Loretta Harmes word deur middel van ’n buis deur h
Loretta Harmes word deur middel van ’n buis deur haar hart gevoed. Sy beskryf haar voedingsak as ’n derde wiel wat oral met haar saamgaan. Foto: Instagram/@the.nil.by.mouth.foodie

Die meeste kokke sal weet hoe ’n mens se mond kan water wanneer jy voor die stoof besig is. Dit verg soms al jou selfbeheer om nie pik-pik aan die kos voor jou te begin peusel nie.

Verbeel jou dus hoe swaar die lewe vir Loretta Harmes moet wees.

Sy is ’n sjef wat vir ’n lewe kos maak – maar het self sewe jaar laas haar mond aan kos gesit.

Toe sy sewe jaar gelede finaal ophou eet het, het sy besluit om iets spesiaals van haar laaste maaltyd te maak. Haar ma het vir haar hoender en braaiaartappels berei.

Op 23 het sy haar laaste maaltyd gehad – braaiaart
Op 23 het sy haar laaste maaltyd gehad – braaiaartappels en hoender gegeur met suurlemoen en kruie. Foto: Facebook/@deadlyexdelish

Loretta het die aartappel gebyt, die krakerige, bros buitekant onder haar tande voel kraak; die warm, donserige binnekant in haar mond voel smelt.
En toe was sy klaar. Nie ’n kriesel kos het weer oor haar lippe beweeg nie.

Eet is bloot nie vir haar die moeite werd nie, sê dié 29-jarige van die dorp Poole in Brittanje. Sy ly aan ’n chroniese siekte genaamd Ehlers-Danlos-sindroom wat haar liggaam se bindweefsel aantas. Die gevolg is dat die wande van haar derms beskadig is en kos glad nie deur haar verteringstelsel kan beweeg nie.

Om aan totale parenterale voeding gekoppel te wees
Om aan totale parenterale voeding gekoppel te wees het beperkings – die kleinste stofdeeltjie kan infeksie veroorsaak, soos sepsis, wat sy al nege keer opgedoen het. Foto: Instagram/@the.nil.by.mouth.foodie

As Loretta die dag wel haar mond aan vaste kos sit, kan ’n mens maar weet sy gaan kort voor lank dubbel vou weens die brandpyne in haar maag. Oor die laaste aartappel wat sy geëet het, sê Loretta, ’n kosblogger en sjef, byvoorbeeld: “Daardie braaiaartappel was hemels, maar die nagevolge was soos die hel.”

’n Mens sou verwag dit sou vir Loretta ’n marteling wees om by kos te wees en heeldag herinner te word aan wat sy ­misloop. Maar nee, sy is ’n opgeleide sjef en kook graag, al is al die kos wat sy maak vir ander mense.

Met die hulp van haar huismaat, die fotograaf Amy Maidment, berei sy glutenvrye, plant­gebaseerde resepte in haar woonstel. Amy proe Loretta se geregte en neem dit af vir haar blog en Instagramblad, @the.nil.by.mouth.foodie, wat sy verlede jaar tydens die inperking begin het.

“Kook self is iets waaruit ek genot put – om in die kombuis te wees is vir my ’n ware kreatiewe uitlaatklep,” sê sy. “As ek bekommerd of angstig is, vervaag dit sodra ek aan die kook raak, want ek is te besig om te konsentreer op die gereg wat ek maak.”

Sy wend nou haar ervaring, innoverings en al haar
Sy wend nou haar ervaring, innoverings en al haar sintuie aan om voedsame en heerlike plantgebaseerde maaltye te skep. Foto: Facebook/@deadlyxdelish

Deesdae lyk Loretta se eet­gewoontes soos iets uit ’n wetenskapsfiksiefliek. Haar vrieskas is vol deur­skynende plastieksakke, elkeen gevul met 2,5 L geel vloeistof. Dié vloeistof bevat al die voedingstowwwe wat ’n mens nodig het om te oorleef – proteïen, koolhidrate, minerale en elektroliete, vitamiene en nog meer.

Die proses waarmee sy dié kos inneem, het die ingewikkelde naam totale parenterale voeding (TPV), maar dit beteken eintlik net sy neem al haar voeding deur ’n binneaarse buis in. So beland haar voedingstowwe reguit in haar bloedstroom en word haar spysvertering­stelsel omseil.

Omdat binneaarse voeding ’n stadige proses kan wees, is Loretta 18 uur per dag aan ’n voedingsak gekoppel.

Nie net neem sy geen vaste stowwe deur haar mond in nie; sy sluk nie eens vloeistowwe nie. Sy sal hoogstens op ’n baie warm dag aan ’n ysblokkie suig.

