Dis asof die tyd vir hom stilstaan. Nege jaar het verloop sedert die oomblik dat alles in ’n oogwink verander het toe hy ’n matriekseun was, maar ná al dié jare is hy steeds soos ’n seun op die drumpel van sy grootmenslewe.

Wat hom die hartseerste maak, is dat hy dalk nooit die dinge sal ervaar wat soveel ander jong mense as vanselfsprekend ervaar nie: die liefde van ’n maat, sy eie kinders . . . “Hoe sê ’n mens dit?” soek Thomas Ferreira na die regte woorde vir sy hartseer.

“Ek sal nooit vir my ma-hulle kan kleinkinders gee nie. En dit maak my hart regtig baie seer.”

Hy is vandag 27 jaar oud – fisiek byna ’n dekade ouer as toe hy in 2011 as sorgelose matriekseun in Krugersdorp met sy motorfiets die straat oorgesteek het toe die verkeerslig groen raak. Maar hy is nie die kans gegun om sielkundig en emosioneel meer volwasse te word nie.

Toe ’n aankomende motor met ’n flitsende blou lig op die dak oor ’n rooi lig jaag en in hom vasploeg, het die ongeluk breinbeserings veroorsaak wat beteken het Thomas sal vir ewig soos ’n kind bly.

Thomas was drie maande lank in ’n koma, en toe hy eindelik ontwaak, kon die dokters aan sy ouers, Priscilla (57) en Paul (61), vertel dat hul kind sal oorleef.

Hy sal eindelik min liggaamlike skade oorhou, maar omdat sy beserings skade berokken het aan daardie deel van die brein wat persoonlikheid, emosies en gedrag reguleer, sal hy die onvoorspelbare persoonlikheid van ’n tiener behou.

Waar Thomas vandag self oor sy lang pad sedert die ongeluk gesels, glimlag hy deurgaans skaam soos die skoolseun wat hy was toe sy toekomsdrome deur die “blouligdrywer” te pletter gery is.

Thomas Ferreira
Dokters het destyds alles in hul vermoë gedoen om Thomas se lewe te red. Foto: Verskaf

Sedert daardie dag is hy vasgevang in die vrees dat nog ’n ongeluk dalk kan gebeur en dat dit een van sy geliefde ouers kan eis.

“Hy bel en vra: ‘Waar is jy; ek worry oor jou’ as ek te lank in die winkels bly,” vertel Priscilla.

Langs haar beaam Thomas: “Ek’s altyd bang sy was in ’n ongeluk wanneer sy te lank wegbly, nes ek lank weg was. En ek wil dit nie hê nie, nie vir my ma nie.”

Hulle het nie meer woede oor die ongeluk wat hul seun se lewe so drasties verander het nie, vertel Priscilla en Paul – al is Joseph Semietjie, destyds die motorbestuurder van ’n Gautengse provinsiale politikus, reeds weer ’n vry man nadat hy in 2015 vyf jaar tronkstraf gekry het.

“Dit sou ons doodmaak om vir soveel jare aan die woede te klou. Maar daar’s hartseer oor alles wat my kind ontneem is. Om te weet hy sal dalk nooit ’n meisie hê of trou nie. Hy sal dalk nooit kinders van sy eie hê nie,” sê Priscilla.

Thomas Ferreira
Die wrak van Thomas se motorfiets ná die verwoestende ongeluk. ’n Aankomende motor met ’n flitsende blou lig op die dak het oor ’n rooi lig gejaag en in hom vasgeploeg. Die bestuurder is vyf jaar tronkstraf opgelê. Foto: Papi Morake

Thomas se eens sorgelose persoonlikheid het verdwyn. Hy raak aggressief en kry woedeuitbarstings omdat hy sukkel om sy emosies te verwerk.

“Maar as ek lelik met my ma of pa gepraat het, skryf ek vir hulle ’n briefie. En daarin sê ek jammer, en dan’s ek regtig jammer,” sê hy skugter.

Sy ma druk hom liefdevol vas. Hy raak ook jaloers wanneer sy sussie, Danielle (24), haar kêrel huis toe bring, sê Priscilla.

“Dit maak hom stukkend om te weet hy kan dalk nooit daardie normale lewe hê wat ons almal as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Sy wonder of die voormalige blouligdrywer soms snags wakker lê oor die ongeluk en wat dit aan haar kind gedoen het. Semietjie het die motor bestuur van die destydse Gautengse LUR vir plaaslike regering en behuising, Humphrey Mmemezi. Hy is skuldig bevind aan roekelose bestuur.

Die ongeluk het destyds openbare woede oor die padgedrag van politici se blouligkonvooie uitgelok. Semietjie het nog nooit na die Ferreira-gesin uitgereik om jammer te sê nie, sê Priscilla. Maar terwyl hy nou weer ’n vry man is, dien Thomas nog sý vonnis uit.

