By die flou flonkering van kerslig voel dit dalk soms of daar vir Eskom geen lig op die horison wink nie. Die kragreus se treurmares ken geen einde nie, en dit laat baie Suid-Afrikaners wanhopig wonder of die einde van beurtkrag ooit sal aanbreek.

Nadat fase 6-beurtkrag in Desember die eerste keer aangekondig is en die krag plek-plek tot 10 uur per dag af was, word daar gegis dat fase 8 die land kan tref as sake vorentoe selfs meer beroerd sou gaan. Dit sou beteken dat kragonderbrekings van tot 17 uur per dag plek-plek ons voorland kan wees.

Eskom sê dis nie iets wat ons hoef te vrees nie, maar tog laat baie Suid-Afrikaners hulle nie maklik troos nie.

Jabu Mabuza, voorsitter van die kragvoorsiener se direksie, het onlangs bedank nadat daar oor die feestyd wél beurtkrag was, al het pres. Cyril Ramaphosa beloof daar sal landwyd lig wees.

Boonop eis die EFF, Cosatu en die metaalwerkersvakbond Numsa die kop van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die kragkrisis.

Terwyl die nuwe waarnemende voorsitter, prof. Malegapuru Makgoba, die nuwe uitvoerende hoof, André de Ruyter, en die nuwe bedryfshoof, Jan Oberholzer, nou planne moet beraam om sake reg te ruk, het Huisgenoot by kenners gaan kers opsteek: Wat kan en moet gedoen word om ons kragkrisis finaal op te los?

Daar ís hoop, en ’n ommeswaai ís moontlik, meen kenners in die energiebedryf. Maar dan moet drastiese stappe gedoen word.

1. Gebruik meer hernubare energie

“Ons moet van son- en windkrag tot gas gebruik maak – dit is waarheen die hele wêreld beweeg. Ons kan nie meer net op steenkool staatmaak nie,” sê Piet van Staden, ’n voormalige voorsitter van die Groep van Intensiewe Energieverbruikers.

Om soos Eskom swaar op steenkool en kernkragsentrales te steun pleks daarvan om hernubare energiebronne soos wind en sonkrag beter te benut is “soos om selfoontegnologie te probeer stuit of steeds met ’n donkiekar te wil ry”, beaam die energiekenner Chris Yelland. Hy sê talle Afrikalande en lande soos China, Indië en Mexiko ondervind ook ’n kragtekort.

’n Onlangse verslag van die Internasionale Energieagentskap wys die vraag na elektrisiteit het sedert 2018 wêreldwyd met 4% toegeneem. Tog het Brittanje gewys dis ondanks ’n verhoogde aanvraag moontlik om van steenkoolkrag na hernubare kragbronne oor te skakel.

In 2008 was 34% van dié land se krag nog van steenkool afkomstig, teenoor die huidige 5%, berig Carbon Brief, ’n nuusagentskap wat op die klimaatskrisis fokus.

Binne 18 tot 24 maande kan ’n groot windopwekkingsaanleg opgerig en volkome funksioneel wees, sê Ntombifuthi Ntuli, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging. Een so ’n aanleg kan tot 3 miljoen huishoudings van krag voorsien.

Vergeleke met die oprigting van ander kragstasies is dit ook kostedoeltreffend. “Ons windplase verskaf nou meer elektrisiteit as wat hulle toegelaat word om aan die nasionale kragstelsel te lewer,” voeg sy by. “Hierdie oortollige elektrisiteit kan aan Eskom verkoop word en die land se beurtkragkrisis onmiddellik verlig.”

2. Verander wetgewing

Weens streng regulasies is dit tans feitlik onmoontlik om die oortollige krag wat deur onafhanklike kragverskaffers, sakeondernemings en die publiek opgewek word by die nasionale kragstelsel te voeg, sê Piet. “As ek net die helfte van die krag gebruik wat my sonpanele opwek, kan ek die res nie aan Eskom verkoop nie. Ek kan dit nie eens vir hulle gee nie,” verduidelik Chris.

Tans word munisipaliteite verplig om slegs krag van Eskom aan te koop, wat hulle op hul beurt aan verbruikers verkoop. Maar die Stad Kaapstad gaan nou in die hof baklei vir toestemming van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, om hernubare energie van onafhanklike kragverskaffers aan te koop.

