Dit is van die skokgetuienis wat sedert die aanvang van die Krugersdorp-moordverhoor in die Johannesburgse hooggeregshof die afgelope twee dae aangehoor is.

Die spanning was tasbaar in hofsaal 2D in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg toe die eerste getuie in die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoordverhoor Dinsdag en Woensdag met sy getuienis begin.

Die gevonniste moordenaar Le Roux Steyn (22) het vanuit die getuiebank na sy drie mede-moordbeskuldigdes, Zak Valentine (34), Cecilia Steyn (37) en Marcel Steyn (20), in die opspraakwekkende moordsaak gestaar.

Le Roux het op 16 Mei vanjaar nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, staatsgetuie gedraai. Foto: Jana van der Merwe

Die moorde is in die media die afspraakmoorde gedoop nadat die twee versekeringsmakelaars Anthony Scholefield (64) en Kevin McAlpine (29) en die eiendomsagent Hanlé Lategan in Mei 2016 vermoor is. Die polisie het toe 'n taakspan gestig.

Al drie het die aand van hul dood afsprake met hul moordenaars gehad. Al drie is beroof en al drie is verwurg. Daarna is nóg nege moorde oopgevlek wat tussen 2012 en 2016 gepleeg is.

Die gedugte span vir die staat is van links kapt. Ben Booysen, die ondersoekbeampte, adv. Paul Schutte en adv. Gerrit Roberts SC vir die staat. Foto: Jana van der Merwe

Zak Valentine, ’n familievriend van die Steyns, het met sy kaalgeskeerde kop, meestal smalend en nonchalant na almal rondom hom gekyk.

Terwyl Le Roux die een skokonthulling ná die ander gemaak het teen Cecilia Steyn, die vriendin van Le Roux se ma wat eens soos ’n tannie vir hom was, het sy half verslae na hom gekyk. Sy suster, Marcel, het deurentyd uitdrukkingloos voor haar uitgestaar en sy blik vermy.

Dit was uit die staanspoor duidelik: Le Roux was daarop uit om Cecilia, die vermeende meesterbrein en leier van die groep, aan die pen te laat ry.

Cecilia, wat beweer het sy is ’n 42ste generasie heks, het dalk nie die vuilwerk gedoen nie, maar haar naam het deurentyd in sy getuienis opgeduik.

Hy het telkens na haar beweerde rol as meesterbrein in die beplanning van die moorde verwys.

Le Roux het getuig hulle het Cecilia altyd net die Engelse voorletter “C” genoem. Sy het glo beweer demone word opgeroep wanneer haar naam genoem word.

Van die ergste wat vandag in die hof aangehoor is, was toe Le Roux oor die moord op Kevin getuig. Hy het erken hy het die wurgwerk gedoen, maar het beweer dit was altyd onder die bevel van sy ma, Marinda Steyn (51) en Cecilia.

(Van links) Marcel Steyn (20), Cecilia Steyn (37)en Zak Valentine (34). Marcel en Cecilia is nie familie nie. Foto: Jana van der Merwe.

“Ek het Kevin, nes Anthony, met ’n tou verwurg. Ek het ná die eerste moord (op Anthony) van die moordwapen ontslae geraak. Ek moes toe ’n nuwe wapen maak.

“Ek het Anthony se tou iewers in ’n afvoerpyp gaan gooi. Kevin s’n het ek verbrand. Toe ek met Kevin klaar is, het my ma na onder na C se woonstel gegaan en vir C gaan roep. Sy het na ons woonstel opgekom. Sy het Kevin selfs ’n skop gegee.”

Kezia, Kevin se fyn, blonde vrou wat ten tyde van sy moord sewe maande swanger was met hul kind, het gesnik toe sy hoor hoe haar geliefde sonder enige menswaardigheid geskop is. Kort tevore het ook Anthony se vrou, Heather, gehuil.

Waar het alles begin?

Die staat voer aan die groep, wat hulself “Electus per Deus” genoem het, het tussen 2012 en 2016 as ’n span ’n onderneming van rampokkery bedryf.

Marinda, Cecilia, Zak, sy vrou, Mikeila (wat ook vermoor is), en Marinda se twee kinders, Marcel en Le Roux, was deel van die groep. John Barnard het later bygekom.