Omdat binneaarse voeding ’n stadige proses kan wees, is Loretta 18 uur per dag aan ’n voedingsak gekoppel. Sy het ’n spesiale rugsak ontwerp waarin sy die voedingsak pak wanneer sy uitgaan.

Die buis maak haar nie seer nie, sê sy, tensy iemand daaraan pluk, en sy kan selfs daarmee stort.

Maar daar is een ernstige gevaar: sepsis. Selfs die kleinste stofdeeltjie kan die buis besmet en ’n infeksie veroorsaak. Dit kan tot orgaanversaking of selfs die dood lei.

“Ten spyte van die beperkings het TPV my meer gegee as wat dit weggevat het,” het sy onlangs aan die BBC gesê.

Sy is deur haar ouma geïnspireer. Vandat sy 11 was
Sy is deur haar ouma geïnspireer. Vandat sy 11 was, het sy elke Dinsdag vir haar hele gesin aandete berei. Foto: Instagram/@the.nil.by.mouth.foodie

Haar liefde vir kos het op ’n jong ouderdom begin toe sy aan haar ouma se sy begin leer het om te kook en bak.

“Ek en my suster het altyd baklei oor wie die koekbak skoon kon lek,” vertel sy.

Die kombuis het gou haar gunstelingplek geword.

“Ek was dol oor eksperimenteer en het gereeld saam met my ma aandete gekook. In al my vrye tyd was ek in die kombuis, aan die kookprogramme kyk of resepteboeke lees.”

Foto: Facebook/@deadlyxdelish
Foto: Facebook/@deadlyxdelish

Teen die tyd dat sy 11 was, het sy elke Dinsdag vir haar gesin aandete gekook – frikkadelle en haar klewerigehoenderslaai was ’n groot guns­teling.
Toe sy haar tienerjare bereik, het verteringsprobleme opgeduik, en kort daarna het eet so ’n beproewing geword dat sy skaars daarvoor kans gesien het.

Anoreksie is verkeerdelik op 15 jaar by haar gediagnoseer en sy is vir dié eetsteuring behandel, maar haar maagpyn het aanhou vererger.

Op 19 was sy verplig om haar studie aan een van Engeland se voorste kookskole te laat vaar, want haar maagpyn het ondraaglik geword en sy was dae op ’n slag bedlêend.

“My verteringsprobleme het ontsettend erg geraak. Dit was die begin van die vyf jaar van hel. Regdeur daardie jare het ek gevoel ek leef ’n nagmerrie.”

’n Mens kan jou dit skaars indink, maar Loretta het in ’n stadium slegs 25 kg geweeg. Die pyn was selfs so erg dat sy etlike kere probeer het om haar eie lewe te neem.

Loretta het as jong meisie begin kook. Foto: Insta
Loretta het as jong meisie begin kook. Foto: Instagram/@the.nil.by.mouth.foodie

Sy is in ’n eenheid in ’n psigiatriese hospitaal vir eetsteurings opgeneem en 18 maande lank met arendsoë dopgehou. Sy is nie toegelaat om die eenheid se eetsaal te verlaat voor sy al die dag se maaltye geëet het nie – drie hoofmaaltye en drie peuselhappies – al het sy tydens etes van die pyn dubbel gevou.

“Ek het herhaaldelik vir hulle gesê die enigste rede waarom ek depressief is, is oor my derm- en maagprobleme, maar hulle het my nie geglo nie,” sê sy.

Dit was eers toe sy ’n dermspesialis besoek het dat alles begin sin maak het. Op 23 jaar is Ehlers-Danlos-sindroom en maagverlamming by Loretta gediagnoseer, en die verligting was groot.

Sy wend nou haar ervaring, innoverings en al haar
Sy wend nou haar ervaring, innoverings en al haar sintuie aan om voedsame en heerlike plantgebaseerde maaltye te skep. Foto: Facebook/@deadlyxdelish

Dit was onbeskryflik goed om weer beheer oor haar lewe te kry, sê sy.

“Die rede waarom ek nie nou stapelgek raak oor die feit dat ek nie kan eet nie, is dat ek so verlig is om ná so baie jare vry van pyn te wees.”

Sy erken sy mis van haar gunstelingkosse, soos verjaardagkoek, roomys en suurdeegbrood.

Maar sy troos haar deur met kos te werk.

“Dit is vir my ’n kreatiewe uitlaatklep. Ek het oor die jare geleer om deur struikelblokke te werk, en niks sal my nou terughou nie. 

Bronne: deadlyxdelish.com, instagram.com, bbc.com, healthline.com, dailymail.com, ndtv.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe