Deel

Laaste drie Krugersdorp-moordenaars almal lewenslank gevonnis — families deel skokstories met HG

akkreditasie
Oor ’n tydperk van vier jaar is die gemeenskap van Krugersdorp deur 11 vreemde moorde geruk. Eers is daar na die kattebakmoorde verwys, en toe meer inligting en nog moorde volg, het dit as die afspraakmoorde bekendgestaan. Maandag is die laaste drie lede van die “moordbende” in die hooggeregshof van Johannesburg swaar gestraf vir hul dade.

Zak Valentine (34) is eerste gevonnis. Hy het op 32 klagte tereggestaan en is 8 lewenslange vonnisse opgelê vir sy aandeel in die gruweldade. Die vonnisse sal tegelykertyd uitgedien word en hy is altesaam 78 jaar tronkstraf opgelê op alle aanklagte teen hom.

Die beweerde meesterbrein agter die moorde, die 38-jarige Cecilia Steyn (nie verwant aan die ander drie Steyns nie), is ook op 32 aanklagte skuldig bevind. Sy is 13 lewenslange vonnisse opgelê wat gelyktydig uitgedien sal word. Saam met die ander vonnisse is sy altesame 152 jaar tronkstraf opgelê.

Die vermoede was dat Marcel Steyn, die jongste van die beskuldigdes, ’n ligter vonnis opgelê sou word, maar regter Ellem Jacob Francis het geen genade betoon nie. Marcel (21), wat ook aan 32 klagte skuldig bevind is, is 7 lewenslange vonnisse opgelê. Sy is in totaal 144 jaar tronkstraf opgelê.

’n Jaar gelede is Marcel se ma, Marinda (toe 51), en haar broer, Le Roux (toe 22), ook swaar gevonnis. Marinda, ’n oud-onderwyser, is op 11 aanklagte lewenslank gevonnis en met die bykomende klagtes teen haar, is haar vonnis 115 jaar.

Le Roux het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is 35 jaar lank tronk toe gestuur vir sy aandeel in sewe van die 11 moorde wat deur die Electus per Deus-groep gepleeg is.

John Barnard (toe 43), wat ook by die groep betrokke was, maar in ’n mindere mate, is eerste gevonnis. Hy is 20 jaar gevangenisstraf opgelê.

In November verlede jaar het Huisgenoot met die families van die beskuldigdes gaan praat, en daar het talle skokkende onthullings gevolg. 

Bykomende bronne: news24.com, krugersdorpnews.co.za

Krugerdorp-moorde: Skokstories wat niemand sou kon glo (Huisgenoot, 15 November 2018)

Naastes van die oorledenes én die beskuldigdes in die Krugersdorp-­tragedie deel hul hartverskeurende verhale.

Lank laas was daar soveel nou verwante beskuldigdes in een moordverhoor; soveel slagoffers en soveel donker onthullings. Ná weke se getuienis in die verhoor van die sogenaamde Krugersdorpse moordkliek in die hooggeregshof in ­Johannesburg gons dit steeds oor die skokwendings wat daagliks aan die lig kom.

Die moordvlaag het tussen Julie 2012 en Mei 2016 afgespeel. Elf mense is ­vermoor voor ses verdagtes eindelik vasgetrek en van moord, bedrog en roof met verswarende omstandighede aangekla is. Dié moorde het meestal aan die Wes-Rand plaasgevind.

In die beskuldigdebank: die oud­onnie Marinda Steyn (51) en haar twee kinders, Le Roux (22) en Marcel (20); hul vriende John Barnard (42) en Zak Valentine (33); en die vermeende baasbrein agter die bende, Cecilia Steyn (37).

Marinda, Le Roux en John het reeds skuld beken vir hul aandeel in die mis­dade en dien nou hul tronkstraf uit, maar die verhoor van Marcel, Zak en Cecilia duur voort.



Satanisme en bonatuurlike kragte

Cecilia se beweerde betrokkenheid by satanisme en die manier waarop sy haar kennisse glo probeer oortuig het sy ­beskik oor bonatuurlike kragte, speel ’n sentrale rol in die verhoor.

Ook ­onder die vergrootglas is die beskuldigdes se des­tydse betrokkenheid by die bediening Over­comers through Christ (OTC) en die dramatiese gebeure nadat Cecilia en haar volgelinge van dié be­diening afgestig het om hul eie ­bediening te begin.

