Hy kon sy oë nie van Sharmayne afhou toe sy in Augustus vanjaar die eetsaal van die Interhome Care-versorgingsoord in Roodepoort ingebring word nie, vertel Alice Goosen, Willie se suster.

Op Willie se gesig het sy dit gesien: daardie glimlag wat jare gelede in ’n wrede ongeluk van hom gestroop is.

“Daar was skielik ’n glinster in sy oë. ’n Mens kon dit nie glo nie – jy kon dadelik sien hoe sy gesig ophelder,” onthou sy oor Willie se ontmoeting met Sharmayne.

Die ongeluk waarin Willie sy motor sowat 20 jaar gelede gerol het, het hom byna sy lewe gekos. En hoewel hy herstel het, is hy sedertdien verlam met ernstige breinskade. Hy kon nog nooit weer praat of skryf nie.

Hy is in die versorgingsoord opgeneem kort ná die dood van sy pa, Fred sr., wat in 2015 weens ’n hartaanval dood is. Fred sr. was sy primêre versorger.

“Dit was vir ons altyd die verskriklikste om ons boetie só te sien . . . hulpeloos en magteloos. Hy kan niks self doen nie. En dan kan ’n mens nie ophou dink aan hoe hy was nie; hoe gelukkig hy voorheen was nie. Dit breek jou hart. Maar dis asof dit bestem was dat hy Sharmayne ontmoet. Asof hulle spesiaal oor mekaar se paaie gestuur is,” vertel Alice.

Sharmayne en Willie
Verloof! Die verliefde paartjie drink vonkelwyn op hulle gelukkige dag. Foto: Verskaf

Want daardie dag van hul ontmoeting kon die tweetjies byna nie hul hande van mekaar afhou nie.

“Sharmayne het spesiaal versoek om langs Willie te gaan sit,” vertel Fred jr., Willie se broer.

“En toe spat die vonke: Hulle het begin giggel en vir mekaar glimlag – en sedertdien het hulle nog glad nie opgehou nie.”

Willie en Sharmayne het selfs ’n spesiale manier om te kommunikeer, vertel Fred.

“Willie kan nie praat nie en Sharmayne kan nie hoor nie. Maar dit keer hulle nie.

Sharmayne skryf gereeld iets op papier, wys dit vir Willie en hy reageer dan met handgebare. Maar soms is dit nie eers nodig nie. Dis asof sy hom beter as enigiemand anders verstaan. Sy weet wat sy behoeftes is – wanneer hy hartseer is, wanneer hy iets benodig het. Dis wonderlik.”

Sharmayne en Willie
Sharmayne en Willie. Foto: Verskaf

Hulle het sommer gou nadat hulle ontmoet het, besluit hulle wil trou, vertel Alice weer.

“Hulle wil man en vrou wees, en ons ondersteun hulle al die pad,” vertel sy trots.

Hul huwelikseremonie word op 16 Desember by die versorgingsoord gehou. Die huwelik tussen die egpaar sal egter nie wettiglik erken word nie omdat Willie volgens wet nie kan toestemming gee tot ’n troue nie weens sy onvermoë om te kommunikeer.

“Eintlik is dit eerder maar ’n viering van hul liefde vir mekaar. Twee stukkende mensies wat mekaar gevind het. En saam is hulle heel en gelukkig.”