Volgens die wetstoepassers van Adams in die Amerikaanse deelstaat Massachusetts het die "barmhartige Samaritaan" per ongeluk sy buurman doodgeskiet nadat hy 'n lawaai gehoor en besef het die honde, wat al voorheen aggressieprobleme getoon het, het kop verloor. 

Pyl tref eers hond, toe dwarsdeur deur

Hy het dadelik die polisie gebel en intussen self gaan probeer help. 'n Pyl uit sy kruisboog het een van die honde wat die vriend aangeval en begin verskeur het, skrams getref en dwarsdeur die binnedeur getrek waaragter die slagoffer hom teen die honde probeer verskans het.

Adams-polisielede wat op verskeie 911-oproepe gereageer het, het kort daarna die honde doodgeskiet toe die pitbulls hulle ook aanval. Die 27-jarige Joshua Jadusingh is met 'n noodlottige kruisboogwond in een kamer gevind en die buurman en sy meisie se jong dogter – gelukkig ongedeerd – in 'n ander vertrek.

Die distriksprokureur Andrea Harrington het die fratsongeluk op 'n nuuskonferensie uiteengesit.

"Die twee uitgegroeide pitbull-reuns, Max en Durma, het 'n geskiedenis van aggressie en dat hulle baklei, veral Max. En die buurman het dadelik vermoed die honde was betrokke toe hy die lawaai hoor. Hy het oorgehardloop om te help en iemand hoor skree: 'Asseblief, skiet die honde!' Daarop het hy teruggehardloop na sy eie woonstel om 'n kruisboog te kry wat hy vir jag gebruik en waarvoor hy 'n lisensie het."

Met sy terugkeer het hy 'n pitbull aan die bopunt van 'n trap gesien, by die deur waaragter sy vriend probeer skuil het. Volgens Andrea het die buurman toe 'n pyl op die hond afgevuur, maar "dit is deur sy agternekvel en het deur die deur gegaan en vir Joshua getref."

Twee polisiebeamptes wat toe net daar aangekom het, het die honde met hul dienspistole doodgeskiet.

Die distriksprokureur beoog geen klag teen Joshua se buurman nie. "Hy was baie goeie vriende met die oorledene, hy het geweet daar is 'n kind in die huis en dit was regtig 'n moeilike en stresvolle situasie vir hom. Ons dink hy het sy bes gedoen onder daardie omstandighede," het Andrea verklaar.

Een van die honde het ook einde 2018 iemand aangeval, waarvoor die persoon mediese behandeling moes kry, het sy bygevoeg.

Bronne: mass.gov, wwlp.com, wamc.org, Facebook