Buite die tronk het hy soos ’n Mafiabaas in ’n fliek geleef: ’n vierverdiepinghuis in ’n ryk deel van die Johannesburgse woonbuurt Bedfordview; ’n spoghuis langs die Vaalrivier; duur motors; ’n Playboymodel as minnares.

Die Tsjeggiese dwelmbaas Radovan Krejcir (50) se naam is soms gefluister wanneer daar oor moorde bespiegel is, maar dit het bewerings gebly.

Toe hy in 2016 oplaas 35 jaar tronkstraf kry, was dit omdat hy skuldig bevind is aan ontvoering, poging tot moord en dwelmhandel.

Selfs agter tralies is daar g’n einde aan die drama rondom die misdaadbaas nie. Hy was al in drie verskillende tronke, word glo in ’n spesiale ondergrondse sel aangehou, en wanneer hy hof toe gaan, word hy deur ’n buitengewoon groot konvooi polisievoertuie begelei.

Beeldmateriaal van een van sy hof-ver­skynings wys hoe die Tsjeg se hande en voete geboei is. Hy was ook al in die hof met ’n opspoorstelsel om sy middel.

Die rede, sê ingeligte bronne aan Huisgenoot, is dat Krejcir al minstens vyf keer planne gesmee het om te ontsnap.

Hy moes onlangs weer in die hof verskyn omdat hy kort ná sy vonnis­oplegging in 2016 uit die Zonderwatertronk naby Pretoria probeer ontsnap het. Onder sy medebeskuldigdes is twee voormalige tronkbeamptes en sy minnares, Marissa Christopher.

Hy is intussen glo om sekuriteitsredes uit Zonderwater na Johannesburg se Leeuwkopgevangenis verskuif.

Die Leeuwkoptronk in Bryanston, Johannesburg, waar
Die Leeuwkoptronk in Bryanston, Johannesburg, waar Krejcir sedert verlede Julie aangehou word.
Sy voormalige minnares, die Playboymodel Marissa C
Sy voormalige minnares, die Playboymodel Marissa Christopher.

“Krejcir het dit van die begin af duidelik gemaak: Hy sal doen wat dit ook al verg om te ontsnap,” sê die onafhanklike forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan, wat al sedert 2009 werk aan ’n strafregtelike saak teen Krejcir.

Hy sê die owerheid is deeglik bewus van sy planne en hou hom met valkoë dop.

“Voor elke hofverskyning word sy sel ’n tyd lank daagliks deursoek. Die tronkpersoneel word geroteer om te keer dat hy te vriendelik met hulle raak.”

Maar Krejcir se regsverteenwoordiger, Jeff Mendelson, sê hierdie maatreëls is onregverdig en doelbewuste afknouery deur die gevangenisdiens.

“Hy word soos ’n roofdier in onmenslike omstandighede aangehou. Elke keer dat hy ’n beweging maak, is daar ’n stoet polisiemotors en talle swaar gewapende wagte.”

Jeff kon nie berigte bevestig dat die Tsjeg se tronksielkundige aan­beveel het dat hy vir sielkundige evaluering na die Weskoppies- Psigiatriese Hospitaal in Pretoria verskuif word nie.

Maar Krejcir se seun Denis hou vol sy pa se lewe is verwoes en dat bipolêre steuring onlangs by sy pa gediagnoseer is.

Krejcir se seun De­nis en vrou, Katerina, buite di
Krejcir se seun De­nis en vrou, Katerina, buite die hof.

“Hy het dikwels selfdoodgedagtes omdat hy glo daar is niks meer om voor te leef nie.”

Krejcir is g’n groentjie as dit by ontsnapping kom nie.

Hy het in 2005 in sy geboorteland ontsnap nadat hy weens die diefstal van ’n staatsbeheerde oliemaatskappy se bates in hegtenis geneem is.

Hy het verdwyn; die Tsjeggiese polisieminister moes weens sy ontsnapping bedank.

Krejcir is later daar in sy afwesigheid op aanklagte van bedrog en poging tot moord op ’n doeanebeampte tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Hy het daarna in die Seychelle opgeduik. In 2007 is hy, vergesel deur sy gesin, by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg aangekeer as ’n voortvlugtige.

Tsjeggië het toe al aansoek gedoen dat hy uitgelewer word, maar daar word beweer Krejcir het dit met omkoopgeld verhinder en is toegelaat om in Johannesburg te bly, waar hy hom gou in die plaaslike onderwêreld ingegrawe het.

Deur die jare is hy ondersoek in verband met gewapende roof, bedrog, dwelm­handel en tientalle ontvoerings en moorde – onder meer die sluipmoord in 2011 op die Kaapse misdaadbaas Cyril Beeka.


Maar die glibberige skurk kon lank nie vasgetrek word nie.

Hy was in Julie 2013 in Bedfordview self die teiken van ’n sluipmoordaanval.

’n Afstandbeheerde vuurwapen is buite sy winkel, waar goud, juweliersware, muntstukke en oudhede gekoop en verkoop word, in die kattebak van ’n motor op­gestel.

Hy het met sy swart Mercedes-­Benz AMG op sy gewone parkeerplek by die winkel stilgehou. Oomblikke nadat hy uitgeklim het, is 12 skote op sy motor afgevuur. Dis met afstandbeheer geaktiveer. Hy het ongedeerd daarvan afgekom.

Eindelik het hy tog aan die pen gery nadat hy verbind is met die ontvoering van die vermoorde Duitse motorhandelaar Uwe Gemballa (54).