Le Roux het op 16 Mei vanjaar nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, 'n staatsgetuie geword.

Hy het ’n afslag van 10 jaar op sy effektief 35 jaar tronkstraf gekry, mits hy teen sy mede-beskuldigdes pleit.

Le Roux Steyn kort voor hy in die getuiebank verskyn het. Foto: Jana van der Merwe

Sy ma, Marinda, is dieselfde dag 11 keer lewenslank gevonnis nadat sy ook skuldig gepleit het. Marinda het nie in haar pleit haar dogter, Marcel, en Cecilia, by die moorde geïmpliseer nie.

Maar Le Roux het nie Dinsdag en Woensdag teruggehou nie. John Barnard, wat in Desember 2016 gepleit het en tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is, het byna alles wat Le Roux die laaste twee dae getuig het, in sy pleitverklaring gestaaf.

Die 32 aanklagte teen die oorblywende drie sluit betrokkenheid by 11 moorde, roof met verswarende omstandighede, die besit van ’n arsenaal wapens en bedrog in.

’n Mens kon die atmosfeer met 'n mes sny toe dié drie oorblywende beskuldigdes Dinsdag die een ná die ander opstaan en selfversekerd op elk van die aanklagte hardop onskuldig pleit.

“Ek kry hoendervleis!” het een van die familielede agter Huisgenoot luidkeels gesê toe Zak, wat selfs na bewering sy eie dood versin en as’t ware uit die dood opgestaan het, alles ontken.

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn word deur 32 aanklagte in die gesig gestaar: 11 moorde, roof met verswarende omstandighede, die besit van ’n arsenaal wapens en bedrog. Foto: Jana van der Merwe

Adv. Gerrit Roberts SC, vir die staat, het met die aanvang van die saak gesê die staat sal bewys die groep het ’n onderneming van rampokkery bedryf. Dit is een van die moeilikste motiewe wat in ’n hof bewys kan word.

Roberts het aangevoer die moorde het in twee fases plaasgevind.

Die eerste was die sogenaamde “okkulte”-fase, waartydens Cecilia glo die groep vier moorde vir haar uit wraak laat pleeg het en die tweede was om mense met “middele” te teiken vir geldelike gewin en Cecilia so te verryk.

Le Roux het getuig met die laaste drie moorde was die modus operandi elke keer basies dieselfde. Hy het getuig die motief was om geld vir Cecilia in te win. Hy het getuig Cecilia het baie stories gehad waarvoor die geld nodig was.

Sy moes onder meer ’n sielkundige teen R5 000 per week sien en sy moes kwansuis ’n vrou help wat uit Satanisme ontsnap en haar gebel het om die R23 000 wat sy by die Satanistiese kerk gesteel het, terug te betaal. Hy het getuig hy het eers later besef dit was alles leuens.

Le Roux het vertel hoe hy vir Anthony en Kevin moes bel en afsprake maak om hulle by 'n restaurant by die Key West-winkelsentrum in die noorde van Krugersdorp te ontmoet.

Hy het hulle egter minute voor die tyd met 'n verskoning gebel om te sê hy kan dit nie meer maak nie en hulle moet eerder na sy woning kom. Hy het beskryf hoe hy Kevin en Anthony onder by hul motors gaan haal het.

Sy ma het die deur oopgemaak en koffie aangebied. Daarna het sy op die niksvermoedende slagoffers 'n .38 Special-rewolwer gerig en hulle gedreig om op die grond te lê. Le Roux moes hulle daarna verwurg.

Bewysstuk nommer 3 is die .38 Special-rewolwer waarmee die niksvermoedende slagoffers aangehou is. Foto: Jana van der Merwe

Marinda was die een wat Hanlé met ’n soortgelyke storie gebel het om ’n afspraak te maak om na ’n huis te gaan. Sy het toe ook met ’n verskoning dat sy nie op die gegewe plek kan ontmoet nie, op die laaste nippertjie die planne verander om by die Cosanna-woonstelle naby die privaat Netcare Krugersdorp-hospitaal te ontmoet.

Hier het Marinda en John in nr. 17 op die derde vloer gewoon. Le Roux en Marcel het by Cecilia en haar gesin op die hoek van die blok oorkant die privaat Krugersdorp-hospitaal op die hoek, gebly.

