Die skokkende skietvoorval het op 23 Januarie kort voor 08:00 (plaaslike tyd) ’n aanvang geneem.

Die aanvaller (15) het na bewering geen spesifieke teikens by die Marshall County-hoërskool in gedagte gehad nie. Hy het bloot net lukraak die sneller in ’n gemeenskaplike area getrek terwyl sy klasmaats en ander leerlinge in alle rigtings gespaander en skuiling gesoek het.

Mary Garrison Minyard, redakteur van die aanlyn-koerant, die Marshall County Daily, het soos talle ander joernaliste haar na die toneel gehaas. Maar niks kon haar voorberei op die skokkende ontdekking wat sy sou maak nie.

Saterdag het dit bekend geword die aanvaller was niemand anders as haar eie seun nie, ’n tiener wat deur vriende as ’n skaam rooikop wat gereeld saam met sy grootouers visgevang het, beskryf is.

Volgens getuies het hy boonop ná die bloedblad doodluiters na ’n klaskamer gegaan waar hy met van sy klasmaats gesels het, sonder enige aanduiding van wat hy so pas aangevang het. Nege minute later is die tiener deur die polisie in hegtenis geneem.

’n Hoë prys

Twee leerlinge, Baily Holt (15) en Preston Cope (15) het aan hul wonde beswyk terwyl soveel as 14 ander leerlinge tydens die voorval beseer is.

Vyf leerlinge is ook beseer toe hulle angstig op vlug geslaan het.

Een van die beseerdes is Daniel Austin (17) wat na die Vanderbilt Universiteitshospitaal in Nashville, Tennessee, geneem moes word. Sy regterarm mag dalk vanweë die beserings wat hy opgedoen het, geamputeer word.

Van 'goeie outjie' tot kortaf karakter

Ashley Collie (15) was twee jaar gelede in dieselfde klas as hy en sê die aanvaller was regtig ’n “goeie outjie”.

Maar vriende het hom na die afgelope feestyd as kortaf ervaar. Hy sou oor geweld praat en belang gestel om by die Mafia aan te sluit.

Die seun, wat deur die plaaslike media as Gabe Parker geïdentifiseer is, word in hierdie stadium as ’n jeugdige van twee moorde en 12 klagte van aanranding aangekla.

In die komende week gaan die staat vertoë rig om hom as ’n volwassene aan te kla.   

Intussen het goew. Matt Bevin gesê hy sal nie enige wette onderteken wat ’n beperking op wapens plaas nie.

Hy blameer gewelddadige flieks en lirieke vir vuurwapengeweld by skole en elders en sê dit maak die jeug minder sensitief oor die tragiese impak van die dood.

“Gee aandag aan waarna geluister word. Gee aandag aan die lirieke wat oor luidsprekers by sportgeleenthede gespeel word. Ons kultuur is besig om te verkrummel teen ’n duur prys.”

Skietvoorvalle in Amerika: 2018
  • 8 Januarie: Forest City, Iowa. ’n Man trek met ’n windbuks los op ’n bus vol skoolkinders. Niemand is beseer nie.
  • 20 Januarie: Wake Forest-universiteit, Noord-Carolina. ’n Student sterf nadat hy op die kampus geskiet word.
  • 22 Januarie: Italy, Texas. ’n 16-jarige seun skiet ’n 15-jarige meisie in die Italy-hoërskool se kafeteria. Sy oorleef die voorval.
  • 22 Januarie: New Orleans, Louisiana. ’n Student by die Net Charter-skool word ligweg beseer nadat drie skote vanuit ’n voertuig op die skool afgetrek word.  
  • 23 Januarie: Marshall County, Kentucky. Twee leerlinge sterf, 14 beseer en ’n koerantredakteur se seun word in hegtenis geneem.

Bronne: theadvocate.com, nypost.com, courier-journal.com, marshallcountydaily.com, fox19.com