Uwe het in 2010 op O.R. Tambo geland en toe verdwyn. Sy lyk is sewe maande later in ’n vlak graf in Pretoria gekry.

Die huurmoordenaar Thabiso Mpye is later aangekeer, skuldig bevind en vir 20 jaar tronk toe gestuur. Krejcir is in 2013 vasgetrek nadat hy met die saak verbind is, maar is slegs aan ontvoering en poging tot moord skuldig bevind.

Hy het sy vonnis in 2016 in die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria begin uitdien.

Daar het hy met Oscar Pistorius in aanraking gekom, wat eers in dié tronk se hospitaalafdeling aangehou is voor hy na die Atteridgeville-tronk buite Pretoria geskuif is om sy straf vir die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, uit te dien.

’n Video waarin die twee sokker speel, is in Maart 2015 deur die Daily Sun bekom.

Krejcir is later na Zonderwater geskuif en toe na Leeuwkop.

Nadat hy twee jaar in Suid-­Afrikaanse tronke was, het sy regspan in Maart 2018 suksesvol in die hof in Kempton Park aangevoer die Tsjeggiese uit­leweringsaansoek van 2007 moet gehoorsaam word.

Kort voor ons druktyd het Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, nog nie die bevel laat uitvoer nie.

Intussen kwyn Krejcir weg, beweer sy regsverteenwoordiger.

“Hy word in afsondering ­gehou, het nie toegang tot sy regs­dokumente of voldoende mediese sorg nie, mag nie studeer nie en het geen leesstof of musiek nie,” sê Jeff.

“Hy word toegelaat om sy familie oor naweke te bel, maar nie vir ’n noemenswaardige tyd nie. Sy gesondheid is uiters swak. Hy verduur gedurig pyn weens ’n chroniese rugprobleem. Hy ly aan ekseem en het respiratoriese probleme. Hy sukkel om te urineer en het bloed in sy urine, simptome van die blaas­kanker wat hy ’n paar jaar gelede oorwin het.”

Denis hou vol sy pa is onskuldig en vertel die saak het die lewe vir sy familie moeilik gemaak.

“Die familie het hom in November 2014 laas gesien. Dis veral vir sy jongste seun baie moeilik.”

Hy het twee seuns by sy vrou, Katerina, met wie hy in 1992 getroud is.

Denis sê sy familie het min kontak met sy pa.


“Die laaste oproep aan sy familie het net langer as een minuut geduur. Hy kan glad nie met sy bejaarde ma praat nie omdat sy nie Engels magtig is nie en hy nie toegelaat word om in sy moedertaal met haar te praat nie.”

Omstandighede 'onhoudbaar'

“Denis is beswaard omdat die gevangenisdiens glo nie die plaaslike howe se uitsprake – dat Krejcir se omstandighede moet verbeter – gehoorsaam nie.

“Twee howe het gelas hy mag ’n rekenaar koop om vir sy hofverskynings voor te berei. Sy familie het dit gekoop, maar tronkbeamptes het dit dae later afgevat. Hy was ook veronderstel om ’n ortopediese bed te kry weens die chroniese rugpyn, maar het nie,” beweer Denis.

Huisgenoot het die uitsprake gelees – daar word inderdaad gelas dat hierdie stappe gedoen moet word.

Denis sê sy pa se omstandighede is onhoudbaar.

“Hy word 23 uur per dag in ’n keldersel afgesonder. Die sel se ­af­metings, ventilasie en beligting voldoen nie aan amptelike vereistes nie. Daar is nie natuurlike lig nie, en dis stowwerig, wat veroorsaak dat sy sig ook versleg.”

’n Bron na aan Krejcir beweer: “Dis asof hulle hom probeer knak. Hy het bewerings teen talle hooggeplaastes in die polisie en politieke kringe gemaak; hulle wil seker maak sy mond bly gesnoer. Hy word emosioneel gemartel.”

Jeff ontken berigte dat Krejcir al sy eie lewe probeer neem het.

“Hy oorweeg dit wel sterk; al wat hom verhinder, is die gedagte aan sy familie.”

Paul meen al die klagtes oor die misdaadbaas se omstandighede is aandagsoekery. Hy glo ook nie dat Krejcir selfdood oorweeg nie.

“Hy is ’n psigopaat; psigo­pate neem selde hul eie lewe.”

Hy het wel verneem dat Krejcir in afsondering opgesluit is.

“Dit word gedoen om veiligheidsredes. Sy vyf ontsnappingsplanne het almal net betyds uit­gelek,” sê Paul.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê dis onsin dat Krejcir onmenslik behandel word.

“Krejcir het toegang tot mediese sorg, psigiatriese dienste en alle geriewe wat in ’n korrektiewe fasiliteit geld.”

Hy sê dit is onwaar dat Krejcir in afsondering in ’n keldersel sonder natuurlike lig of behoorlike ventilasie aangehou word. En besoeke word deur die departement aangemoedig.

“Daar is wel besoekers wat Krejcir nie mag sien nie weens aanklagte wat hulle in die gesig staar. Hul identiteit mag nie bekend­gemaak word nie.”

Singabakho bevestig “streng maatreëls” is geïmplementeer weens Krejcir se ontsnappingsplanne, maar hy mag nie die besonderhede bespreek nie.

Maar dis gewis: Van die ­luukse lewe wat Krejcir eens gelei het, is daar nou geen sprake nie.

FOTO'S: GALLO IMAGES/THE TIMES/ALON SKUY, GALLO IMAGES/SOWETAN/THULANI MBELE, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, FACEBOOK/MARISSA CHRISTOPHER
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.