Sy was net 13 jaar oud toe sy haar hart op die sjarmante Griekse prins verloor.

Al het meer blou bloed in sy are gebruis as in hare, moes dié afstammeling van Deense en Noorweegse koninklikes alles vir haar prysgee – sy titels, geloof en loopbaan in die vloot.

Boonop het van die stywelip-Britte neus opgetrek vir die platsak prins wat as vlugteling in Engeland beland het.

Maar al moes hulle talle struikelblokke op hul liefdespad oorkom, vier koningin Elizabeth II en prins Philip op 20 November hul 70ste huweliksherdenking en stel daarmee ’n rekord op vir die langste huwelik van ’n Britse monarg.

Tog gaan hulle nie soos met hul goue en diamantherdenking dié mylpaal met ’n groot onthaal vier nie; ’n intieme aandete saam met hul familie en hegte vriende gaan in die prentjiemooi Windsor-kasteel gehou word.

Dis nog nie bekend of prins Harry (33) se meisie, die Amerikaanse aktrise Meghan Markle (36), die gastelys gehaal het nie.

Die 91-jarige koningin en die hertog van Edinburgh (96) het vier kinders, agt kleinkinders en vyf agterkleinkinders, en die meeste van die familielede kom dit glo saam vier. Dis nog nie bekend of prins Harry (33) se meisie, die Amerikaanse aktrise Meghan Markle (36), die gastelys gehaal het nie.

Die koninklike egpaar het glo teen ’n groot viering besluit omdat dit hulle sou herinner aan al die geliefdes wat hulle al aan die dood afgestaan het, soos die koningin se niggie Margaret Rhodes, wat in November verlede jaar oorlede is.

Philip was 65 jaar tydens amptelike verpligtings getrou aan die sy van Elizabeth, die langs regerende monarg in die Britse geskiedenis. Maar sedert sy aftrede in Augustus geniet hy ’n rustige lewe op die platteland. Hy woon in ’n kothuis, Wood Farm, op die Sandringham-landgoed in Norfolk.

Sedert sy aftrede in Augustus geniet hy ’n rustige lewe op die platteland.

Toe sy onlangs vir ’n paar dae daar by hom gaan kuier, was dit die eerste keer in weke dat hulle mekaar sien. Hy is dol oor sy alledaagse bestaan daar, skryf die veteraanjoernaliste Richard Kay en Geoffrey Levy in die Britse Daily Mail.

Hy sit met sy neus diep in boeke, skilder, skryf briewe en nooi vriende oor.

“Hy geniet dit om te doen wat hy wil sonder ’n adjudant wat hom aansê hy moet elders wees of ’n kamera wat hom volg,” vertel ’n ou vriend.

Die koningin mis hom vreeslik in Buckinghampaleis, meer as drie uur se ry daarvandaan, veral aan die ontbyttafel.

‘Die koningin voel die hertog verdien ’n behoorlike aftrede’

Daar geniet sy nog haar pap, vrugte, ’n gekookte eier en roosterbrood en drink Darjeeling-tee, maar nou sonder Philip. Die twee het al jare lank elkeen sy eie kamer, soos die gebruik is onder die hoëlui.

‘Die koningin voel die hertog verdien ’n behoorlike aftrede’

"Op Wood Farm is hy nie te ver weg nie, maar ver genoeg om te ontspan,” vertel ’n howeling en voeg by Elizabeth bewonder Philip, wat deur die jare “homself gebly het – dieselfde charismatiese en innemende man met wie sy getrou het”.

Hier kyk ons na hoe hul jeugliefde ontluik en gegroei het tot ’n huwelik wat al ’n volle sewe dekades lank hou

Die begin van hul sprokie

Philip se ma, Alice, was ’n agterkleinkind van koningin Victoria; hy en Elizabeth is dus agterkleinneef en -niggie.

Hul paaie het vir die eerste keer in 1934 op ’n familielid se troue gekruis. Eers met hul derde ontmoeting vyf jaar later het Philip, toe 18 en ’n kadet aan die koninklike vlootkollege in Dartmouth, die 13-jarige prinses se hart gesteel.

Terwyl Elizabeth saam met haar ouers, koning George VI en koningin Elizabeth, en kleinsus, Margaret, die kollege besoek het, het sy die lenige Philip ligvoets oor ’n tennisnet sien spring.

“Kyk net hoe hoog kan hy spring!” het sy opgemerk. “Sy’t nooit weer na iemand anders gekyk nie,” het haar niggie Margaret vertel.


Die geheime verlowing

Terwyl Philip in die somer van 1946 ’n maand lank in Balmoral-kasteel by die Windsors gekuier het, het hy die prinses die jawoord gevra.

Maar haar pa het gemeen Elizabeth is nog te jonk om te trou; hulle moes tot April die volgende jaar wag, toe sy 21 sou word.

Hul verlowing is amptelik op 9 Julie 1947 aangekondig. Van die koning se raadgewers het gedink Philip is “nie goed genoeg” vir Elizabeth nie.

