Le Roux Steyn (22) is vandag in die hooggeregshof in Johannesburg tot 25 jaar agter tralies gevonnis. Hy het snikkend sy vonnis aangehoor.

Hy is een van die twee beskuldigdes wat ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit het. Le Roux sal nou ook ’n staatsgetuie wees in die verhoor van sy vyf medebeskuldigdes, wat sy suster, Marcel (20), insluit.

Le Roux Steyn (22) is vandag in die Johannesburgse hooggeregshof tot effektief 25 jaar agter tralies gevonnis. Foto: Jana van der Merwe.

Le Roux, Marcel, hul ma, Marinda Steyn (51), hul vriendin Cecilia Steyn (36) en vriend Zak Valentine (33) word aangekla van 11 grumoorde wat tussen 2012 en 2016 gepleeg is.

Le Roux, wat reeds 22 maande lank verhoorafwagtend is, was 20 jaar oud toe hy op 24 Junie 2016 vir die moorde op Anthony Scholefield (64), ’n versekeringsmakelaar, Kevin McAlpine (29), ook ’n versekeringsmakelaar en Hanlé Lategan (48), ’n eiendomsagent, in hegtenis geneem is.

Die sesde verdagte in die saak, John Barnard (42), is reeds op 14 Desember 2016 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op 13 aanklagtes skuld beken het. John het op vyf aanklagtes van moord en vyf van roof met verswarende omstandighede skuld beken.


Hy sal nes Le Roux ’n staatsgetuie in die verhoor wees. Hy het ook ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit en sal as ’n staatsgetuie in die saak teen drie van sy medebeskuldigdes getuig.

Die moordkliek

Die staat verwys na die moordkliek as ’n “onderneming” wat as Electus Per Deus bekend gestaan het. Elke lid van die groep het die slagspreuk, wat “uitverkorene van God” beteken, op hul liggaam getatoeer.

Le Roux het op vyf aanklagte van moord, wat die drie Krugersdorp-afspraakmoorde van Mei 2016, sowel as die moord op Glen McGregor (57) in Januarie 2016 en die straatsmous Jarod Jackson (44) in Desember 2015 skuld beken.

Hy is ook op verskeie aanklagte van rampokkery, sameswering tot moord, roof met verswarende omstandighede, bedrog, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, regsverydeling en moord aangekla en het daarop skuld beken.

Nog een van die oorblywende vier beskuldigdes sal na verwagting Donderdag ’n pleitooreenkoms sluit, maar die hof het gelas dié beskuldigde se naam mag eers bekend gemaak word wanneer die ooreenkoms voor die hof gekom het. Indien dié ooreenkoms voortgaan, sal drie van die ses beskuldigdes voor ’n regter verhoor word.

Die saak is tot 8 Oktober uitgestel.

Bloedspoor van moord
  • Julie 2012: Natacha Burger (33) en Joyce Bonzaaier (68) word in Centurion doodgesteek.
  • Augustus 2012:  Die pastoor Reg Bendixen word doodgesteek.
  • Oktober 2012: Mikeila Valentine (25) word dood in haar slaapkamer in haar en Zak se meenthuis in Honeydew gevind.
  • November 2015: Die Meyer-egpaar van Krugersdorp, Peter en Joan, word dood in hul sitkamer aangetref.
  • Desember 2015: Jarod Jackson, ’n straatsmous, se verkoolde lyk word in ’n wrak in Petrus Steyn gevind.
  • Januarie 2016: Glen McGregor (57), ’n rekenmeester van Krugersdorp, word op sy hoewe in Randfontein doodgeskiet.
    10 Mei 2016: Anthony Scholefield (64), ’n versekeringsmakelaar van Krugersdorp, se lyk word in sy voertuig se kattebak op die dorp gevind.
  • 26 Mei 2016: Kevin McAlpine (29), ’n versekeringsmakelaar van Krugersdorp, se lyk word in sy voertuig se kattebak op die dorp gevind.
  • 31 Mei 2016: Lategan (52), eiendomsagent van Krugersdorp, se lyk word langs ’n stroom in Randfontein gevind.

Inhegtenisnemings het so gevolg

  • Twee jong mans, Christiaan Kruger en Fabian Luff is aan die begin van Junie 2016 in verband met die moord in hegtenis geneem. Albei is later in September 2016 vrygespreek en vrygelaat.
  • Junie 2016: Le Roux en Marcel Steyn is in verband met die afspraakmoorde gearresteer.
  • Julie 2016: Zak Valentine word aangekeer en daarvan aangekla dat hy sy eie dood versin het.
  • Augustus 2016: Cecilia Steyn en Marinda Steyn word vir bedrog in verband met Zak se “dood” en die sameswering van die moord op Jarrod Jackson, ’n straatsmous, aangekeer. Marinda word ook met die dood van Glen McGregor verbind.
  • Augustus 2016: John Barnard word in verband met die moord op Glen McGregor in hegtenis geneem.