Des Werner (49) en Werner Froneman, projekdirekteure van U-Dream Global: Kaap tot Kaïro-uitreik-insiatief, is Saterdag in 'n vliegongeluk in Tanzanië dood.

Des is die pa van die 17-jarige Megan Werner, 'n matriekleerder aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. Sy het saam met 'n span tieners hul eie Sling 4-vliegtuig gebou en dit van die Kaap tot in Kaïro gevlieg.

Die tieners het ná 'n suksesvolle ekspidesie op 20 Julie weer veilig in Suid-Afrika aangekom.

Maar veral Megan sou nooit kon raai dat sy weke na hierdie merkwaardige prestasie haar pa in 'n vliegongeluk sou verloor nie.

Teen pilot Megan Werner.
Teen pilot Megan Werner. (U-Dream Global)
Lede van die U-Dream Global-span by die voltooide dop van die Sling 4-vliegtuig in Junie 2018. Foto: Verskaf

Op U-Dream Global se Facebook-blad het die organisasie gesê hulle is platgeslaan deur die nuus.

"Ons vra dat mense begrip in hierdie moeilike tyd sal hê. Ons liefde en gedagtes is by Des en Werner se vriende en familie."

Megan het haar passie vir vlieg by haar pa geërf en nadat Des haar van kleins af op vlugte gevat het, het sy besluit om die Kaap tot Kaïro-projek aan te pak.

"Ek wou vir ander tieners wys enigiets is moontlik; niks staan in die pad van jou drome nie,” het Megan destyds aan Huisgenoot gesê.

Volgens Tanzanië se burgerlugvaartowerhede het die vliegtuig die land se lugruim vanaf Uganda binnegekom en was dit op pad Malawi toe. Dit het 'n noodsein uitgestuur en kort daarna van die radar af verdwyn.

Des word deur sy vrou, Belinda, en sy twee dogters Megan en Cindy, oorleef.