Dit was toe dat die moorde gevolg het wat ’n bloedspoor deur die lewe van on­skuldige mense gelaat het.

Die moordvlaag het 11 lewens geëis, maar eintlik laat dit baie meer slagoffers agter, vertel die ma van een van die vermoordes. Sy sê almal wat ’n verbintenis gehad het met een van die vermoordes of beskuldigdes ly onder die gevolge van die opspraakwekkende gebeure.

Huisgenoot het gesels met van die uiteenlopende mense wie se lewe deur dié grumoorde geruk is – mense wat nie af­sluiting sal kry tot die uitspraak in die saak in 2019 gelewer word nie.

Dit het alles met die dood van my kind begin — Tinie Burger (67), Potchefstroom

Natacha Burger (destyds 33), Tinie se enigste kind, was die eerste slagoffer van die vermeende moordkliek. Natacha, ’n regsadviseur by ’n bank in Pretoria, was ’n gelowige en lid van die OTC-bediening. Sy is na bewering vermoor om wraak te neem op Ria Grunewald, die stigter van die OTC.

'Die Here was Na­tacha se alles,' sê haar pa. Sy
'Die Here was Na­tacha se alles,' sê haar pa. Sy was die eerste slagoffer van die vermeende moordkliek.
Joy Boonzaier (63) en Natacha is in Joy se woonstel in die Lancelot-sekuriteitskompleks in Centurion vermoor.

Die hof het gehoor Ria en Cecilia Steyn, die ­vermeende baasbrein agter die moorde en vroeër ’n lid van die OTC, se paaie het geskei voor die moordvlaag in 2012 begin het. Ria en Natacha was na aan mekaar en Cecilia wou Ria glo ­bykom.

Tinie sê hy het nog baie vrae oor sy dogter se dood op 26 Julie 2012.

Natacha is saam met haar buurvrou, Joy Boonzaier (63), in Joy se woonstel in die Lancelot-sekuriteitskompleks in Centurion vermoor.

Die staat voer aan Marinda en Zak het eers vir Joy in haar woonstel oorval en doodgesteek. Natacha, wat die aand van die werk afgekom het, het ’n briefie by haar motorhuis gekry wat gelui het sy moet Joy dringend gaan sien. Joy het vermoedelik die briefie onder dwang geskryf.

Toe Natacha by Joy se deur aankom, is sy met die intrapslag aangeval en doodgesteek.

Marinda Steyn.

Tinie, ’n kankerlyer, vertel Natacha se dood het ’n groot leemte in sy lewe gelaat. Toe kanker in 2008 by hom gediagnoseer is, was sy die een wat hom bygestaan het. Hy en Natacha se ma was toe reeds jare lank geskei.

“Ek en Na­tacha het baie met mekaar oor die Woord gepraat. Die Here was Na­tacha se alles. Ek onthou hoe sy gebid het vir haar vriendinne wat moei­like tye beleef.”

Hy vertel toe sy dogter by die OTC betrokke raak, het hy die kursusmateriaal waarmee hulle satanisme glo wou bekamp ­onder oë gehad en haar gewaarsku.

“Ek het gesê sy moet van die groep af wegkom en by ’n ander kerk of bediening aansluit om haar geloof uit te leef.” Hy glo sy was “op die verkeerde plek” en dat “die verkeerde mense oor haar pad gekom het”.

Tog sê hy hy koester nie ’n wrok teen die moordenaars nie.

“Hulle vonnis is reeds uitgewerk, en dit is nie op aarde nie.”

My skoonseun aangekla van my dogter se moord — Ilse van Dijk (53), Heidelberg, Gauteng

Die dag toe Mikeila Valentine vermoor is, het Ilse nie net ’n dogter aan die dood afgestaan nie; sy het ook die skoonseun verloor wat vir haar soos ’n eie kind was.

Dis steeds vir Ilse ’n bitter pil om te sluk dat Zak Valentine (34), haar dogter se man, in staat kon wees tot die misdade waarvan hy aangekla word.

Mikeila was 25 jaar oud toe sy op 4 Oktober 2012 in haar en Zak se huis in die sekuriteitskompleks Sunset View in Ruimsig, Roodepoort, met ’n skerp voorwerp doodgesteek is. Die staat voer aan Mikeila is vermoor omdat sy Cecilia se bediening, waarvan sy en Zak deel was, wou verlaat.

Maar dis ook die wete dat haar dogter nie meer deel van die groep wou wees nie waarin Ilse haar berusting vind.

