In Maart 2004 was Aniek en haar gesin met vakansie langs die Palmietrivier naby Kleinmond in die Wes-Kaap toe ’n foutiewe verbinding op 'n gassilinder 'n brand veroorsaak.

Aniek het 95% brandwonde opgedoen, en haar pa, Paul, omtrent 40%.

Hoewel die dokters haar ’n 20%-kans op oorlewing gegee het, staan sy vandag sterk as ’n jong vrou wat haar nie laat onderkry deur die brandwonde aan haar gesig nie.

Inteendeel. Sy gebruik haar talent as kunstenaar om haar trauma aan die wêreld bloot te stel deur die Skin Deep-uitstalling wat van 12 Februarie  tot 9 Maart in Gallery One11 in Kaapstad gehou word. 

“Ek wil vir mense sê ’n normale mens is agter die littekens. Daar is ’n normale jong vrou wat deur ’n moeilike ding is en dat 'n mens eintlik verby dit moet kyk of ’n manier moet vind om deur dit te sien,” sê Aniek (23), wat verlede jaar 'n graad in visuele kuns aan die Michaelis-kunsskool verwerf het.

Care, Aniek
Care-portret deur Aniek. Foto: Verskaf

Aniek gebruik selfverteenwoordiging in haar fotografiese kunswerke.

Sy verduidelik dit is haar manier om uiting te gee aan opgekropte emosies wat sy so dikwels binne gehou het.

“Ek wil mense bewus maak van die uitdagings – hoe moeilik dit is om rond te loop en te weet jy lyk anders as ander mense en jy weet nie hoe mense gaan reageer nie. Ek wil insig gee in trauma, in hoop en om mense te inspireer,” sê Aniek.

Die Duitse kunstenaar SaySay.Love (56) wat die uitstalling aanbied, het juis besluit om met Aniek saam te werk omdat daar ’n spesiale band is tussen die kunswerke wat hulle uitstal. 

SaySay.Love
SaySay.Love is gebore met 'n toestand wat maak dat hy gedeeltelik blind is in sy regteroog. Foto: SaySay.Love
SaySay.Love
SaySay.Love se portret getiteld 'Kathrin'. Foto: Gallery One11
SaySay.Love
SaySay.Love se portret getiteld 'Carla'. Foto: Gallery One11

“Die portrette wat ek geskep het vir die uitstalling kom van ’n rou plek af,” sê Say Say.Love, wat van geboorte af nie die vermoë het om in 3D te sien nie en gedeeltelik blind is in sy regteroog.

“Skin Deep bestudeer psigosomatiese en vlesige lae van vrees en pyn.

"Aniek se vermoë om haarself in diep alchemiese drome uit te druk, kom in haar kuns deur. En op ’n onbeplande vlak word haar storie ook deur my skepping gevoel,” sê hy. 

Die opbrengs van SaySay.Love se kunswerke by die Skin Deep-uitstalling sal aan die MAD Leadership Foundation geskenk word. 

Ekstra bronne: IOL, Gallery One11