurwapens gehou en dit het die koeël laat wegskram. ’n Tweede skoot is gevuur en die koeël het ’n muur getref.

Op foto’s van die beskadigde foon, wat skynbaar ’n Apple iPhone is, lyk dit of die koeël die kameragedeelte van die slimfoon getref het.

So lyk die slimfoon nadat dit 'n koeël gekeer het.
So lyk die slimfoon nadat dit 'n koeël gekeer het. Foto: Policia Civil de Alagoas/Newsflash/magazinefeatures.co.za

Volgens die plaaslike polisie het die winkelier toe kans gehad om sy eie vuurwapen in die hande te kry en op die mans losgebrand. Die winkelier is ongedeerd.

Een rower is op die toneel dood en die ander een het gevlug. Die een is kort voor lank ook vasgetrek nadat hy oor ’n heining gespring het en in een van die bure se tuin weggekruip het.

Die inwoners het sy wegkruipplek aan die polisie uitgewys. Toe die polisie op die toneel kom, het die vermeende rower op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en die man gewond. Hy is na die plaaslike hospitaal geneem waar hy later aan sy wonde beswyk het.

Die polisie het op al die vuurwapens wat die mans in die rooftog gebruik het, beslag gelê. Hulle het ook die winkeleienaar na die  polisiekantoor geneem, maar hy is in die vroeë oggendure van die volgende dag vrygelaat omdat die polisie bevind het hy het uit selfverdedging opgetree.

Die polisie ondersoek die saak en nog getuies sal ondervra word. Die name van die betrokkenes en die winkel word weerhou.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe