Pieter sê hy het ’n slukdermprobleem wat soms groot ongemak en pyn veroorsaak. Spesialiste probeer al maande lank bepaal wat die oorsaak van sy gesondheidsprobleem is. 

“Ek het hierdie vreeslike steekpyn in my slukderm gekry en toe beheer verloor,” sê hy.

Pieter het al voorheen maagsere ook gehad en hy vermoed sy slukprobleem hou daarmee verband. 

“Ek sukkel soms om te sluk. Dit sal baie pyn en brand.”

Pieter was op pad huis toe van die werk af. Hy werk as ’n omroeper by ’n plaaslike radiostasie. Dit was net ná 19:15 toe hy ’n verkeersirkel tref en sy band bars.

“Ek het genadiglik lig daarvan afgekom.”

Pieter vertel toe hy uit die motor klim, het hy inmekaargesak – nie van sy beserings nie, maar van sy bloeddruk wat hemelhoog was. 

“Ek het ’n paar keer my bewussyn verloor, want my bloeddruk was ontsettend hoog. Ek drink bloeddrukmedikasie, maar dit was gisteraand regtig baie hoog. Hulle het my toe vir ’n paar uur by die hospitaal gehou,” vertel Pieter. 

Pieter se borskas is gekneus waar die sitplekgordel hom tydens die ongeluk geskaaf het, maar verder is hy “fine”. 

“Ek is nou by die dokter sodat hulle weer na my bloeddruk kan kyk. Ek sal weer my spesialis gaan sien oor my slukderm. Dit was maar net ’n rowwe week. Die familie was alleen by die huis terwyl ek vir ’n week lank in Johannesburg moes werk verlede week,” sê Pieter.

Pieter en sy vrou, Michelle, het twee seuntjies, Zion (net oor die 2) en Samuel (9 maande). Zion is die paartjie se aangenome kind. 

“Ek is dankbaar ek is oukei. Arme Michelle het verskriklik geskrik,” sê hy.