Gerrit, wat eintlik in Elardus Park in die ooste van Pretoria woon, was verlede Donderdag besig om in ’n droë rivierbed te loop toe hy op ’n pofadder getrap het. Die pofadder het hom aan die binnekant van sy voet gepik.

“Ek het net die ontsettende pyn in my voet gevoel. Ek dog eers ek het op 'n kameeldoring getrap toe sien ek die slang en hy staan reg om weer te pik,” vertel hy aan Huisgenoot.

Gerrit vertel hy het gelukkig nie in daardie oomblik paniekbevange geraak nie en kon kalm bly om weg van die slang te kom maar ook om nie in skok te gaan nie.

Hy, wat onder meer saam met sy vrou, Gené, en ’n gids was, is inderhaas gejaag na ’n hospitaal in Hoedspruit, sowat 50 km van waar hulle was.

Gené vertel sy was bitter bekommerd toe haar man gepik is. “Veral omdat ek nie geweet het hoe ernstig ’n slangbyt is of wat ’n mens moet doen nie, maar gelukkig was ’n gids saam wat die slang geïdentifiseer het.”

Die hospitaal in Hoedspruit waarheen Gerrit geneem is, het nie teengif vir slange gehad nie.

“Hulle het my op ’n drup gesit en per ambulans na ’n ander hospitaal vervoer.

“Ek is net ná sesuur die aand gebyt en het op die ou end eers net ná een die oggend in Mbombela aangekom, en hulle kon toe vir my die teengif gee,” vertel Gerrit.

’n Pofadder se pik kan dodelik wees, maar Arno Naudé, ’n slangkenner van Pretoria, sê eers ’n dag of twee later as hulle nie behandeling kry nie.

“’n Pofadder se byt breek weefsel af, maar dit duur eers omtrent vier uur voor werklike weefsel skade plaasvind. Die gif maak jou bloed dun en jou bloed sukkel om suurstofryke bloed na jou organe te vervoer. As iemand van ’n pofadderbyt doodgaan, is dit omdat hul organe ingee,” sê Arno.

Arno vertel ’n mens moet so gou moontlik die teengif kry om weefselskade te voorkom. “Die mens moet ook binneaarse vloeistof ontvang omdat ’n bytplek baie kan swel.”

Gerrit vertel hoewel dit al ses dae ná die pik is en sy voet nog ietwat geswel is, lyk dit of daar geen ernstige weefselskade is nie.

Foto: Verskaf
Gerrit se voet lyk nou baie beter
Foto: Verskaf
Gerrit se voet lyk nou baie beter

“Ek is baie dankbaar, want só ’n ding kan maar lelik raak. Ek het nog pyn, maar daar is nog geen verkleuring van my vel (wat op weefsel wat doodgaan kan dui) nie.

Gerrit sê hy is dankbaar vir die medici en die vriende wat hom so vinnig gehelp het. 

Arno sê ’n pofadder en ’n nagadder lyk baie eenders. Hier is sy raad as jy gepik word.

  • Kom weg van die slang af omdat hy weer kan pik.
  • Probeer ’n foto neem van die slang sodat medici kan bevestig of dit ’n pof- of nagadder is, net ’n pofadder het teengif nodig.
  • Moenie die ledemaat afbind nie anders bly die gif gekonsentreerd en daar sal veel erger weefselskade wees.
  • Bel die naaste hospitaal en hoor of hulle teengif het, anders moet jy na ’n ander een ry wat wel teengif het.
  • Hou die ledemaat effens hoër as jou hart maar nie só dat die bloedtoevoer sleg is nie.
  • Die persoon moet teengif en ’n drup kry.

 Arno sê weefsel skade sal binne die eerste vyf dae duidelik word