Dit is 'n groot nagmerrie. Jou hond raak weg en jy kan hom net nêrens kry nie.

Die dag gaan verby en al wat terugkom is jou beste vriend.

Dis nie aldag wat 'n wildvreemdeling vorendag kom en jou troeteldier uit haglike omstandighede red en vir jou terugbesorg nie.

Maar dít het met André Louw en sy meisie, Zané Esterhuysen, gebeur.

Hul geliefde pitbull, Rango, bly al sowat 'n maand lank by Zané se ma in Kenmare in Krugersdorp nadat die paartjie Pretoria toe verhuis het.

"Dit was net tot ons 'n plan kon maak dat hy weer by ons kom bly," vertel André, 'n motortegnikus.

Sondagoggend bel Zané se ma hulle om te laat weet daar was 'n groot storm en Rango het uit die erf uitgekom.

"Rango is baie bang vir donderweer," sê André.

“Zané het dadelik begin huil en het op Facebook gepost dat ons na Rango soek. Ons het dadelik Krugersdorp toe gery."

Sondag se soektog het niks opgelewer nie.

“Dit was baie erg. Ek moes Maandag begin werk. Zané en haar pa het aanhou soek toe ons van iemand op Facebook hoor wat gesien het hoe twee mans Rango in die Princess-township insleep,” vertel hy. 

Zander Schlemmer (27), eienaar van Coriguard Security, het van Rango se verdwyning te hore gekom en besluit om in te spring en te help. 

“Ek het self al vir sewe jaar pitties, so hulle lê baie na aan my hart. Maar ek was ook bang dat ons dalk te laat gaan wees,” vertel hy. 

“Die Princess-nedersetting is baie gevaarlik. Nie net vir die inwoners wat daar bly nie, maar vir enigeen van buite om daar in te gaan. Daar lê oop kragkabels tussen die sinkhuise en riool loop in die strate af,” vertel hy. 

Tog het hy genoop gevoel om iets te doen.

“Ek het dadelik twee voertuie (van die veiligheidsmaatskappy) uitgestuur om inligting te probeer bekom oor of Rango regtig daar binne is. My right-hand man, Alfred (Alfie) Mungani het toe bevestiging gekry dat Rango daar is, en ek en hy het hom toe gaan haal.

"Baie van die inwoners was glad nie gelukkig dat ons daar ingaan nie, maar ons het volgehou en vir Rango in ’n klein shack gekry. Toe ek die deur oopmaak, toe staan hy daar met sy stert wat waai,” vertel Zander. 

“Ek het net volgehou ek vat nou die hond en toe waai ons. Ek was nie bang nie, want dit is mos maar wat ons doen. Maar die atmosfeer was baie gespanne en van die inwoners was aggressief. Die huisies is so naby aanmekaar dat ek moes dwars draai om tussendeur van die stegies te pas.”

Rango was ongedeerd. 

Zander, Alfie en Rango is toe daar uit tot waar sy eienaars vir hulle by 'n winkelsentrum naby aan die nedersetting gewag het. 

André en Rango. Foto: Facebook
André en Rango. Foto: Facebook
Rango word terug besorg aan sy base. Foto: Verskaf
Rango word terug besorg aan sy base. Foto: Verskaf

Hoewel Rango se eienaars R5000 as beloning aangebied het vir die een wat Rango vind, het Zander dit van die hand gewys. 

“Ek het dit nie vir die geld gedoen nie. Mens gee mos maar terug vir die gemeenskap,” sê hy. 

Zander net na hy Rango gered het. Foto: Verskaf
Zander net nadat hy Rango gered het. Foto: Verskaf

André sê hulle is ewig dankbaar en verlig. “Toe ek met Zander praat voor hy vir Rango gaan haal het, het hy my voorberei op die ergste. Op Vrydag- en Sondagaande het hulle baiekeer hondegevegte. Rango lyk mean, maar hy is ’n ou softie,” sê hy. 

Zander sê dit is onduidelik wat Rango se voorland was sou hulle hom nie kon vind nie.

“Ek vermoed die ou by wie ons Rango gekry het, het hom gekoop by ander mense. Hulle sou hom of vir dog fighting of vir teel wou gebruik, maar ons sal nooit regtig weet nie,” sê hy. 

Zané en André het nie ’n saak by die polisie ingedien nie.

André sê hulle is net dankbaar Rango is veilig. “Ons probeer nou ’n plan maak dat hy weer by ons kan kom bly,” sê hy. 

Rango is weer veilig by sy mense. Foto: Verskaf
Rango is weer veilig by sy mense. Foto: Verskaf

Zané sê sy was baie verlig toe sy Rango weer kon druk. "Ons het die hele dag hom op gelief, en hy het lekker rys en sous gekry om te eet. Ek kon hom nie genoeg druk en soen nie. Hy slaap binne, en ons is net so bly hy is weer by die huis."