Dié geding sal in Mei in die hooggeregshof aangehoor word.

“Dit behoort makliker vir klein ondernemings te wees om hul eie krag op te wek,” sê Mike Levington, ’n energiekenner. As ’n klein onderneming meer as 1 MW krag wil opwek, moet hulle tans eers ’n lisensie kry met die goedkeuring van Eskom en Nersa.

Vir groter ondernemings wat heelwat meer krag wil opwek, is die goedkeuringsproses nog ingewikkelder en dit kan maande neem. Daar kan onder meer van hulle vereis word om uitgebreide omgewingsimpakstudies te doen. Onafhanklike verskaffers sal die druk op die kragstelsel verlig, sê kenners.

3. Herstruktureer Eskom

Verdeel Eskom in drie dele – opwekking, transmissie en verspreiding, beveel die kenners aan. Dié proses, wat tot vyf jaar lank kan duur, sal deursigtigheid verseker en dit makliker maak om elke afdeling verantwoordbaar te hou.

“Hoewel Eskom reeds uit hoofsaaklik drie entiteite bestaan en elk hul eie begroting het, word al die geld in ’n sentrale poel gehou,” sê Mike. Dit bring mee dat geld tussen die verskillende begrotings rondgeskuif word.

Geld wat vir die instandhoudingswerk aan ou kragstasies bedoel was, is byvoorbeeld al afgeknyp toe die boukoste van nuwe kragstasies die begroting oorskry het.

Mike meen die herstrukturering van Eskom sal nie noodwendig tot werkverliese lei nie. Munisipaliteite wat byvoorbeeld nie ’n elektriese ingenieur in diens het nie, kan van die Eskom-personeellede aanstel.

4. Doen behoorlike herstelwerk

Die kenners benadruk almal dat behoorlike herstelwerk broodnodig is by al Eskom se kragstasies. Medupi moet teen 2021 in volle werking wees, en Kusile teen 2023. Van die eenhede by dié twee nuwe kragstasies funksioneer nog nie optimaal nie en Eskom moet daaraan aandag gee, sê Chris.

Om Eskom die kans te gee om aan hul wankelende kragstasies te werk, stel verskeie kenners voor dat gereelde geskeduleerde beurtkrag ingestel word pleks daarvan dat dit op ’n dag weens die een of ander krisis skielik weer op ons toeslaan.

“Dit sal beter wees om permanent tussen 3 000 en 5 000 MW uit die stelsel te verwyder sodat behoorlike instandhoudingswerk gedoen kan word.

“Dit beteken fase 3- tot 5- beurtkrag vir omtrent ’n jaar. Dit sal beurtkrag meer voorspelbaar maak en sakeondernemings en burgers kan hul lewe daarvolgens reël,” stel Mike voor. Maar ander kenners, soos Piet, verskil van hom en meen beurtkrag moet ter wille van die ekonomie slegs as noodmaatreël ingespan word.

5. Beloon verbruikers wat opwek

Die regering kan verbruikers beloon deur vir hulle belastingverligting te bied as hulle min krag gebruik of van hernubare energiebronne gebruik maak. “Dit sal minder geld vir Eskom en Jan Taks beteken, maar die ekonomie sal daarby baat vind – veral klein- en middelslagondernemings,” sê Chris. Selfs individuele kragverbruikers kan beloon word as hulle sonpanele oprig.

6. Verander die prysstruktuur

Die huidige situasie is dat verbruikers krag teen ’n vasgestelde tarief by Eskom of van hul munisipaliteit koop. Munisipaliteite maak ’n wins uit die krag wat hulle by Eskom koop om hul plaaslike kragtoevoerstelsel in stand te hou.

Piet sê dié prysstruktuur moet verander.

“Munisipaliteite moenie ’n heffing op die krag plaas wat hulle by Eskom koop nie, maar verbruikers moet ’n vaste bedrag betaal om aan die netwerk gekoppel te wees. Die munisipaliteit maak dus steeds geld vir die instandhouding van die netwerk, maar nie uit die krag nie,” sê hy.

Dit sal verseker dat die privaat opwekking van elektrisiteit nie die munisipaliteit se inkomste knou nie. En dat die ligte langer aanbly.