In hierdie stadium word vermoed daar was 31 passasiers aan boord toe die tragedie afgespeel het. Sewe passasiers, van wie een ernstig beseer is, word in ’n nabygeleë hospitaal behandel.

Die amfibiese tuig, wat as boot én landvoertuig ingespan kan word, was een van twee wat nog op die meer was. Die tuig wat gesink het, kon nie daarin slaag om die sterk wind die hoof te bied nie en is teruggedryf tot waar dit gesink het.

Stormsterk winde van 112-130 km per uur en swaar reën het die tuig neus eerste in die onstuimige water laat duik. Volgens Rachel Zerby, wat in die omgewing kampeer het, het die storm baie skielik opgesteek.

Talle bome is ontwortel en kragkabels is beskadig.

Passasiers op die tweede boot het die oewer genadiglik veilig bereik.

Doug Rader, ’n polisiebeampte van Misssouri, het gesê die soektog sal onverpoos deur die nag en oggend voortduur.

Die tuig staan as ’n "duck boat" bekend en is baie gewild onder toeriste, wat dekades reeds toere in dié tuie onderneem.

Dis in die Tweede Wêreldoorlog deur die Amerikaanse weermag ingespan om ammunisie, voorrade en toerusting na troepe wat op die strande was, te neem.

Nagenoeg 21 000 van die amfibiese tuie is vervaardig en tot in die 1970’s het onder andere die Britse weermag nog die tuie benut.

Destyds is daar na dit as ’n DUKW verwys, wat gou in die volksmond die "duck" geword het.

Een van die bekendste gesigte van Missouri is beslis die grasieuse stoomboot, die Branson Belle, wat ook in die video gesien kan word tydens die rampspoedige toer.

Bronne: washingtonpost.com, kansascity.com, bbc.co.uk