Dit was omtrent konsternasie in Brackenfell, Kaapstad, Dinsdagmiddag toe ’n skaap, wat as "lobola" aangebied is van ’n knaap wat wou trou, oor ’n twee meter hoë muur gespring en die ope veld ingehol het.

Die skaap moes seker sy vriend in die yskas geruik het, want net nadat hy by Delene Pieterse (46) se huis aangekom het, het hy hom uit die voete gemaak.

Delene se dogter, Liezle Pieterse (24) en haar kêrel, Theo Potgieter (25), woon die afgelope twee jaar in Abu Dhabi, hoofstad van die Verenigde Arabiese Emirate, waar sy as ’n lugvaardin en hy as ’n gholfbaanbestuurder werk.

Delene, Liezle en Theo. Foto: Facebook

“Ons sien hulle nie gereeld nie en Theo wou ons verras deur ‘lobola’ te betaal met die skaap en vir ons te vra om met ons dogter te trou,” vertel Delene aan Huisgenoot.

Hy hoor toe hy sal drie weke moet wag voordat ’n lewendige skaap geslag kan word. “En ek het nie kans gesien om ’n skaap vir drie weke in my tuin te hou nie,” sê Delene.

Theo en Liezle was net vir dié week tot Sondag in die Kaap. Hy moes toe inderhaas Maandagoggend aan die werk spring om ’n skaap te huur. “Theo het toe ’n skaap by ’n boer in Durbanville gaan huur en sou dit weer Woendagoggend teruggee aan die boer.”

Maar hy het ook ’n geslagte skaap gekoop vir ’n braai wat hy sou hou nadat hy vir Delene en haar man, Johan (48), gevra het of hy met hul dogter kon trou.

Liezle en Theo trou aanstaande jaar. Foto: Facebook

Maar toe hulle Dinsdagmiddag by die huis kom, het die skaap oor die twee meter hoë muur gespring en gevlug! “Ek het nie geweet ’n skaap is so vinnig nie,” sê Delene wat in haar kar moes spring en die skaap agterna sit. Theo en Liezle het ook die skaap gejaag, sonder sukses. Die skaap het die oop veld tussen die Zevenwacht-landgoed en Haasendal ingehaas.

Sy moes toe haar tot Facebook wend. Sy't op die sosiale netwerk ’n inskrywing gemaak en mense gevra om op die uitkyk te wees vir die voortvlugtige skapie.

Theo het nie tou opgegooi nie. Hy het met vriende die skaap in die bosse gaan soek. “Ons het toe die skaap in ’n bosbewoner se hut gekry. Hy was te bang om in te gaan, want die skaap het daar ingehardloop en die skaap was te bang om uit te kom. Dit was vreeslik snaaks,” vertel Delene laggend.

Gelukkig het hulle  negeuur die aand tuis gekom en Delene se man was darem nog nie by die huis vir die verrassing nie. “Toe hy tuis kom, het Theo ’n spotlight op die skaap geskyn en vir my man gesê: ‘Daar is nie genoeg skape in die wêreld nie, maar kan ek asseblief met jou dogter trou?’.”

Theo en sy liefie Liezle gaan volgende jaar op 27 April trou.

Die weghol-skaap is terug by die boer in Durbanville en die geslagte skaap? “Dis nog in die deep freezer,” sê Delene.