“ ’n Mens kan amper nie glo dis nege jaar sedert daardie tragedie nie. Dis moeilike jare agter ons; jare wat ons gedwing het om aan te pas, om te vergewe en vorentoe te beweeg,” sê Priscilla.

‘Dis ’n wonderwerk dat my kind leef. God kan nog ’n wonderwerk in ons lewe laat gebeur’

Dit is ook merkwaardig dat Thomas leef. Hy was ná die ongeluk drie maande lank in ’n koma, ’n maand in die waakeenheid, nog een in die hoësorgeenheid en toe in ’n rehabilitasiesentrum. Hy kon aanvanklik nie self asemhaal, sluk, praat, blaas, suig, loop of lees nie.

“En nou sweis ek laat dit spat!” verkondig Thomas opgewonde. “Ek maak baie dinge. Soos ’n staander waarin jy braaihout kan pak.”

Thomas Ferreira
Sy gunsteling­tydverdryf: om te sweis. Foto: Rowyn Lombard

Weens die breinbeserings het Thomas te vroeg die kruin van sy ontwikkeling bereik, sê Priscilla.

Hy het die impulsiewe aard van ’n kind en kan nie logies redeneer nie. Hy het nie interpersoonlike vaardighede nie; hy kan nie konsentreer nie, en omdat sy sig in die ongeluk aangetas is, kan hy ook nie lees nie.

“Dinge sal waarskynlik nooit veel verander van hoe dit nou is nie. As ’n ma hou ek aan met hoop, maar Paul is meer rasioneel. Hy sê ons moet besef dinge gaan so bly en dit aanvaar. Maar aanvaarding kom so moeilik.” “Maar ons bly dankbaar,” sê Paul.

“Ons weet hy kon die ongeluk nie oorleef het nie.” Thomas is op chroniese medikasie vir depressie en aggressie. Hy moet twee maal per jaar ’n psigiater besoek wat sy gedragspatrone evalueer. Veral sy korttermyngeheue het versleg.

“Ons sal in die motor klim, op pad na iemand se verjaardag, en hy sal binne 10 minute drie keer vra waarheen ons gaan. Ons moet hom kort-kort herinner wat aangaan,” sê Priscilla. Maar dit is Thomas se gemoedskommelinge oor ’n gebrek aan ’n eie verhoudingslewe wat vir die hele gesin soms swaar is om te hanteer.

“Thomas kyk na ons huwelik, en hy smag daarna. Hy kyk na Danielle en haar kêrel, en hy’s jaloers op haar verhouding en haar vriendskappe. Hy’t net een vriend en vir ons. Dit breek sy hart,” vertel Paul. En dís hoekom hy dikwels depressief en aggressief raak, vertel Thomas self.

“Sy het ’n ou en ’n werk, en dit maak my baie seer. Ek het niemand nie. So soms lê ek net op die bank en ek kyk nie vir haar nie; dit maak my te seer. Maar ander kere word ek kwaad. En ek weet ek moenie. Dit help nie om dan net briefies te skryf en jammer te sê nie.”

’n Oomblik lank is Thomas sigbaar emosioneel. Priscilla sit haar hand op sy bobeen. “Maar ek het nie ’n meisie nie,” hou Thomas dan vol.

“Ek het nie vriende nie. My lewe is nie dieselfde as hare nie. Ek wil vir my ma klein-kids gee en ek wil trou. Maar met my stukkende brein kan ek nie.” Priscilla troos hom soos net ’n ma kan.

“Ek sê altyd ons moet geduldig wees, want niemand weet hoe lyk môre nie. God stuur dalk vir hom ’n maat. En dís nie vir ons valse hoop nie. Dis ’n wonderwerk dat my kind leef. God kan nog ’n wonderwerk in ons lewe laat gebeur.”

Thomas Ferreira
Thomas is ná die ongeluk steeds ’n goeie boogskutter. Foto: Verskaf

Die egpaar erken dat die uitdagings van Thomas se versorging soms hul huwelik onder druk plaas. “Ons gaan nooit alleen iewers heen nie. Ons kan nie; hy het ons te nodig,” sê Paul.

“Vir nege jaar nou het ons nie alleentyd gehad nie. En soms is dit oukei, maar soms veroorsaak dit frustrasie tussen ons. Daar is maar heated moments nes in enige huwelik. Maar ons verkwalik Thomas nie daarvoor nie. Ons weet ons kan hom nie sommer op iemand anders afpak nie. Hy is óns kind; ons is lief vir hom.”

Priscilla bieg hulle is bekommerd oor die toekoms. “Ons het ons lewe aanvaar soos dit nou is, maar ons is ook nie meer jonk nie. En as ons weg is, wat dán?”

Dit is Thomas wat ná ’n lang stilte sê: “Dan sal Jesus iets doen. Want dis mos hoekom ek elke aand vir Hom bid.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.