“Mikeila het dalk haar lewe op aarde verloor, maar sy het ’n nuwe lewe in die hemel gekry omdat sy die regte keuse gemaak het,” vertel sy.

Sy sê Mikeila was in haar tweede jaar aan die Rhema-Bybelskool in Randburg toe sy einde November 2009 vir Zak by ’n selgroep by die Rhemakerk ontmoet. Ilse was dadelik dol oor haar dogter se kêrel.

“Hy was ordentlik. Soft-spoken. Hy was goed vir Mikeila,” vertel sy hartseer.

'Hy was ordentlik. Soft-spoken. Hy was goed vir Mikeila,' het Ilse van Dijk aanvanklik van Zak Valentine gedink.
In 'n stadium was Mikeila Valentine volgens haar ma 'vreesbevange'.

Maar die gevaarligte het begin flikker toe Mikeila in Augustus 2010 aankondig sy wil haar studie laat vaar. Mikeila en Zak was toe betrokke by die OTC, wat satanisme wou teenwerk. Hulle het die ­Rhemakerk verlaat nadat Cecilia dit glo beswadder het.

Ilse kon in 2011 die verandering in haar kind sien.

“Mikeila was baie siek. Sy was kort-kort by die dokter of in die hospitaal.”

Ilse vertel sy het baie oor Cecilia gepraat.

“Alles was net Cecilia voor en Cecilia agter, maar elke keer wanneer ek met haar daaroor wou praat, het dit op ’n bakleiery uitgeloop. Later het ek net vir my kind gebid en gevra die Here moet haar wys dis nie reg nie.”

In 2012 kon sy sien Mikeila is vreesbevange.

“Twee mense wat die ministry wou verlaat, is dood,” het Mikeila haar ma oor die dood van lede van die OTC vertel. Dit was nadat Natacha en Joy in Centurion vermoor is.

In Augustus 2012 is ook past. Reg Bendixen (76) van die OTC by sy huis in ­Johannesburg vermoor.

In dié tyd het Mikeila en Zak saam met Cecilia en haar vriendin Marinda Steyn van die OTC weggebreek en aangesluit by Cecilia se nuwe bediening, Electus per Deus, wat “Gekies deur God” ­be­teken. In Oktober daardie jaar, nadat Mikeila aangedui het sy wil nie meer deel van die groep wees nie, is sy vermoor.

Die groep het glo in 2012 hul eie bediening, Electus per Deus, gestig. Van links is Cecilia en haar vriende Zak, Marinda en Mikeila Valentine. Mikeila was met Zak getroud en is ook vermoor.

Die staat voer aan Zak het Mikeila slaappille ingegee. Marinda het haar toe in haar bed doodgesteek. Marcel, wat toe 14 jaar oud was, was glo teenwoordig toe dié moord plaasvind.

Tog vertel Ilse sy het vrede gevind en haar kind se moordenaars vergewe.

“In die hof het ek na hulle gekyk en hulle jammer gekry.”

Ilse sê sy bid dat mense wat by vals bedienings betrokke is die lig sal sien.

“Mense in Suid-Afrika moet net wakker wees, want die vyand is ’n slang wat verblind en ’n leeu wat verslind.”

My suster is die beweerde baasbrein — Dalena*, skuilnaam

Dis vir Dalena, ’n tuisteskepper van die Wes-Rand, onverklaarbaar dat haar suster die pad so byster geraak het.

“Ek ken haar nie as ’n moordenaar, ’n hoë priester in die satanisme of selfs ’n sielkundige nie – sy is net my suster,” vertel sy oor Cecilia, glo die baasbrein en die spilpunt van die vermeende moordbende.

Sy vertel haar suster was kleintyd doodgewoon.

“Toe ons klein was, was my sussie die een wat te bang was om alleen in ’n donker kamer te slaap of in die nag badkamer toe te gaan.”

Dalena vertel haar suster, wat haar as ’n sielkundige voor­gehou het, maar eintlik werkloos was, het baie oor satanisme opgelees omdat sy “mense wou beïndruk”.

Dit het later in die hof aan die lig gekom Cecilia het haar groeplede probeer oortuig haar siel kan haar liggaam verlaat, sy kan mense se gedagtes lees en verskillende persoonlikhede aanneem. Veral Marinda was glo deur haar gewaande kragte beïndruk.