Die rede wat Le Roux aangevoer het is omdat wanneer jy met een van die beroepsmense ’n afspraak maak, hulle die adres in hul dagboek of elders aanteken en hulle wou nie hê die polisie moes agterna direk na hulle gelei word nie.

Van daar het hy vertel hoe die slagoffers se lyke ongesiens verwyder moes word.

Anthony en Kevin is in die bagasieruimtes van hul motors geplaas met die sleutel nog in die aansitter.

Kevin McAlpine en sy ma, Juanette. Foto: Facebook

Anthony se motor is buite 'n laerskool in Premierstraat gelos en met Kevin het hulle besluit Sivewrightstraat is 'n nog beter opsie, want dis 'n gebied bekend vir dwelms en prostitusie. Hier sou iemand die voertuig (met die lyk binne) vinniger steel.

Le Roux het reguit na Cecilia gekyk toe hy begin vertel waar alles begin het.

Hy, sy ma en suster het in 2008 vir Cecilia, ’n voormalige “satanis” en “heks” ontmoet.

Ria Grunewald, die leier en stigter van die Overcomers Through Christ (OTC)-bediening, wat hulle daarop toegespits het om mense oor Satanisme in te lig, was hul buurvrou. Cecilia en Zak, wat hulle in die tyd daarna ontmoet het, was toe reeds by die OTC betrokke.

In ongeveer 2011 het hulle na die Cosanna-woonstelblok getrek om nader aan die “sieklike” Cecilia te wees.

Dinge het tussen Ria en Cecila begin versuur en in Julie het Cecilia, Zak, sy vrou, Mikeila, en Marinda afgestig en hul eie bediening, Electus per deus “Gekies deur God”, gevorm. Hulle het dieselfde tatoeëermerke as simbool gekry.

So het die moorde volgens die staat en Le Roux ontvou

26 Julie 2012

Die doel was om wraak te neem op Ria Grunewald.

In die tyd voor die vier moorde in 2012 is tuisgemaakte bomme na OTC-lede se motors gegooi. Een van die motors wat beskadig is, het Le Roux as dié van Natacha Burger (33) herken. Sy was 'n lid van die OTC en na aan Ria. Sy het die kursus Know thy Enemy aangebied.

Natacha Burger is in die keel gesteek en is verskeie houe teen die kop toegedien.

Die eerste moorde was dié van Natacha en haar buurvrou, Joy Boonzaier (63).

Le Roux het getuig hoe hulle verskeie kere na hul woonstelkompleks in Centurion is om te sien waar sy bly en wat haar doen en late is. Hy het die proses “scouting” genoem.

Op 26 Julie 2016 is Natacha en Joy volgens Le Roux deur sy ma en Zak vermoor. Mikeila, wat volgens hom ook op die toneel was, het geskok uit die huis gehardloop toe dit gebeur.

13 Augustus 2012

Le Roux het getuig past. Reg Bendixen was die volgende slagoffer. Hy was bevriend met Ria en het as gas lesings vir die groep aangebied.

Le Roux het getuig Cecilia se man is ’n polisieman en sy het uit sy kas polisie-uniforms aan sy ma en Zak verskaf. Hulle het so by sy huis in Northwold, Randburg, met pruike opgedaag, gewapen met ’n mes en ’n byl.

4 Oktober 2012

Mikeila het aan die groep aangekondig sy is klaar met die groep. Sy wil uit.

Le Roux het getuig Cecilia het dit duidelik gemaak aan hulle Mikeila is ’n las. Sy is na bewering deur Zak medisyne ingegee.

Mikeila en haar pa, Shug Baillie.

Marinda en Marcel het haar toe in haar en Zak se huis in die Sunset View-kompleks in Ruimsig aan die Wes-Rand in haar bed doodgesteek.

Le Roux het verduidelik heelwat beplanning is vir die volgende moord ingespan.

Die plan was om Ria se seun te vermoor, maar die plan is laat vaar toe een van Zak se vriende verdwyn. Hy sou ook betrokke wees.

Hy het getuig Cecilia se vrees was die polisie ondersoek hulle vir die 2012-moorde en hulle moes “laag lê”. Geld het egter 'n probleem begin raak en hulle het toe besluit om mense te begin teiken wat hulle kon beroof.

26 November 2015

John stel voor hulle teiken sy werkgewers, Peter (51) en Joan Meyer (47).

Zak, Marcel en Marinda daag daar op. Hulle kom agter daar is geen geld in die huis nie. Hulle word in 'n bloedbad met messe doodgesteek.

Le Roux vertel Cecilia was nie gelukkig met die R700, selfoon en beursie met nuttelose bankkaarte wat gebuit is nie.

Peter (51) en Joan Meyer (47).

16 Desember 2015

Intussen word die plan beraam om Zak se dood te versin. ’n Lewenspolis van meer as R3,5 miljoen op sy naam word uitgeneem.

Le Roux getuig in besonderhede hoe hulle ’n slagoffer moes soek wat Zak se bou en lengte pas. Die onskuldige slagoffer is Jarod Jackson (41), ’n straatsmous wat gereeld naby die Cosanna-blok eetgoed verkoop het.

Hulle het agterna beweer Zak het op ’n wegbreeknaweek Vrystaat toe verongeluk.

Hulle het vir Jarod ’n bogstorie vertel hoekom hy saam met Zak moes sy. In die BMW voor was Zak en Jarod. Le Roux het agter Jarod se passasiersitplek gesit. Agter hulle het Marinda en John gery.

Le Roux het erken hy het Jarod sap met slaappille ingegee en beweer Cecilia het dit uit haar boks met medisyne gehaal. Hy het dit saam met nog pille fyngemaak en in die sap gegooi.

Naby Petrus Steyn het Jarod lomerig geraak en Le Roux het hom gewurg. Hulle het hom in die Mercedes gesit, dit met paraffien aan die brand gesteek en almal terug Krugersdorp toe gery. Zak is in die week daarna deur Marinda as haar broer uitgeken en “dood” verklaar.

Zak se lewenspolis het egter nie uitbetaal nie. Almal was steeds platsak, het Le Roux getuig.

26 Januarie 2016

John stel Glen McGregor (57), ’n rekeningkundige, as die volgende slagoffer voor.

Marcel, Le Roux en Marinda gaan na bewering na sy hoewe om Marinda met haar belasting te help. Marinda skiet hom en betaal R6 000 van sy rekening na haar rekening oor. Daarna verwurg Le Roux hom.

Le Roux en Marcel sleep-dra hom na bewering na die badkamer, sit hom in die bad en draai die krane oop. Steeds word niemand in hegtenis geneem nie.

10 – 26 Mei 2016

Anthony Scholefield, Kevin McAlpine en Hanlé Lategan word na die Cosanna-woonstelblok gelok en hul PIN-nommers van hul bankkaarte geëis.

Daar is R3 000 uit Hanlé se rekening getrek. Haar handsak, iPad en trouring het ook verdwyn.

Le Roux getuig sy ma het elke keer wanneer sy suster ’n suksesvolle onttrekking kon maak, laat hoor hy moet voltooi wat hulle begin het.

Maar dit was Cecilia wat in sy visier was toe hy vertel oor hoe hy met Anthony se geld vir haar ’n swart-en-rooi baadjie gekoop het.

Anthony Scholefield (64) is in Mei 2016 vermoor.

Hy het na haar gekyk en sy vinger na haar gewys toe hy sê: “Sy het al daardie baadjie in hierdie hof gedra.”

Voor in die hof was die arsenaal wapens uitgestal wat ná sy inhegtenisname in sy ma se woonstel gevind is.

Onder die wapens was die .38 special wat die slagoffers mee gedreig en onder bedwang gebring is, ook die 9 mm-pistool waarmee Glen geskiet is.

Bewysstuk nommer 4 is die 9-mm waarmee Glen McGregor geskiet is. Dit het egter nie sy dood veroorsaak nie. Le Roux het hom verwurg. Foto: Jana van der Merwe

Die hof het gehoor Cecilia het ná die laaste moorde geëis Le Roux moet ’n lewenspolis op sy naam laat uitneem.

Le Roux, wat toe reeds laat blyk het hy wil nie meer deel wees van die groep nie, het later besef anders as Zak sou hy nie sy eie dood moes versin nie. Hy het besef is sal waarskynlik volgende wees.

Die verhoor duur voort.