Hy is in die buiteland gebore, op die Griekse eiland Corfu, en moes in 1922 saam met sy gesin landuit vlug.

’n Griekse revolusionêre raad het toe sy pa, Andrew, jonger broer van die Griekse koning Konstantyn I, uit die land verban nadat die Turke Griekeland verslaan het. Die gesin het na sy ma se familie in Engeland gevlug.


Mev. Mountbatten

Ná ’n verlowing van net vier maande is hulle op 20 November 1947 getroud.

Philip moes van sy Griekse en Deense koninklike titels afstand doen en sy Grieks-Ortodokse geloof laat vaar om Anglikaans te word. Hy het ook sy ma se familie se van, Mountbatten, aangeneem.

Op sy troudag het hy sy laaste sigaret uitgedoof, want hy het geweet hoe haar pa se rookgewoonte Elizabeth pla. Die prinses en haar prins is voor 2 000 gaste in die Westminster-abdy getroud.

Weens rantsoenering ná die Tweede Wêreldoorlog is die pennies met die koninklike troue omgedraai. Die materiaal vir Elizabeth se trourok is met rantsoeneringskoepons gekoop en sy het self haar grimering versorg. BBC Radio het die troue na 200 miljoen mense wêreldwyd uitgesaai.

Die paartjie het meer as 2 500 trougeskenke ontvang, waaronder ’n wasmasjien, en sowat 10 000 telegramme van gelukwensing uit alle wêrelddele het ingestroom.


Die wittebrood

Toe die stralende pasgetroudes by Buckinghampaleis wegtrek, het ’n verrassing in hul koets gewag.

’n Howeling het die prinses se geliefkoosde corgi, Susan, onder ’n mat in haar koets versteek sodat sy kon saamgaan op hul wittebrood.

Die egpaar was eers ’n week lank op Philip se oom graaf Louis “Dickie” Mountbatten se landgoed, Broadlands, in Hampshire, en daarna twee weke in die sneeubedekte Birkhall-lodge op die Balmoral-landgoed.

In ’n brief aan haar ouers het Elizabeth geskryf: “Ons gedra ons asof ons al jare aan mekaar behoort! Philip is ’n engel – hy is so goedhartig en bedagsaam.”

’n Howeling het Elizabeth se geliefde corgi, Susan, in hul wittebroodskoets versteek.


Hulle word ouers

Toe Elizabeth in Mei 1948 ongeveer vier maande swanger was met hul eersteling, Charles, het sy en Philip nog ’n bedrywige sosiale lewe geniet.

Hulle het perdewedrenne bygewoon, saam met vriende na eetplekke en nagklubs gegaan, en op ’n kostuumpartytjie het die swanger prinses eenmaal tot vyfuur die volgende oggend gedans.

Hulle was duidelik steeds smoorverlief. Toe John Brabourne, ’n vriend van Philip, opmerk watter lieflike vel Elizabeth het, het die prins laat hoor: “Ja, sy lyk oraloor so.” Hul seun Charles is in November daardie jaar gebore en sy suster, Anne, in Augustus 1950.


Matroos se vrou

Tussen 1949 en 1951 het die egpaar op die Mediterreense eiland Malta gewoon, waar Philip as vlootoffisier gestasioneer was.

“Ek dink haar gelukkigste tye was toe sy op Malta ’n matroos se vrou was,” het haar niggie Margaret al vertel. “Dit was die naaste aan ’n gewone lewe wat sy kon kry.”

Elizabeth het saam met die ander vlootoffisiere se vroue tee gedrink en self inkopies gedoen.

Sy word koningin

Terwyl hulle in Februarie 1952 op ’n buitelandse toer in Kenia was, het Elizabeth haar pa se doodstyding gekry.

Sy was skielik koningin - en dit op 25.

Twee maande later het sy en Philip na Buckinghampaleis verhuis. Senior koninklike amptenare het hom nog as ’n buitestander beskou, en Elizabeth se ouma aan vaderskant , die voormalige koningin Mary, was hoogs ontevrede toe sy hoor Philip se oom Dickie verklaar: "Die huis van Mountbatten regeer nou."

Daarna is besluit Elizabeth moet haar van,Windsor, behou - iets wat glo baie spanning in hul huwelik veroorsaak het, soos dit ook in die reeks The Crown uitgebeeld is.

"Ek is die enigste man in die land wat nie sy kinders sy van kan gee nie " het Philip by vriende gekla.

Hy was so kwaad daaroor dat hy jare gewag het voor hulle nog twee kinders, Andrew (nou 57) en Edward (53) sou hê het Dickie later laat deurskemer.  


Eerste koninklike toer

’n Paar maande ná haar kroning het die koningin en haar man ’n ses maande lange toer na Britse kolonies oor die aardbol heen onderneem.

Oral is hulle deur aanhangers oorval. Op 27 was Elizabeth skielik die “wêreld se liefling”. Toe sy eindelik in Mei 1954 met haar kinders herenig is, het sy volgens protokol eers die hooggeplaastes gegroet en toe haar kinders, prins Charles (toe 5) en prinses Anne (3).


‘Annus horribilis’

1992 was haar “annus horribilis”, Latyn vir verskriklike jaar, het die koningin aan die einde daarvan in ’n toespraak gesê.

’n Brand het ’n groot deel van haar geliefde Windsor-kasteel verwoes, Anne is geskei, en Charles en Andrew het vervreem geraak van hul onderskeie vroue, Diana en Fergie.

In dieselfde jaar het Andrew Morton se biografie Diana: Her True Story – In Her Own Words verskyn. Daarin was onthullings oor die prinses van Wallis se bulimie, selfdoodpogings en Charles se affair met Camilla Parker Bowles.

“Egskeiding loop in families; sy en Philip het ’n goeie voorbeeld gestel wat hulle gedink het hul kinders sou volg. Dit was vir hulle ’n groot teleurstelling,” sê ’n senior howeling.

Philip het in dié tyd in ’n brief aan Diana geskryf: “Ek kan my nie indink enigeen by sy volle positiewe sal jou vir Camilla los nie.” Fergie het ’n vuurrooi verleentheid vir die koningsgesin veroorsaak toe sy bostukloos gekiek is terwyl haar Amerikaanse kêrel, John Bryan, haar tone suig.

Philip weier steeds om iets met sy eksskoondogter te doen te hê. Sy vrou sien Fergie (58) nog gereeld, glo ter wille van haar kleindogters prinsesse Beatrice (29) en Eugenie (27). Ná Diana se dood in 1997 in ’n motorbotsing in Parys het die koningin se gewildheid tot ’n laagtepunt gedaal.

Sy en Philip het skerp onder kritiek deurgeloop omdat hulle eers dae later uit Balmoral na Londen teruggekeer het terwyl die Britse volk gerou het.

“Dit was baie pynlik vir hom (Philip) en die koningin om te hoor hul publiek, vir wie hulle met al die jare so goed gedien het, het teen hulle gekant begin raak,” sê die oud- koninklike assistent Anji Hunter.


Tweede viool

Vir Philip was dit moeilik om altyd vir sy vrou tweede viool te speel, vertel familielede.

Met die jare is hy met verskeie vroue romanties verbind, onder wie lady Penny Brabourne, wat 32 jaar jonger as hy is. Haar tante gravin Mountbatten het aan die Britse skrywer Gyles Brandreth gesê: “Philip geniet die geselskap van aantreklike, intelligente jonger vroue. Maar ek is seker – baie seker – dat hy nooit ontrou was aan die koningin nie.”

In die 1950’s is daar so erg oor die prins se dwalende oog gegis dat die paleis dit in ’n verklaring ontken het. “Daar is geen skeuring tussen die koningin en hertog nie.”

Dié kwessie gaan ook aangeroer word in die tweede seisoen van die bekroonde Netflix-reeks The Crown, wat op 8 Desember begin.

Die koningin is glo in 1956 aangeraai om haar man op ’n buitelandse reis te stuur om hom uit die pekel te hou. Hy is toe per skip na Australië vir die opening van die Olimpiese Spele.

Met sy terugkeer ná meer as vier maande het die koningin en personeellede hom in Lissabon met vals baarde ingewag om te spot met die bakkebaard wat hy op die seereis gekweek het.

Philip is romanties met lady Penny Brabourne (middel) verbind.


Mnr. en mev. Normaal

Toe hulle 15 jaar getroud was, het die twee nog soos verliefdes gekoer. Eenkeer het die personeel Elizabeth, toe al ’n ma van drie, hoor giggel terwyl Philip haar aan die boud knyp en by die trappies by Broadlands opjaag.

Philip het al gespot hy is die “ou wat aan mev. Koningin behoort”.

Maar die koningin snou hom soms toe: “Hou jou mond.” Op sy 90ste verjaardag het Elizabeth hom aangewys as lord Hoë Admiraal, die hoof van die koninklike vloot. Philip, vir wie dit ’n groot opoffering was om sy loopbaan in die vloot vaarwel toe te roep, was “byna in trane” oor die gebaar, vertel vriende.

Met die jare was hy en Elizabeth ’n wenspan met amptelike verpligtings. Al maak hy graag grappe, deel Philip sy vrou se pligsbesef. “My werk eerstens, tweedens en laastens is om nooit die koningin in die steek te laat nie,” het hy op ’n keer gesê. 

Foto's: Gallo Images/Getty Images

BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, blogs.bodleian.ox.ac.uk, VOGUE.COM, EXPRESS.CO.UK, VOGUE.COM.AU, DAILYMAIL.CO.UK, MIRROR.CO.UK, ROYALCENTRAL.CO.UK, VANITYFAIR.COM, POPSUGAR.COM, TIME.COM, GOOD MORNING BRITAIN, WINDSOR.GOV.UK, THEGUARDIAN.COM, netwerk24.com