Cecelia het haar glo as ’n sielkundige voor­gehou en sy het baie oor satanisme opgelees omdat sy 'mense wou beïndruk'.

Toe Dalena ná die inhegtenisneming van Le Roux en ­Marcel in Junie 2016 uitvind haar suster word by die moorde betrek, wou sy dit eers nie glo nie.

“Ek het aan die begin gedink die polisie het die kat aan die stert beet, maar toe hulle van die bewyse vir my wys . . .”

Dalena vertel sy woon nie die saak by nie, want “ek weet nie hoe om die mense in die oë te kyk nie.

“Jy lees dié soort stories in koerante en sien dit op televisie, maar jy dink nooit dit sal met mense gebeur wat jy ken nie.”

Die gebeure het ’n ingrypende uitwerking op haar lewe gehad. Sy sê huisvriende kom nie meer kuier nie, aangetroude familie wys die vinger na haar, en selfs haar man se werk ly daaronder.

Verslae sê Dalena: “Ek is kwaad vir haar, maar ek is steeds lief vir haar. Sy’s my suster.”

Slapelose nagte oor my stiefkinders — Hannelie Scheepers (49), Centurion

Hannelie was voorheen getroud met Piet Steyn*, die biologiese pa van Le Roux en Marcel Steyn, wat saam met hul ma, Marinda Steyn, van die moorde aangekla is. Marinda was heg bevriend met Cecilia, die moordkliek se beweerde baasbrein.

Dis vir Hannelie swaar dat haar stiefkinders by die moorde betrek word.

“Hulle was vir my soos my eie kinders. Wanneer ek aan hul kinderjare terugdink, maak dit seer. Hulle is hul onskuld ontneem.

Le Roux was agt jaar oud en Marcel ses toe Hannelie met hul pa trou. Hulle was agt jaar lank getroud voor hulle in 2013 geskei is.

“Marcel was nog klein met lang krulhare en Le Roux, met sy groot bruin oë en kuiltjies, se hare was altyd netjies kort gesny. Hulle was gewone, saggeaarde en goedgemanierde kinders wat daarvan gehou het om te speel.”

Le Roux Steyn.
Marcel Steyn.

Hannelie vertel sy het hulle gereeld naweke opgelaai by die woonstel in Krugersdorp waar hulle saam met hul onderwyseresma gewoon het.

“Op pad terug huis toe in die motor het ons altyd die liedjie Pampoen kliphard saamgesing.”

Hannelie vertel haar eksman en Marinda het alewig baklei, onder meer oor die reëls wat sy neergelê het.

“In ’n stadium kon die kinders se pa hulle nie eens op hul verjaardae sien nie, en later het Marinda die kinders kontak met hom belet.”

Le Roux was 17 of 18 jaar oud toe hy volgens Hannelie met ’n sigaret by die skool betrap is. Marinda het haar eksman toe glo gebel en gesê hul seun het “slegte maats” en sy wil hom by haar eks en Hannelie se huis kom aflaai omdat “sy keelvol vir hom is”.

“Maar hy het toe nooit na ons toe gekom nie. As ek maar net geweet het, het ons hom destyds gaan haal.”

Verslae sê sy: “Dit breek my hart: Hy het in die hof gesê hy wou nie moor nie en hy wou van die huis af wegloop, maar hy het nie geweet waarheen om te gaan nie.”

Sy gee Marinda die skuld daarvoor dat Le Roux en Marcel by die moorde betrek is. Des­tyds, sê sy, het haar eksman oor sy eksvrou en kinders gesê: “Eendag wanneer hulle met skool klaar is, sal hulle die waarheid oor hul ma sien.”

Het my seun gevoel hoe hy doodbrand? — June Jackson (77), Fourways, Johannesburg

Die gedagte aan haar seun se laaste oomblikke voor hy in 2015 in ’n swart Mercedes-Benz naby Petrus Steyn verkool het, spook steeds by June. Haar hart breek oor haar kleindogter (byna drie jaar oud) wat nooit haar pa, Jarod Jackson, sal leer ken nie.

Die groep het na bewering besluit om Zak se dood te versin sodat ’n lewenspolis van meer as R3,5 miljoen sou uitbetaal.

Hulle wou dit laat lyk asof Zak in ’n ongeluk dood is. Hulle het Jarod, wat naby Cecilia-hulle in ’n skuiling gewoon het, glo in ’n lokval gelei. Hulle het hom ’n bogstorie vertel om saam met hulle Vrystaat toe te ry vir sake.

Jarod het glo voor saam met Zak en Le Roux gery. Marinda en John het agter hulle gery.

Naby Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat het die slaappille ingeskop wat Le Roux die niks­vermoedende Jarod ingegee het. Hy het hom toe verwurg. Hulle het langs die pad afgetrek, Jarod in die voor­sitplek van die Mercedes gesit en dit glo aan die brand gesteek. Jarod het verkool.

Marinda het Jarod toe as “Zak” uitgeken.

Die wrak van die Mercedes-Benz wat glo aan Zak Valentine behoort het toe hy na bewering sy eie dood versin en die slagoffer Jarod Jackson op pad ­ na Petrus Steyn in die Vrystaat verkool het.

June vertel haar kleinkind is gebore twee weke nadat haar seun verdwyn het.

“Hy en sy verloofde het in ’n losieshuis in Krugersdorp gebly. Hy het ’n geskiedenis van dwelmmisbruik gehad, maar wou sy lewe regruk vir die baba wat op pad is.”

“Drie dae voor hy vermoor is, het Jarod my gekontak. Ek kon in die stemboodskap hoor hy was besig om iewers heen te loop terwyl hy met my praat: ‘Ma, ons baba is amper hier. Ek probeer ’n werk kry. Lief vir jou, ma.’ ”

Jarrod Jackson het probeer om sy lewe reg te ruk.

June sê haar seun se verloofde het haar ’n paar dae ná sy dood laat weet hy het nog nie huis toe gekom nie.

“Ek het aanvaar hy het weer op die dorp rondgeloop. Maar Jarod was nêrens – nie by die polisiekantoor, hospitaal of lykshuis nie. Hy het raaiselagtig verdwyn.”

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom Jarod is glo voor sy dood met fyngemaakte slaapmiddels bedwelm en was nog ­lewend toe die motor met hom daarin aan die brand gesteek is.

“Al was my seun tydens sy moord bedwelm, kan ek nie help om te wonder of hy die vlamme kon voel nie,” sê June. “Het hy gevoel hoe hy doodbrand?”

Sy sê die vermeende moordbende het 11 slagoffers gehad, “maar eintlik is daar baie meer as 11.

“Al die families wat iemand verloor het, is ook slagoffers. Ons almal het die afsluiting nodig.”


So is hulle vermoor
Joy Boonzaier (63) word op 26 Julie 2012 in haar huis in ’n sekuriteitskompleks in Centurion met ’n mes dood­gesteek.
Natacha Burger (33), Joy se buurvrou, word in dieselfde voorval vermoor; sy is ook oorval en met ’n mes doodgesteek.
Past. Reginald Bendixen (75) word op 13 Augustus 2012 buite sy Honeydew-huis met ’n byl gekap en met ’n mes dood­gesteek
Mikeila Valentine (25) word op 4 Oktober 2012 in haar en haar man, Zak, se meenthuis in Honeydew met ’n mes doodgesteek.
Peter Meyer en sy vrou, Joan, word op 27 November 2015 in hul spoghuis in Noordheuwel, Krugersdorp, met ’n mes dood­gesteek.
Jarod Jackson (41) is op 16 Desember 2015 met 20 slaappille in vrugte­sap bedwelm, toe verwurg en daarna in ’n ­motor naby Petrus Steyn verbrand.
Glen McGregor (57), ’n belastingadviseur van Krugersdorp, word in Jan­uarie 2016 met ’n .22-rewolwer op sy hoewe in Randfontein geskiet en daarna verwurg.
Anthony Scholefield (64), ’n versekeringsmakelaar van Krugersdorp, se lyk word op 10 Mei 2016 in die kattebak van sy motor aangetref. Hy is in Marinda Steyn se woonstel met ’n tou verwurg.
Kevin McAlpine (29), ook ’n versekeringsmakelaar, se lyk word op 26 Mei 2016 in sy motor se kattebak gekry nadat hy ook in Marinda se woonstel met ’n tou verwurg is.
Hanlé Lategan (52), ’n eien­domsagent, se lyk word op 30 Mei 2016 by ’n stroom buite Randfontein gekry. Sy is ook in Marinda se woonstel met ’n tou verwurg.

* Skuilname.

FOTO'S: SHARON SERELTO, LUBABALO LESOLLE, VERSKAF


heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Jongste uitgawe

15 Junie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees